Koelbloedige Moord!

23 January, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Koelbloedige Moord!

 

2 Samuel 11:14-27

VIDEO | OUDIO

Urija stap met sy brief terug na die slagveld, salig onbewus van die inhoud daarvan. Vir al wat hy weet, is dit dalk ‘n aanstelling van Koning Dawid vir ‘n hoër offisiersrang. Hy oorhandig die brief met ‘n glimlag aan Joab.

Joab breek die seël en dan raak sy gesig wasbleek want die inhoud skok hom tot in sy siel: “Dit is niks anders as koelbloedige moord nie!” Met ‘n swaar hart stuur Joab vir Urija met ‘n “spesiale taakspan” om héél voor die moeilikste deel van die vyand aan te pak, in opdrag van Dawid. Dis ‘n harde en bloedige geveg en etlike Israeliete sneuwel - ook Urijah.

Na die geveg stuur Joab ‘n boodskapper na Dawid. Sy opdrag oor presies hoe hy die nuus aan die koning moet oordra, moet hy noukeurig nakom. Die boodskapper verstaan nie mooi waarom hy nou juis sy boodskap op só ‘n wyse aan Dawid moet gee nie, maar hy is mos maar net ‘n boodskapper - hy sal dit vertel presies net soos Joab beveel het.

Koning Dawid luister aandagtig na die boodskapper se relaas: “Die vyand het die oorhand oor ons gekry en ons tot in die oop veld gedruk.” Dawid vererg hom oor die onbeholpenheid van sy soldate. As hy daar was sou dit nooit gebeur het nie! Maar die man vertel verder: “Ons het hulle toe darem weer teruggedryf tot by hulle stad. Maar toe kom die moeilikheid wat hulle nie voorsien het nie - die manne daar op die stadsmure het op ons losgebrand met pyl en boog en baie van ons manne het gesneuwel.”

Nou kook dit in Dawid: hulle moes mos geweet het dat die vyand hulle kon raakskiet! Hulle moes versigtiger gewees het!

“En...... en u dapper offisier, Urija het ook daar gesneuwel....” stotter die man dit uit. Hy verwag ‘n uitbarsting van Dawid want hierdie is die éintlike slegte nuus! Urija was een van die grotes!

Skielik swaai dawid se bui om en hy is kalm: “Toemaar, gaan sê vir Joab dat sulke dinge maar gebeur - mense sneuwel wanneer jy oorlog maak. Gaan terug en veg dapper en praat asseblief vir Joab moed in.” Die boodskapper kan dit nie verstaan nie. Hy het ‘n ontploffing verwag!

Wanneer die diensmeisie voor Batseba se deur staan, sien Batseba sommer dadelik dat daar slegte nuus is. “Dis jou man, Urija…..” Die meisie probeer die nuus sag maak: “Hulle vertel dat hy baie dapper geveg het, maar...... die vyand was te sterk - hy het gesneuwel.”

Batseba voel hoe die bloed haar kop verlaat. Sy sak inmekaar. “O, Urija, my man....” snik sy. Hoe lief was sy nie vir hom nie - hoe trots was sy nie op hom nie! Hy het sy pligte as soldaat só ernstig opgeneem. Dit is ‘n bitter routyd wat Batseba deurgaan. Die vroue van Jerusalem kom om haar te troos, maar haar hart is verskeur. Haar dapper man is dood......

Wanneer dinge bedaar het en Batseba se routyd verby is, ontferm die koning hom oor hierdie arme weduwee van sy top-soldaat. Hy bied haar ‘n heenkome aan en sy neem haar intrek in die paleis as Dawid se vrou.

Hierdie droewige verhaal laat ‘n paar vrae in ‘n mens se gemoed. Op die oog af is Dawid die enigste skuldige in die hele verhaal. Hy het sy oë laat dwaal en toe doen hy die onbetaamlike om vir Batseba, ‘n getroude vrou na die privaatheid van sy slaapkamer te nooi met voorbedagte rade. Was Batseba gewillig, of moes sy maar net eenvoudig toegee aan Dawid? Jy durf mos nie weier as die koning iets van jou vra nie? As dit die geval was, dan was dit niks minder nie as verkragting! En natuurlik is Urija se dood koelbloedige moord – iets wat deeglik deur Dawid beplan is!

Daar is egter ook ‘n ander moontlikheid: Het Batseba nie dalk doelbewus vir Dawid uitgelok nie? Het sy nie dalk geweet dat hy om só ‘n tyd gewoonlik op die dak wandel nie? En dat sy doelbewus gebad het waar hy haar kon sien nie? Om deur die koning raakgesien te word, sou mos beteken dat sy die kans sou staan om koningin te kon word. Het sy nie dalk help beplan aan Urija se moord nie? Sy was uiteraard in die moeilikheid en sy moes ’n plan maak! Dit sou haar medepligtig maak aan Urija se dood en dit sou ‘n totale ander prentjie skets. Dit is egter slegs spekulasie. Jakobus 1:14,15 som hierdie verhaal mooi op: “14 Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. 15 Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.”

Alles het begin met ‘n begeerte en dit het Dawid (moontlik ook Batseba?) oorweldig sodat dit uitgeloop het op owerspel en moord. Dit het ook uiteindelik die dood beteken van die kindjie wat gebore is. Tragies! Martin Luther het gesê: “Ek kan nie verhoed dat ‘n voël oor my kop vlieg nie, maar ek kan verhoed dat hy in my hare nesmaak.” As versoekings dreig - draai weg voordat dit ‘n begeerte word!

Gebed:

Here, help my asseblief om weg te draai van versoekings af en om sterk te staan!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026