Johannes 19:1-16
Die grootste drama van alle tye ontvou - ‘n drama wat ruk aan elke mens wat dit beleef se binneste. Daar is vier partye in hierdie aangrypende drama – nee, vyf! In die hoofrol sien ons vir Jesus, die Koning van die heelal. Hier lyk hy gladnie na enige soort heerser nie - verslae, uitgeput, in boeie, skynbaar totaal magteloos. Teenoor Hom staan een van die magtigste manne op aarde, die man wat totale beheer het oor die ganse Judea. Sy woord is wet en hy kan maak en breek soos hy wil. Selfs die koning swig voor sy blaf! Maar ook hiér is alles nie wat dit op die oog af lyk nie, want onder daardie klipharde dop skuil ‘n bang en bitter onseker mens.
Die derde karakter is eintlik ‘n groep - die vloekende, spottende, wrede, klipharde, bang-vir-niks soldate. Hulle doen wat hulle moet en hoe meer wreedheid hulle in hulle dagtaak kan insit, hoe meer geniet hulle dit. Maar selfs die bevelvoerder onder hulle het ‘n hart iewers onder al daardie pantser.
Die vierde groep is ‘n vrome, Godvresende, wetsonderhoudende klomp manne wat op geestelike vlak die volk van Israel lei soos ‘n herder sy skape lei. Dag-vir-dag sien ons hulle in die tempel en in sinagoges, waar hulle die mense leer van God. Onder daardie skitterwit kleed van vroomheid skuil egter ‘n vuil-swart gewaad van haat, wraaksug, moord en opgekropte woede.
En die Vyfde Speler? God Almagtig! Met een enkele woord kan Hy al hierdie spelers verdelg - in rook laat opgaan. Maar Hy doen dit nie, want die grootste Verlossingsplan van alle tye moet binne enkele ure uitgevoer word. Hy laat dus toe dat elke speler sy mag, haat, wraak en wreedheid uitleef, want alleen só kan God se reddingsplan slaag.
Soos gebruiklik by alle gevangenes wat gekruisig word, word Jesus eers gegésel. As jy ooit die rolprent: “Passion of the Christ” gesien het, sal jy verstaan wat dit beteken. Ek kon daardie bloedige toneel van Jesus se géseling naderhand nie meer hanteer nie, trane het oor my wange gestroom! Stukke rou vleis is uit my Meester se rug geruk, elke keer as daardie sweep met die loodballetjies Hom tref. Die verskriklike pyn wat Hy moes verduur, is onmenslik, grusaam, wreed. Oor en oor en oor tref die hale Hom. En die soldate lag en spot en vloek. En omdat Hy nou kwansuis ‘n Koning is, moet Hy mos ‘n kroon dra - ‘n kroon van pyn wat giftige dorings in Sy kopvel inboor - dorings wat brand en die bloed deur Sy oë laat stroom. Ook die purper mantel wat spot met Sy sogenaamde koningskap, word Hom nie gespaar nie.
Die magteloosheid en besluiteloosheid van die magtige, ongenaakbare Goewerneur Pilatus, word al duideliker. Hy het gedink dat hy ál die mag in sy hande het, maar nou kom hy agter dat hy in die moeilikheid is met wát hy ookal besluit. In sy hart wéét hy dat hierdie Man onskuldig is, maar dan is daar die Jode en die Keiser, in wie se slegte boekies hy beslis nie wil kom nie. Hy probeer na alle kante toe om uit die tameletjie te kom, maar hy raak net meer en meer verstrengel in die taai gemors. En dan is daar nog hierdie voosgeslane, bebloede Man hier voor hom wat ewe kalm vir hom wil wysmaak dat hy, die magtige Pontius Pilatus, absoluut géén gesag oor Hom het nie en dat hy alleen kan doen wat hy doen omdat God dit toelaat. Watter vermetelheid! Maar sê nou net dit is waar...? Weereens probeer hy hom hier uitwurm, maar hy is magteloos!
Dan was daar die Jode. “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” weerklink hulle bloedstollende gille deur die gange van Pilatus se weelderige paleis. “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” Dit weergalm tot in die allerheiligste van die tempel waar die “vrome” priesters hulle heilige diens doen.
Dit is twaalfuur die middag. ‘n Lang, uitmergelende nag en dag van marteling, beskuldigings, hofsake, beledigings druk alreeds bitter swaar op die bebloede skouers van Jesus. Uit die mond van ‘n skare wat slegs dae tevore gejubel het: “Hosanna vir die Seun van Dawid!” kom nou die verwytende haatgille: “Vat Hom weg! Vat Hom weg! Kruisig Hom!” Op Pilatus se vraag of hy dan nou hulle Koning moet kruisig, kom die skokkende antwoord van die priesterhoofde: “Ons het nie ‘n koning nie! Ons het net die keiser.” Hulle kies die keiser - ‘n goddelose man wat hulle met ‘n passie haat, bo die heilige Hemelkoning. Skokkend! Onverstaanbaar! En so sny daardie Jode hulleself finaal van die Koning van die Jode, en so ook van God af. Tragies - uiters tragies.
Sou dit ooit moontlik wees vir God om hierdie verskriklike daad van hulle te vergewe? Ek hoor ‘n koor van stemme opgaan: “Nooit in der ewigheid nie!” Nie baie lank daarna nie, stap een van die voorbokke, ’n haatlike Fariseër na Damaskus om nóg Christene te vervolg. Daar ontmoet Saulus van Tarsus die opgestane Jesus en word hy die grootste sendeling ooit. God se vergifnis vir hom was volkome! Sit jy dalk met sonde wat jy dink onvergeeflik is? As Hy daardie verskriklike sonde kon vergewe - niemand se sonde is te groot vir Hom nie! Ook nie joune nie. Bring dit vandag nog na Hom!
Gebed:
Here, dankie dat U bereid is om selfs die grootste sonde te vergewe.