Koningin Vasti se Opstand

22 April, 2020

Ester 1:9-22

Die sosiale status van vroue was deur die eeue nog altyd vir hulle ‘n groot uitdaging. Dikwels is sy bloot as eiendom van haar man beskou en moes maak soos haar man sê. In Moslemlande het vroue absoluut géén regte nie. Kinders het dikwels dieselfde lot, en hulle word geminag.

In die koninkryk van Persië was dit daardie tyd geensins anders nie. Een vrou het egter haar voet neergesit - Koningin Vasti. Toe Ahasveros sy groot fees slegs vir manne hou, besluit sy om haar eie fees te hou vir al die vername vrouens, aangesien al die vrouens uitgesluit was.

Vasti was ‘n beeldskone vrou! Maar sulke uitsonderlike skoonheid het dikwels ook sy nadele. Kyk maar hoe word die mooiste meisies dikwels misbruik, soos skoudiere geparadeer!

En dit was presies Vasti se lot. Koning Ahasveros was baie vrolik van al die wyn, en hy wou darem ook ‘n bietjie spog met sy beeldskone vrou. Hy stuur paleisbeamptes om vir Vasti te gaan haal sodat sy voor die manne kon kom paradeer, volgens latere Joodse geskrifte sonder klere, met slegs die kroon op haar kop! Sy moes vir al die dronk manne kom wys hoe mooi Ahasveros se vrou is. Sy was dus maar net nóg een van die skatte van Ahasveros se prag en praal wat uitgestal moes word vir die wêreld om te sien hoe magtig hy was.

Wanneer Vasti hierdie boodskap kry, is sy die elegante gasvrou by haar eie onthaal. Talle vooraanstaande vroue sit daar by haar glansryke feesgeleentheid. Wat ‘n vernedering om nou voor almal aangesê te word dat sy voor die honger oë van ’n klomp dronk mans soos ‘n goedkoop straatvrou uitgestal moes word!

Koningin Vasti kom voor ‘n baie moeilike besluit te staan. Swig sy voor haar man se magsmisbruik, dan maak sy haarself goedkoop. Weier sy, dan verloor sy alles, haar aansien, haar status, dalk selfs haar lewe. Sy besluit om eerder alles te verloor as om haarself goedkoop te laat maak. Dus weier sy om die magtige koning Ahasveros se bevel uit te voer.

Wanneer die paleisbeamptes met leë hande by Ahasveros aankom, is hy woedend. Hoe kon sy vrou sy bevele minag? Vir hom was dit sékerlik ‘n verskriklike verleentheid! Al die vername manne sit gereed om die skouspel te aanskou, en nou kom en verongeluk Vasti alles. Hy roep sy raadgewers nader: “Wat moet ek doen?”

Dan tree een van die slim raadgewers na vore. Hy verduidelik omslagtig dat hierdie saak eintlik baie groter is as wat die koning dink. “Eintlik sit ons hier met ‘n enorme staatskrisis op hande!” beduie hy. Hy begin ‘n prentjie skilder van hoe daardie vooraanstaande vroue by Vasti by hulle mans gaan skinder oor wat daar gebeur het. Hierdie storie gaan soos ‘n veldbrand dwarsdeur die hele koninkryk versprei. “Majesteit, dink net watter krisis dit nou gaan veroorsaak, want as die koning se vrou nie eers vir hom wil luister nie, wat dan van al die ander vrouens? Dit gaan ‘n reuse krisis veroorsaak oor die lengte en breedte van die Persiese Ryk, want géén vrou gaan ooit weer haar man gehoorsaam nie. Hierdie krisis moet nou onmiddellik in die kiem gesmoor word voordat dit hééltemal te laat is!”

En so word een vrou se wens om nie misbruik te word nie opgeblaas tot ‘n reuse katastrofe.

Die feit is egter dat die gesag van die koning uitgedaag word deur sy eie vrou. Ná al sy magsvertoon, weier sy vrou om na hom te luister. Wat sê dit oor sy mag oor die wêreld? Dit maak hom belaglik voor sy onderdane! Hoe moet iemand wat nie eers die mag in sy eie huis kan hanteer nie, staatsmag hanteer oor ‘n koninkryk wat strek van Griekeland tot Indië? Daardie groot mag van hom word deur Vasti ontmasker as ‘n klug! Sy groot mag is net ‘n leë dop!

Om die verskriklike krisis te probeer beredder, word Ahasveros deur sy raadgewers voorgesê om van Vasti ontslae te raak. Sy durf nie langer as Koningin van hierdie koninkryk dien nie! Sy moes vervang word deur iemand anders wat haar dalk beter sou gedra. Hy word verder versoek (eintlik aangesê) om ‘n koninklike dekreet uit te vaardig wat regdeur die wêreld gestuur moes word, wat verklaar dat elke man nou baas is in sy eie huis. Hoe absurd!

Nou vra ek jou: wie het nou eintlik die mag gehad in Persië? Die koning?

Dit wil nie vir my so lyk nie! Hy was net ‘n pion in sy amptenare se hand! Boonop kon hy nie eers sy eie huis beheer nie. Wat dan van die amptenare? Het hulle al die mag gehad? Op die oog af wil dit so lyk. Maar lees ons die verhaal verder, dan sien ons dat dit eintlik God was wat in volle beheer was van die situasie. Hy was besig om dinge in plek te laat val sodat Sy verdrukte volk 'n uitkoms kon kry. God gebruik juis hierdie mense se magsbeheptheid om Sy raadsplan te laat uitwerk.

Weet dus dat selfs wanneer korrupsie en magsmisbruik seëvier, ons steeds in God kan vertrou. God is in volle beheer!

Gebed:

Here, dankie dat ek vandag kan weet dat U steeds in beheer is, al voel dit soms of alles verkeerd loop.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026