Koningin vir God

20 April, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Koningin vir God

Inleiding tot die Boek Ester

Oor die boek Ester is daar ‘n verdeeldheid onder teoloë. By sommige gelowiges is daar selfs half ‘n ongemaklikheid daaroor. Hoort hierdie boek werklik in die Bybel? 

Dit wil in die eerste plek so al lyk asof Ester spesiaal geskryf is om Joodse Nasionalisme ‘n hupstoot te gee. Boonop wil dit voorkom asof die boek maar bitter min met geloof te doen het. Om die waarheid te sê, kom die Naam van die Here nie ‘n enkele keer iewers in die boek voor nie! In die 1983 vertaling word die Naam van die Here wel in Ester 9:31 genoem, maar eintlik is dit net geïmpliseer, want dit staan nie werklik direk so in die grondteks nie.

Sommige teoloë is ook skepties oor Ester nie daar was toe die Koemraan rolle ontdek is nie. Dit was die enigste boek wat nie tussen die waardevolle geskrifte was nie. Waarom? Beteken dit nie dalk dat Ester nie in die Bybel hoort nie?

Ten spyte van al hierdie argumente is dit nogtans uiters belangrik dat Ester deel van die Bybel moet wees. Die boek speel ‘n geweldige belangrike rol in die Joodse geskiedenis en hulle belewenis van feeste. Wanneer Ester en Mordegai vir die Joodse volk redding bewerkstellig, word die Purim Fees ingestel as herdenking van die gebeure. Dit word steeds vandag gedurende Maartmaand gevier.

Só belangrik is die gebeure vir die Jode, dat hulle die Hebreeuse naam vir Ester, Hadassah, aan hulle belangrike geboue en instellings koppel. Ester is vir elke opregte Joodse meisie ‘n ware rolmodel!

Maar is hierdie boek enigsins vir ons vandag vir ons as Christene van waarde? Is dit nie vir ons vandag maar net ‘n mooi storie nie?

Ester is ook vir ons as Christen-gelowiges belangrik, want die boodskap wat die verhaal uitstraal is ‘n motivering vir elke gelowige. En al word God se Naam nie pertinent genoem nie, sien ons steeds Sy almag regdeur die verhaal. Ons staan verstom wanneer ons hier weereens sien hoe God beheer het oor selfs wêreldgebeure en magtige leiers en selfs konings. Waar dinge soms totaal onmoontlik lyk, moet ons toekyk hoedat Hy die onmoontlike regkry. Dit is nie deur asemrowende wonderwerke wat God hier werk nie, maar Hy gebruik doodgewone mense. Hy gebruik ‘n ou Jood wat uit sy land verban is en iewers ver in die vreemde, weg van al sy vriende en familie in ballingskap sit in ‘n heidense land waar afgode aanbid word. God gebruik ’n weeskind wat absoluut géén status in die lewe het nie, ’n jong meisie wat deur haar oom grootgemaak is. Hierdie eenvoudige mense gebruik die Here om Sy doel te bereik. Met sulke niksseggende mense vermag Hy die onmoontlike. 

Die boodskap vir ons vandag is dat Hy steeds die gewone mense gebruik om dikwels onmoontlike take te verrig.

Die boodskap van Ester vir ons vandag, is dat ons as gelowiges dikwels bedreig voel wanneer ons verswelg word deur die dinge wat rondom ons gebeur. Toe die Kovid 19 virus ons tref, het al ons moed in ons skoene gesak. En toe grendeltyd deur die president aangekondig word, is ons geskok en verslae. Wat gaan ons doen?

Dit is in sulke tye dat ons dan bereid moet wees om die verantwoordelikheid te aanvaar wat God op ons skouers lê. Dit is dán wanneer ons in volle afhanklikheid van God kreatief moet begin dink. Ons moet ons oorgee aan die leiding van die Heilige Gees, en dan doen wat Hy van ons vra. As ons maar net bereid is, is Hy getrou en sal Hy vir ons die wysheid en krag gee deur die Heilige Gees om Sy wonder uit te voer. Daar het juis in hierdie grendeltyd wonderlike inisiatiewe die lig gesien.

Maar daar is ‘n derde rede waarom Ester in die Bybel is: die Heilige Gees het destyds die samestellers van die Bybel gelei om ook Ester deel van die Bybel te maak. En daarby berus ek my sonder om verdere vrae oor die onderwerp te vra.  Wie is ek om Sy besluit te bevraagteken?

Die verhaal van Ester speel af tydens die ballingskap, ongeveer 480 vC. In hierdie tydperk word die grootste gedeelte van die Ou Testament op skrif gestel - selfs boeke soos Genesis het hier finaal hulle beslag gekry. 

Ester is egter eers finaal verwerk en op skrif gestel in die tydperk van die Makabeërs in die tweede eeu vC. Dit was waarskynlik die laaste boek wat in die Joodse kanon ingevoeg is. Dit is dan waarskynlik ook die rede waarom Ester die enigste boek uit die Ou Testament was wat nie tussen die Koemraan rolle gevind is nie. Hierdie gemeenskap het waarskynlik nog nie Ester as deel van die Ou Testament gebruik nie, dit het eers ná hulle tyd werklik deel van die kanon geword.

Vandag is Ester ‘n opwindende en inspirerende boek om te lees. Ek wil jou uitnooi om dit saam met my te geniet.

Gebed:

Here, Ester is só 'n inspirasie vir elke gelowige. Dankie daarvoor, en maak asseblief my oë oop sodat ek U boodskap vir my daarin sal raaksien.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026