Ester 2:1-7
Koning Ahasveros is soos ‘n beer met ‘n seer kop. Het hy fout gemaak om na sy “slim” amptenare se raad te luister? Vier jaar nou al sit hy sonder sy vrou sedert daardie rampspoedige partytjie toe hy vir Vasti die huis uitgejaag het. En nou verlang hy na haar! Die ergste is dat hy niks aan die saak kan doen nie! Dis gedane sake! Geskryf in die wetboek van die Meders en Perse. O ja, hy hét hom bloedig vir haar vererg toe sy nie wou pronk voor die manne nie. Maar hy moes nie sy ore uitleen vir sy amptenare se raad nie. Hy luister altyd na hulle raad! Vasti, liewe Vasti - waarom moet die lewe so wreed wees? Hy wens so dat hy haar net weer in sy arms kan vashou........
In die hofsale van koning Ahasveros se paleis is die amptenare bitter bekommerd. Dit is nou al maande lank wat die koning net daar sit en homself bejammer. “As ons nie baie gou iets doen nie, gaan ons koninkryk ten gronde!” fluister die manne vir mekaar. “Wat gaan ons maak om weer die ou vrolikheid op sy gesig te kry?”
“Ons het jare laas ‘n behoorlike fees gehad. Ahasveros is deesdae ‘n regte ou suurknol!”
“Kan ons nie weer vir Vasti terug kry nie?” wil een weet.
“Nooit! Vasti is geskiedenis - as ons haar terugbring in die prentjie gaan ons soos ‘n spul gekke lyk.”
“Die groot geheim is dat ons dringend ‘n nuwe jong vrou in die koning se lewe moet inbring. Die probleem is net: hoe maak ons om iemand te kry wat na sy smaak is?”
“’n Skoonheidskompetisie!”
“En dan? Wat gaan jy daarmee bereik?”
“Die ding werk so: ons stel manne regdeur die koninkryk aan om die mooiste meisies te soek, en dan moet die koning vir hom een uit die bondel kies. Eenvoudig!”
En so kom staan ‘n afvaardiging van paleisbeamptes voor koning Ahasveros. Hulle verduidelik dat hy dringend ‘n vrou in sy lewe nodig het. Hulle sal vir hom die héél mooiste vroue in die koninkryk gaan soek, dan kan hy vir hom een kies.
Sommer dadelik is Ahasveros in sy noppies met die idee. “Waarom kon ek nie sélf aan so ‘n briljante idee dink nie?” wonder hy in sy stilligheid. “Begin sommer dadelik!” por hy die amptenare aan. “Kan ek môre al die eerste meisies sien?” Hy is nou soos ‘n klein seuntjie wat nie kan wág om sy presente te kry nie.
“Nee Majesteit, ongelukkig kan dit nie so werk nie, want dis nie só maklik nie! Dit gaan ‘n lang proses wees, want daar sal eers manne aangestel moet word, en dit gaan maande neem om almal georganiseer te kry. ‘n Regering het mos maar altyd ‘n klomp rompslomp! En dan werk jy boonop met rou materiaal. Hierdie meisies moet eers voorberei word vir die paleis. Hulle sal almal op ‘n streng dieet moet gaan en allerhande soorte skoonheidsbehandeling kry voordat hulle goed genoeg sal wees vir die koninklike hof. Die eerstes sal eers oor ‘n jaar gereed wees!” En so word die héél eerste Mej. Wêreld kompetisie geloods.
Ahasveros is skoon depressief! Hy was nog altyd gewoond dat hy dadelik absoluut alles kry wat sy hart begeer. En nou moet hy wag! Sy amptenare maak nie reg met hom nie.......
Ons toneel verskuif nou na ‘n totaal ander situasie, in ‘n armoedige huisie, dié van die Jood, Mordegai. Hy is destyds in ballingskap weggevoer uit sy geliefde vaderland. Nou sit hy in die vreemde, tussen vreemde mense en onder ’n vreemde koning, sonder ‘n huis en sonder ‘n land. Maar hy het darem nog een groot vreugde in sy lewe oor, die pragtige meisie na wie hy omsien. Sy is nie net mooi nie - sy is sommer báie mooi! Sy laat al die jong manne se koppe draai, en Mordegai is baie trots op hierdie mooi meisiekind. Hadassa, oftewel Ester, ‘n weeskind, se ouers is albei dood, en Mordegai het die taak gekry om haar groot te maak. Hy het haar aangeneem as sy eie dogter. Ester is voorwaar ‘n dogter om op trots te wees!
Die nuus van die groot skoonheidskompetisie bereik ook Mordegai se ore. Sou sy beeldskone meisiekind dalk ‘n kans staan om in hierdie kompetisie te kan deelneem? Maar dan besef hy dat hulle mos Jode is, en ‘n Jood het g’n status in hierdie vreemde land nie. Dit is dus vir Mordegai ‘n groot verrassing as die kompetisie-amptenaar vir Ester raaksien. Sy is dadelik baie opgewonde, maar wat gaan Pa Mordegai hiervan sê?
Wanneer sy vir Mordegai vertel dat sy ontbied is na Susan vir die kompetisie, kan hy nie sy opgewondenheid beteuel nie. Maar dan raak hy ernstig: “Ester my kind, jy moet altyd onthou waar jou wortels is. Onthou: jy is deel van die volk van God. Maar jy mag vir niemand vertel dat jy ‘n Israeliet is nie, want dit sal jou beslis benadeel.”
En so vertrek Ester na die glansryke stad Susan. Wat sal alles daar op haar wag?
Gebed:
Here, U het ‘n wonderlike plan vir Ester se lewe gehad. Ek weet ook dat U ‘n wonderlike plan vir my lewe het. Hou my asseblief altyd bewus daarvan.