Johannes 19:17-27
In die ander drie evangelies word die kruisgebeure baie grafies beskryf. Johannes vertel egter die kruisverhaal deur slegs enkele belangrike details aan te haal en daarop te konsentreer. Ons sien byvoorbeeld dat die grootste deel van Johannes se verhaal rondom die opskrif aan die kruis draai.
Daar was destyds basies vier metodes gebruik om misdadigers tereg te stel. Hulle kon onthoof word of verbrand word. Die Joodse spesialiteit was om so ‘n persoon te stenig, met klippe dood te gooi. En dan was daar kruisiging, die wreedste vorm van teregstelling. Dit was gebruik slegs vir die mees geharde misdadigers. Die groot doel met kruisiging was om mense af te skrik sodat hulle nie misdaad sou probeer as ‘n loopbaan nie. Daarom is die kruise dan ook geplant net buite die stad, langs ‘n besige pad, sodat almal dit kon sien, amper soos ‘n lewende advertensiebord teen misdaad. Aan die kruis is dan ook ‘n nota gespyker wat die veroordeelde se misdaad beskryf. Diegene wat dit gelees het moes wéét, as jy hierdie misdaad sou pleeg, word jy óók so uitgestal!
Die Jode het vereis dat Jesus gekruisig word, maar Pilatus het die laaste sê gehad in die saak: Hy het die nota oor Jesus se misdaad geskryf. Sy misdaad? “Die Koning van die Jode!” Net dit! Natuurlik was die Joodse leiers bitter ontsteld hieroor, want hier word hulle nou direk betrek by die hele smerige affêre. “Verander asseblief die klagstaat,” het hulle by Pilatus gepleit. “Skryf liewer dat Hy gesê het dat hy die Koning van die Jode is.” Hulle redenasie was dat Jesus beslis nie hulle Koning was nie.
Jy sal onthou, dat tydens Jesus se verhoor, Pilatus vir Hom gevra het of Hy dan wél ‘n Koning is? Jesus se antwoord was ‘n onomwonde: “Ja!” Pilatus het dit ter harte geneem! Jesus wás ‘n Koning en daarom móés Hy sterf. “Wat ek geskryf het, het ek geskryf!” het Pilatus dus voet by stuk gehou en daarmee was die saak afgehandel.
Waarom is hierdie opskrif vir Johannes so belangrik? Soveel so dat hy selfs die ander dramatiese gebeure by die kruis afskeep om hierdie een tuis te bring?
By die kruis sien ons dat die soldate oor die klagstaat gespot het. Die Jode was van mening dat dit nie waar was nie. Die regter het egter bevind dat dit wél die waarheid was! Jesus sterf dus as Koning van die Jode.
Dit laat jou met ‘n kwelvraag, want as die Jode sou ontken dat Hy hulle koning is, dan moet daar mos ‘n ander “Joodse volk” wees, nie waar nie? Maar wie is hierdie volk? In Joh 3:16 sien ons dat God die wêreld kom red het en nie net die Jode nie. In Joh 4 lees ons van die insident waar Jesus met die Samaritaanse vrou by die put gesels het. Tot die afgryse van Sy dissipels het die Samaritane daarna in hulle hordes opgedaag om Jesus te kom ontmoet. Dan kom ons tot die gevolgtrekking dat selfs die sogenaamde “onrein” Samaritane deel is van God se volk! Nie baie lank na hierdie gebeure nie, sien ons die eerste heidene wat deel word van hierdie volk en kort voor lank was mense van alle volke, kulture en nasies deel van die Koninkryk! En die Koning? Jesus! As die Jode dit nie so wou aanvaar nie, was hulle bloot nie meer deel van God se volk nie en dus nie meer kinders van Abraham nie. Lees gerus maar weer Johannes 8.
Soos gebruiklik, was die gekruisigde se klere verdeel onder die soldate as ‘n soort beloning. Die lot was gewerp oor Sy onderkleed, sodat Psalm 22:19 in vervulling kon gaan. God gee aandag, selfs aan die kleinste detail! Toe Dawid hierdie Psalm geskryf het, was Jesus se kruisdood alreeds lankal in beplanning! Dit was beslis nie iets wat sommer op die ingewing van die oomblik gebeur het nie en elke klein detail was haarfyn beplan.
Johannes noem die insident waar Jesus vir Maria, Sy moeder, aan “die dissipel wat Jesus liefgehad het” (Johannes?) toevertrou. Dit illustreer eintlik prakties wat Jesus kom doen het. Eintlik moes Sy broer haar versorg het, maar Jesus stel iemand anders aan - ‘n geestelike broer. Wanneer Hy Johannes as Maria se seun verklaar, wys Hy dat dit nie die aardse gesin is wat belangrik is nie, maar eerder die hemelse. Sowel die “geliefde dissipel” as Maria word nou deel van hierdie hemelse gesin waarvan Jesus ook deel is - die gesin wat Hy op aarde kom stig het. Wat is die een groot kenmerk van hierdie gesin? Liefde. Prakties word dit uitgespel, want onder andere beteken dit dat hulle vir mekaar omgee en mekaar versorg. Die “geliefde dissipel” het dan ook die daad by die woord gevoeg en Maria in sy huis ingeneem.
Ek ondervind daardie wonderlike, onbaatsugtige liefde prakties in my eie lewe. Eers die dag as jy in nood verkeer, sien jy hoe medegelowiges vir jou omgee en met hoeveel liefde hulle jou oorlaai, sonder om iets terug te verwag. Ek het die afgelope jare elke dag net verstom gestaan as ek die omgee-liefde van medegelowiges teenoor my gesin in Jesus ervaar het.
Deur liefde prakties uit te leef, kom jy nie alleen die liefdesgebod na nie, maar daar gebeur ook iets wat nog baie belangriker is. Jy weerkaats die liefde van Jesus! Jy is basies soos ‘n spieël, waarin mense nie vir jou nie, maar vir Jesus sien. Dit is immers wat belangrik is in die lewe, dat Jesus verheerlik moet word!
Gebed:
Here, dankie vir wonderlike gelowiges wat U liefde daagliks uitleef in my lewe. Help my asseblief om ook dieselfde te doen.