Klaaglied oor die Onreg

3 September, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Klaaglied oor die Onreg

Habakuk 1:1-4

Die openingswoorde van hierdie klein boekie is vir ons van uiterste belang. Die vraag is of Habakuk se betoog maar net ‘n gesanik, ‘n weëklag is oor sy lewensomstandighede? Of is dit dalk ‘n verwyt omdat hy gebid het dat die Here moet ingryp, en toe gebeur dit nie soos hy gehoop het nie?

Nee, allermins! Ek en jy, liewe leser, kan verseker wees dat die dinge wat ons in hierdie manuskrip gaan lees, direk van God almagtig af kom. Daarop kan ons staatmaak! Hierdie is nie maar die totaal onbekende profeetjie, Habakuk se gekyf nie. Dit is ‘n uitspraak van die Here Homsélf. Habakuk is slegs die mondstuk om God se woorde aan ons oor te dra. Vir Habakuk was dit ‘n wonderlike openbaring. Vir my en jou kan dit eweneens ’n lig wees wat vir ons opgaan, veral as daar dinge in die lewe is waarmee ons worstel, en waarvoor ons nie antwoorde het nie.

Herken jy dalk die woorde in vers 2: “Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here?” Was dit nie dalk al so dikwels jou eie worsteling met die Here nie? Is dit nie moontlik op hierdie oomblik jou verwyt aan God nie? Sékerlik het jy dit al ervaar, dat terwyl jy bid, dit vir jou voel asof God Hom afgesluit het van jou af. Dat Hy nie eers luister na jou smekinge nie? Is Hy ooit nog daar? As jy dalk so voel, hoef jy nie alleen te voel nie. Jy is nie die enigste met so ‘n probleem nie! Elke gelowige gaan die een of ander tyd deur so ‘n krisis in sy lewe. Elke gelowige wonder soms of God ‘n werklikheid is. Elke gelowige bekla iewers in sy lewe sy lot voor die Almagtige. En daarom kan ek en jy ons beslis identifiseer met die klaaglied wat oor Habakuk se lippe borrel.

Maar waaroor gaan Habakuk se klaaglied? In die Bybel kom daar tipies 2 soorte klaagliedere voor: die “hoe-lank” klagtes, en die “waarom” klagtes. Die Psalms wemel van hulle: Ps 10, 13, 22, 28, 31 en 88. Dan is daar natuurlik ook Jeremia met sy Jermiades asook Habakuk. Dit gee uitdrukking aan die nood wat die klaer beleef. In vers 2 en 3 gaan Habakuk se klag oor die verskriklike onreg. ‘n Mens lees daarin radeloosheid, wanhoop en vertwyfeling. Die arme man roep God aan, maar al wat hy hoor is ‘n oorverdowende stilte. “Hoe lank nog? Waarom?” snik hy. Maar vir hom voel dit asof God maar net ‘n onbetrokke Toeskouer is. Het jy nie ook al so gevoel nie? Eintlik is dinge vir Habakuk nog veel erger: die Here is die Een wat veroorsaak dat Habakuk hierdie dinge raaksien! Oral om hom sien hy geweld as hy net sy oë oopmaak, en onreg, ellende en onderdrukking. Mense baklei met mekaar en hulle twis. In kort, die ganse samelewing is in chaos gedompel! Van menseverhoudinge is daar géén sprake nie. Sosiale én etiese norme is by die venster uitgegooi.

Habakuk se skouers hang! Die samelewing is siek! En die ergste is dat dit vir hom lyk asof God totaal passief, of erger dalk nog, gans en al afwesig is!

En wat is die gevolge hiervan? Wanneer ‘n samelewing so verskriklik siek word, raak God se stem stil. Mense hoor nie meer dat Hy praat nie, gevolglik het die wet nie meer krag nie. Daar geskied géén reg meer nie! Dit is ‘n bose kringloop, want dit veroorsaak dat die slegte mense die oorhand kry oor die goeies. Die reg word verkrag! En hoe meer dit gebeur, hoe erger word die onreg, ellende, onderdrukking en al die ander dinge wat daarmee saamgaan.

Habakuk se worsteling met die Here gaan oor egte lewensvrae van sy tyd. Dit gaan ook oor presies dieselfde lewensvrae wat ek en jy vandag elke dag beleef. Kyk maar rondom jou, en jy sien elke liewe ding wat Habakuk noem in ons eie samelewing. Hierdie klaaglied kan net sowel vandag, in die jaar 2018 nC geskryf gewees het. Die onreg op alle terreine van die lewe, die werkplek, sport, sosiale lewe - oral waar jy gaan, is hartverskeurend. Geweld sien jy om elke hoek en draai. Ellende is deel van ons daaglikse lewe, mense wat in die grootste ellende probeer oorleef. Bakleiery oor nietighede, twis, die slegtes wat die oorhand kry, onderdrukking, die wet wat kragteloos geword het. ‘n Moordenaar word byvoorbeeld deur die polisie vasgetrek en voor die hof gedaag, maar die saak word uitgegooi omdat iemand nie sy werk behoorlik gedoen het nie. Wat het van die reg geword?

Habakuk nooi jou en my vandag om ook met die Here te worstel oor hierdie dinge, oor ons lewensvrae waarvoor ons nie antwoorde het nie. Jy sal egter ‘n wonderlike ontdekking maak: dat God nie afwesig is, soos baie mense wil glo nie, maar dat die Lewende Here nie ver van jou af is nie! Om die waarheid te sê is Hy baie nader aan jou as wat jy dalk verwag. Habakuk het ontdek dat sy vermoede dat die Here hom nie hoor nie, totaal ongegrond was. En hy wil dan ook vir jou en my opgewonde kom vertel dat die Here hoor, en dat Hy antwoord, maar dikwels op die mees onverwagte manier en tyd. Vra gerus maar jou kwelvrae aan Hom wat luister. Maar vra jou vrae gelowig!

Gebed:

Here, dankie dat U luister na elkeen van my vrae en elkeen van my kwellinge. Dankie dat U daar is vir my, elke oomblik van die dag.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026