Handelinge 15:1-21
Die gemeente in Antiogië was baie opgewonde oor al die dinge wat op Paulus en Barnabas se reis plaasgevind het, en verál oor die groot aantal heidene wat nou ook gelowiges is.
Maar op ‘n dag begin dinge versuur. Hulle kry besoek van ‘n paar gelowiges uit Judea, en hierdie manne was nie gelukkig oor wat hulle in Antiogië aantref nie. Gou kom hulle agter dat Moses se wette nie meer streng onderhou word nie. Die bekeerlinge uit die heidendom word nie eers meer besny nie! Dis ‘n onding! “As julle nie besny word ooreenkomstig die gebruik van Moses nie, kan julle nie verlos word nie!” Die manne is omgekrap!
Hierdie is 'n baie teer en ongemaklike sakie, want die meeste van hulle is uit die heidendom, en slegs enkeles is ooit besny. Beteken dit dan dat hulle almal verlore is? Wat dan van Jesus se verlossingswerk? Beteken dit dan niks?
Dan staan Paulus op: “Nee broers, julle het dit baie beslis verkeerd. Hoe kan besnydenis jou redding beteken?”
“Ja,” beaam Barnabas, “ons kan nie van heidene Jode maak nie!”
“Wel, ek sê nou vir jou dat die wetboek wat Moses van God gekry het baie duidelik sê dat die man wat nie besny is nie, nie deel van die volk van God kan wees nie. Ons as gelowiges is immers nou die nuwe volk van God!”
'n Heftige stryery breek uit en verwyte word oor en weer geslinger, totdat daar uiteindelik totale wanordelike chaos heers. Dan staan Barnabas op. Wanneer sy groot basstem deur die vertrek weergalm, bly almal outomaties stil. “Broers, só gaan ons nooit in der ewigheid 'n antwoord kry nie! Daar is net één uitweg: ons moet hierdie kwessie na die kerkleiers neem om uit te sorteer!”
Hiermee stem almal saam, en weereens is dit Paulus en Barnabas wat deur die gemeente afgevaardig word om die saak na die leiers in Jerusalem te neem. Daar word 'n paar ouderlinge afgevaardig om hulle te vergesel en saam te praat.
Hulle reis neem hulle deur Fenisië en Samaria, en oral langs die pad tref hulle gelowiges aan. So ver as wat hulle gaan, vertel die twee van die wonderlike dinge wat gebeur het tydens hulle sendingreis deur die heidenlande. Die mense hang aan hulle lippe, en hulle is baie opgewonde oor die talle heidene wat tot bekering gekom het. Uiteindelik, na 'n baie lang staptog kom hulle in die mooi stad Jerusalem aan, waar die kerkleiers alreeds op hulle wag. Hulle word hartlik verwelkom deur die hele gemeente, die apostels en al die ouderlinge. Sommer dadelik moet hulle begin vertel van alles wat hulle deurgemaak het. Oopmond sit almal en luister wanneer Paulus vertel hoedat hulle met klippe “doodgegooi” is, en van die talle wonderlike verhale wat hulleself afgespeel het in die onbereikte lande.
Maar nie almal is só opgewonde nie. Daar sit 'n paar manne wat voorheen Fariseërs was, en wat met groot kommer luister na Paulus en Barnabas se verhale. Wanneer Paulus asem skep, staan een kêrel op: “Hulle moet besny word!” sê hy met 'n krom vinger wat dramaties geswaai word.
“En hulle moet die wet van Moses nakom!” beaam sy buurman. Skielik breek chaos los en almal begin gelyk stry oor hierdie netelige saak.
“Broers! Broers!” maak Petrus die spul stil. “Kom ons laat dit aan die leiers oor om hierdie saak uit te klaar.”
En so kom al die apostels en ouderlinge bymekaar om die netelige saak uit te praat en antwoorde te soek. Die bespreking hou aan tot in die vroeë oggendure, sonder dat daar 'n oplossing kom. Dan staan Petrus op: “Broers, julle weet mos dat God my gekies het om die evangelie aan die heidennasies te verkondig.”
Ja, almal is dééglik bewus daarvan. En dan gaan Petrus voort om te verduidelik dat daar mos nie onderskeid gemaak kan word tussen die Jode en die heidene nie, en dat daardie heidene se harte ook gereinig is deur die geloof. “Nou waarom wil julle dan God se geduld beproef deur 'n juk wat ons voorouers nie eers kon dra nie op die heidene se nekke te plaas?”
Daar sak 'n skuldige stilte toe oor die manne. Dan sê Petrus saggies: “Ons kan alleen deur die genade van die Here Jesus gered word. Onthou dit!”
Dan staan Jakobus op: “Ek stem saam, ons moet dit nie moeilik maak vir die heidene wat hulle tot God bekeer nie.” Hy stel dan voor dat daar wél 'n paar voorskrifte vir die heidene gegee moet word. “Kom ons sê dat hulle nie vleis sal eet wat aan afgode geoffer is nie, en dat hulle onsedelikheid moet vermy. Ons sê ook dat hulle nie bloed moet eet nie of vleis van diere wat verwurg is nie. Broers, hierdie is immers basiese voorskrifte wat al baie jare geld. Hoe dink julle?”
Dikwels het ons ook vandag “voorskrifte” wat ons op mense wil afdwing, soos hoe jy moet aantrek wanneer jy kerktoe gaan of watter soort liedere jy tydens 'n erediens mag sing. Slegs 'n geordende leraar mag die nagmaal bedien (waar staan dit in die bybel?) en slegs 'n leraar mag sy hande oplig om die gemeente te seën. Sulke voorskrifte en baie ander soortgelykes plaas 'n demper op die uitleef van jou geloof.
Gebed:
Here, maak ons asseblief vry van mensgemaakte voorskrifte wat ons Christelike vryheid aan bande lê!