Kind van God?

25 March, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Kind van God?

Johannes 8:31-47

VIDEO * OUDIO

Kan iemand wat Jesus in geloof aanvaar het, sy geloof verloor en dus weer verlore raak? Daar is al menige warm debatte oor hierdie vraag gevoer! Is dit moontlik dat jy jou geloof in Jesus kan verloor? In Nederland het ‘n predikant op ‘n dag tot die gevolgtrekking gekom dat daar geen God is nie en hy het ‘n totale ateïs geword. Die ergste is dat hy sy predikantstatus behou het en hierdie verskriklike leuen van die kansel af verkondig het!

Die briewe van Johannes vertel dat die gemeente in twee geskeur het en dat een deel van die gemeente nie meer aan die waarheid van Jesus vasgehou het nie. Hulle het ook nie meer soos gelowiges opgetree nie. Ek het dit al talle male beleef dat lewende lidmate een dag net wegraak uit die gemeente en totaal vervreem raak van die kerk.

Johannes 8:44 vertel van iets amper nog erger, wanneer Jesus vir die Jode “wat in Hom glo” sê dat hulle kinders van die duiwel is! Dit is erg! Hoe kan dit?

Maar kom ons begin by die begin: Ons het reeds in ‘n vorige dagstukkie gemeld dat wanneer Johannes praat van iemand wat in Jesus glo, hy nie noodwendig bedoel dat die persoon ‘n gelowige is nie, maar dat dit ook kan beteken dat die persoon hom bloot by Jesus skaar sonder dat daar werklik ‘n intieme verhouding met Hom is. So byvoorbeeld noem 70% van alle Suid-Afrikaners hulleself Christene, maar dit beteken baie beslis nie dat hulle almal gelowiges is en in ‘n verhouding met Jesus leef nie.

Ons het reeds genoem dat hoofstuk 8 eintlik ‘n soort hofsaak is oor die identiteit van Jesus. Die vraag word gevra, of God Jesus se Vader is? As dit wél die geval is, plaas dit Jesus natuurlik aan die kant van God. Ons het reeds uit die vorige verse gesien dat dit in der waarheid tóg die geval is. Maar nou kom Jesus en Hy swaai die hofsaak om. Nou is Hy nie meer die Een wat in die beskuldigdebank staan nie, maar wél diegene wat na Hom luister. Die tyd het gekom dat húlle nou verantwoording moet doen. “As julle in My woord bly, is julle waarlik My dissipels”, sê Jesus vir hulle. Hier lê die toets van ware geloof in Jesus - dat jy volkome gehoorsaam sal bly aan wat Jesus sê.

Hy sê verder vir hulle dat hulle die waarheid sal ken en dat daardie waarheid hulle sal vrymaak. Wat is hierdie “waarheid”? Dié dinge wat vir God reg en eg is. Die Jode verstaan Jesus alweer verkeerd - hulle is dan Abraham se kinders, en hulle is nie slawe nie! Hoe kan Hy nou wil beweer dat hulle nodig het om vry te word? Hulle is mos klaar vry!

Maar eintlik speel hulle so reg in Jesus se hand, want Hy gebruik nou presies hulle onkunde om te verduidelik wat hierdie vryheid waarlik beteken. Hy gebruik die posisie van ‘n slaaf teenoor ‘n kind in die huis. Elke sewe jaar moes die Jode hulle slawe vrylaat. Die slaaf het dus ‘n beperkte verhouding met die gesin. ‘n Kind se verhouding is egter permanent. Die implikasie is dat wanneer Jesus jou vrymaak, oftewel deel maak van die gesin van God, dan is dit ‘n permanente gawe.

Vir die Jode wat staan op die feit dat hulle afstammelinge van Abraham is, en daarom deel is van God se volk (gesin), het Jesus ‘n onaangename verrassing: Abraham was wél deel van God se gesin, maar dit maak sy nageslag nog nie deel van God se gesin nie. Hulle dade wys dit wel baie duidelik. Jesus se Vader en hierdie “gelowiges” se vader kan beslis nie een en dieselfde wees nie. Jesus verkondig die waarheid aan hulle, maar wat is hulle reaksie? Hulle wil Hom doodmaak. Jesus kom van God af - Hy (die God van Israel) het Sélf vir Jesus gestuur. Deurdat hulle nie vir Jesus wil aanvaar nie, bewys hulle nou ook deurdat hulle téén die God van Israel gedraai het. Dit is ‘n verskriklike gedagte! Maar dit raak erger: dit beteken terselfdertyd dat hulle die duiwel as vader het! En dit is daarom dat hulle nie Jesus se boodskap kan of wil verstaan nie. “As God julle Vader was, sou julle My liefgehad het,” sê Jesus vir hulle (Joh 8:42).

Die Woord van God is ewig, en vandag dus nog net so vars as tweeduisend jaar gelede. Dit praat ook vandag met ons as mense in die moderne era. As daar werklik 30 miljoen gelowiges in Suid-Afrika was, sou ons land baie anders gelyk het. Ons besef egter almal dat dit beslis nie die geval is nie, en dat die grootste persentasie slegs in naam Christene is. Trek ons egter die kring nouer, en ons kyk na diegene in die kerk, dan kom ons ook baie gou agter dat daar talle mense sit wat nie werklik vir Jesus ken nie. In vers 47 beklemtoon Jesus dit: “Hy wat uit God is, luister na die woorde van God.”

As daar dus vandag vir jou en my die vraag gevra word, oor Wie ons dink dat Jesus werklik is, dan kan ons nie sommer so ‘n antwoord aanmekaarslaan nie. Die waarheid kom uit in die dinge wat ons doen en hoe ons leef. Die antwoord word dus gegee deur ons dade.

Die vraag aan die begin: Kan ‘n gelowige verlore gaan? ‘n Ware gelowige is ook maar net ‘n mens, en hy kan afdwaal, soos met die verlore seun gebeur het. Ek glo egter dat Jesus hom nooit verlore sal laat gaan nie, en dat hy altyd weer teruggetrek sal word deur die liefde en genade van die Vader.

Gebed:

Here, dankie dat ek nie ‘n slaaf is nie, maar U kind. Dankie vir al die voorregte wat U my gee, en dat U my vashou, selfs wanneer ek struikel. Help my om my liefde vir U ten volle uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026