Kersfees

22 December, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Kersfees

Lukas 1:26-80

Maandag is dit Kersdag, die dag waarop ons die geboorte van Jesus vier. Hierdie is die laaste oordenking vir die jaar, ons hervat weer DV. op Maandag 1 Januarie. Ek wil van die geleentheid gebruik maak om jou 'n baie geseënde Christusfees toe te wens. Mag Kersdag vir jou 'n spesiale dag wees, en so ook elke dag daarna.

Ja, Jesus is gebore op die 25ste Desember van die jaar Nul. Werklik? Nee! Nêrens is daar énige rekord van die datum van Sy geboorte nie, maar dit moes seker eerder iewers in Junie of Julie gewees het, gedurende die Israelse somer. En ons is ook nie eers honderd persent seker van die jaar nie, maar dit was waarskynlik in die jaar 5 v.C. Die kêrel wat die almanak opgestel het volgens Jesus se geboorte, het sy datums deurmekaar gehad!

Die vraag wat in baie mense se gemoed woel, is of ons dan óóit Jesus se geboorte moet vier op 25 Desember? Daar is dan sovéél on-Bybelse dinge wat daarmee saamgaan! Die datum is in die eerste plek verkeerd, en boonop val dit saam met die een of ander heidense fees. Die simbole rondom Kersfees is natuurlik ook onder groot verdenking. Dink maar aan die kersboom en al die liggies en versierings wat daarmee saamgaan. Wat is dan nou Bybels hieraan? En hoe regverdig ons die kersgeskenke? En die ergste van alles, die ou vet man met die wit baard en rooi jas! En dan is hy boonop veronderstel om op 'n slee te vlieg (verbeel jou!) en hy klim deur skoorstene!

Hoe verbind ons al hierdie dinge met Jesus se geboorte?

Die vet man met die rooi jas het sy oorsprong in Holland. 'n Kêrel genaamd Nikolaas het tussen 280 en 345 n.C. elke Kersdag te perd gery en geskenkies soos gemmerkoekies uitgedeel aan kinders en armes. Saam met hom was sy assistent, Swart Piet, wat te voet agterna moes loop met 'n reuse sak oor sy skouer. Daar was soveel waardering vir Nikolaas se onbaatsugtige diens dat die kerk hom na sy dood "heilige status" gegee het, en hy word St. Nikolaas. Die Amerikaners herdoop hom toe na Santa Claus! Boonop vervang hulle sy perd met 'n slee getrek deur vlieënde rendiere, een nogal met 'n gloeiende rooi neus! En die arme Swart Piet word sommer 'n hele span speelgoedmakende Elfies. En daar mors hulle die pragtige verhaal op!

En 25 Desember? Dit is toe gladnie so heidens as wat mense beweer nie! Die oorsprong hiervan kan jy gaan soek Joodse gebruike uit die Ou Testament. Die lywige geskiedenisboek van Josephus vertel vir jou iets hiervan.

In 168 v.C. het die Siriese Griek, Antiochus Epifanus Jerusalem ingeval, en toe ontheilig hy die tempel deur 'n standbeeld van die god Zeus daarin op te rig. Hy het ook varke in die tempel geoffer en die vet op die Ou Testamentiese boekrolle en die ander tempelgoedere gespat. Die Jode is selfs gedwing om varkvleis te eet. Uiteindelik kon die Jode dit nie meer uithou nie en hulle kom in opstand. Onder leiding van Judas Makkabees herower hulle Jerusalem. Op die 25ste Kislev, oftewel 25 Desember in 164 v.C. word die tempel weer gereinig. En natuurlik vier die Jode groot fees!

Hierdie fees word 'n jaarlikse instelling op 25 Desember en dit staan vandag bekend as die Chanoeka, fees van die tempelwyding, of die fees van die ligte. Elke feesganger dra 'n kers of lamp op pad na die tempel toe, en hulle swaai palmtakke. Dit moes 'n wonderlike gesig gewees het om te aanskou. Die hele Jerusalem omgewing is in 'n sprokiesland omskep soos duisende mense met hulle liggies aangestap het na die tempel toe. Dit was 'n vrolike fees, en mense het geskenke aan mekaar gegee. Dit was veral vir die kinders wat hierdie fees baie opwindend was. Geskenkies is oral weggesteek, en dan moes hulle dit gaan soek. As kind het Jesus heelwaarskynlik sélf ook deel gehad in so 'n fees.

Na Jesus se hemelvaart het die dissipels besef dat Hy die ware Tempel is, en dat die Lig alleen in Hom is. Hulle het dus die fees van die tempelwyding in sy vervulde vorm gevier op dieselfde dag as die Ou Testamentiese fees. Selfs die kersboom is nie so heidens nie, want waarskynlik is die lampies en ligte wat in die fees gebruik is aan 'n boom opgehang.

Matteus beskryf die geboorteverhaal van Jesus in een kort sinnetjie. Lukas brei 'n klein bietjie uit daarop. Markus en Johannes meld die gebeurtenis in hulle weergawes van die Evangelie gladnie eers nie.

Waarom maak ons dan só 'n groot ophef daarvan?

Dit is 'n pragtige, romantiese verhaal wat die verbeelding aangryp van sowel gelowiges as ongelowiges, om totaal uiteenlopende redes.

Inderdaad is dit vir ons 'n baie belangrike gebeurtenis, want dit herdenk die dag waarop God se belofte oor die Verlosser waar geword het. Maar ons mag Kersfees nóóit sien sonder die véél groter gebeurtenis wat afspeel gedurende Paasfees nie, toe Jesus die groot prys betaal het, en die offer gebring het as versoening tussen ons en God.

Gebed:

Here, ek bid vir sovéél mense wat nog nie die ware betekenis van Kersfees ken nie.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026