Matteus 14:13-21
Die nuus van die grusame en onverstaanbare moord op die profeet, Johannes die Doper het die gemeenskap geskud. Jesus is self ook diep daardeur getref, sovéél só dat Hy net alleen êrens wil wees op ‘n stil plek waar niemand Hom pla nie.
Dit is soms nodig dat jy jou net afsonder van die wêreld om alleen met God te kan wees, sodat jy weer perspektief op die lewe kan kry. Jesus en Sy twaalf leerlinge klim in ‘n skuit en roei na ‘n eensame plekkie. Só maklik kom hulle egter nie van die hongerige skares mense af weg nie. Toe hulle weer sien, is daar al klaar weer ‘n reuse skare wat om hulle saamdrom. Jesus se oomblik van stilte was van baie korte duur. Die nood onder die mense is groot, en daar is baie wat desperaat is om genesing te kry, maar dan is daar ook talle wat kom net om vir Jesus te hoor praat, want sy woorde is soos salf op die sielewonde.
Die twaalf manne begin onder mekaar brom. Dit word laat, en hulle is dan nou juis op so ‘n afgeleë plekkie. Waar gaan al hierdie mense kos vandaan kry? Een van die manne word afgevaardig om iets in die Meester se oor te gaan fluister, Hy moet die mense na die dorpies daar naby stuur om te gaan kos soek. Jesus laai egter die probleem vierkantig op die twaalf se eie skouers af: “Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee júlle vir hulle iets te ete.”
Die manne skrik hulle yskoud. Dis ‘n groot klomp mense hier bymekaar! Hulle maak vinnig ‘n skatting: hier is minstens vyfduisend mans! Dan het hulle nie eers al die vrouens en kinders ook bygereken nie! (Ons kan dus aanneem dat daar dalk iewers tussen tien- en vyftienduisend mense bymekaar kon wees.) Dis skrikwekkend!
Gaan reël nou maar net ’n baie eenvoudige maaltyd vir vyftien gaste, en kyk wat kos dit! Dink dan bietjie hoeveel werk jy daarin moet sit om almal gelukkig te hou. Hier het ons ’n duisend keer soveel mense! Hoe voorsien jy vir so ‘n magdom mense? Die logistieke probleme wat dit behels vir so ’n ete is astronomies, al is dit baie eenvoudig!
Jesus se dissipels raap en skraap, maar die vyf broodjies en twee vissies waarmee hulle vorendag kom is lagwekkend belaglik! Daar is nie eers genoeg vir die twaalf van hulle nie!
Jesus se reaksie? Hy dank God bloot vir die kos en begin uitdeel. Die manne se oë rek! Hulle kan nie glo wat hulle sien nie! Hulle stuur die kos met die ry af, maar dit word net eenvoudig nie minder nie! Uiteindelik is daar oorgenoeg vir almal, en die oorvloed is só groot dat hulle nog twaalf mandjies vol het wat oorbly nadat almal versadig is.
Wat presies het hier gebeur? Daar was ‘n groot nood en die manne het na Jesus gegaan vir hulp. Hulle het dééglik besef dat hulle uit eie krag niks kon doen nie. Jesus gee hulle ‘n opdrag om sélf iets te doen aan die saak - húlle moes vir die mense kos gee! Hulle het nie maar op ‘n hopie gaan sit en sê dat dit tog absoluut onmoontlik was, en dat dit tog nie eers sou help om te probeer nie! Nee, hulle het begin rondvra wie kos daar het. Hulle het met ander woorde pro-aktief opgetree. Dít wat hulle in die hande kon kry, het hulle vir Jesus gegee. Met hulle karige ou bietjie het Hy die wonderwerk laat gebeur.
Oor die afgelope klompie jare het daar oral in ons land sopkombuise opgespring. Mense het die groot nood van werkloses, armes en wesies raakgesien en besluit om te help waar hulle kon, al het baie van hulle nie eers geweet waar om te begin om die middele te kry nie. Daar is talle verhale van mense wat so ‘n sopkombuis met absoluut niks begin, en dan uitvind dat die kos en fondse om die kombuis te bedryf op wonderbaarlike wyse voorsien word. As jy egter gaan kyk watter metodes God gebruik om te voorsien, sal jy gou agterkom dat die kos en geld nie sommer maar uit die lug val nie! God vra van ons om aktief op te tree. Om ‘n voorbeeld te noem: jy sal dalk na ‘n groot supermark gaan en aan die bestuurder verduidelik wat jy besig is om te doen. Dan vra jy vir skenkings of vir kos wat nie meer in ‘n toestand is om te verkoop nie, soos groente wat begin verlep. Die wonder kom wanneer God in daardie bestuurder se hart werk en hy besluit om te voorsien. Voor jy jou kan kry is daar ‘n kettingreaksie wat jou verstom!
Die belangrike dinge om te onthou is:
1. Bring jou nood in die geloof na God sodat Hy kan help.
2. Sit sélf skouer aan die wiel en doen wat Hy van jou vra. Moenie maar net hoop dat hulp uit die lug sal val nie.
3. Glo dat God op die regte tyd en deur die regte kanale sal voorsien.
4. Dank God wanneer die “manna en kwartels” op jou neersif, dikwels uit die mees onverwagte oord.
5. Gee aan God al die eer, want alleen Hý kan voorsien, al lyk dit soms vir jou of dit uit ‘n suiwer menslike oord kom.
Gebed:
Here, vanoggend moet ons net weereens besef dat U almagtig is en dat U voorsien in al ons behoeftes. Help my asseblief om my volle vertroue in U te plaas!