Handelinge 3:11-26
Jy wil seker vanoggend vir my sê dat ek verdwaal het met 'n tema soos Kersfees! Dis mos nog lank nie Kersfees nie? Maar wag, laat my toe om te verduidelik.
Die verlamde man waarvan ons Vrydag gelees het, het soos ‘n klein brakkie al agter Petrus en Johannes aangepiekel. Hulle het vir hom die grootste geskenk gegee wat enige mens óóit kon ontvang: gesondheid ná sy lewenslange siekbed maar nog véél groter as dit, boonop óók die ewige lewe!
Van oral oor kom nuuskierige mense aangestroom om met hulle eie oë hierdie wonderwerk te kom aanskou en natúúrlik beteken dit dat Petrus moet verduidelik. Soos ons reeds gesê het, is Petrus maar ‘n doodgewone visserman wat beslis nie nodig het om met sy visse te gesels nie! En nou skielik moet hy die een toespraak na die ander maak. Gelukkig het Petrus die grootste “Toespraakskrywer” van alle tye tot sy beskikking: die Heilige Gees! Weereens sien ons die klinkklare bewys dat God jou nie in die steek laat nie en Petrus verduidelik vir die skare wat rondom hulle saamgedrom het waaroor dit alles gaan. Hy vertel van hoe hulle (sy gehoor) éíntlik die mense is wat Jesus se dood veroorsaak het. Dit is húlle wat ‘n onskuldige Man laat kruisig het ten spyte van die feit dat die regter (Pilatus) Hom onskuldig verklaar het!
Maar dan maak hy dit duidelik dat hierdie nie sommer enige man was nie, maar “Die Leidsman tot die lewe.” Hy vertel hoedat God eintlik alles beskik het en van hoe Jesus moes ly en dat hulle eintlik in onkunde gehandel het. Petrus is nie besig om hulle aan te val en te veroordeel nie, inteendeel, hy is eintlik besig om die blye boodskap aan hulle te bring. Hy gee vir hulle die blye nuus dat Jesus ál hulle sondes sal uitwis as hulle tot bekering kom.
Ek wonder vanoggend hoeveel van Petrus se gehoor tot bekering gekom het? Hoeveel het ooit ag geslaan op sy wonderlike boodskap? Oor minder as drie maande vier ons weer Kersfees. Vir baie mense is dit ‘n heuglike Christusfees maar vir meeste is dit sommer ‘n lekker plesierigheid. Kersoggend in Ballito is elke jaar ‘n reuse belewenis. Mense van regoor die land (en wêreld) stroom op daardie oggend kerktoe om hulde te kom bring aan die Baba in die krip. Hier is dikwels besoekers van oorsee wat nie ‘n woord Afrikaans verstaan nie, maar slegs die gedagte om Jesus te aanbid saam met soveel ander Christene is vir hulle genoeg! Ballito se kerk word volgepak sodat sy uit haar nate bars vir twee dienste en die kerkraad moet net bontstaan om almal te akkommodeer.
Dikwels het ek al gewonder hoeveel van hierdie skare ooit besef waaroor Kersfees werklik gaan en hoeveel van hulle die ware Kersboodskap in hulle harte dra. Een ou omie het my elke jaar geskakel om uit te vind hoe laat die Kersdiens was. Dit was die enigste keer in die jaar dat hy in die kerk gekom het - sy tradisie. Die evangelieboodskap het hom géénsins aangestaan nie!
Ongelukkig is dit so dat Kersfees vir baie mense maar net ‘n mooi tradisie is. Vir baie sakelui is dit die ideale geleentheid om te skep terwyl die room op die melk lê. “Gee, gee, gee!” word dit uitgeblaker op kleurvolle, uitlokkende pamflette. “Koop, koop, koop!” skree elke winkelvenster vir jou, met sy vals sneeu, rooineus takbokke en vet, laggende plastiek Kersvader. Vragte drank word aangery na die drankwinkels om genoeg voorraad te hê vir daardie jolige lekkersuip vakansiedag.
Die een kompeteer met die ander om die duurste en mees flambojante kersgeskenk te koop. ‘n Ete van “epidermiese proporsies” (askies Oubaas!) word voorberei en almal ooreet hulleself en skiet kersfeesklappers. Eenkant pryk ‘n plastiekboompie met gekleurde liggies en blink glasballetjies en ‘n plastiekengeltjie, alles baie nagemaak en vals.
Jesus, díé Een waaroor Kersfees werklik gaan, word totaal weggelaat, van vergeet wanneer Kerfees gevier word. Om die gewete te sus stroom almal darem vroegoggend kerktoe, net om te kan sê: “Ons is nog op die regte pad!” Maar jy mislei jouself!
Kersfees gaan oor baie meer as net ‘n Baba in ‘n krip: dit gaan oor God se genade om sy Seun te stuur. Dit gaan oor die Christus wat verneder is en móés ly vir ons sondes. Dit gaan oor Jesus wat gesterf het aan die kruis sodat ek en jy versoening vir ons sondes kon kry. Dit gaan oor ‘n Here wat die dood oorwin het sodat ons ook die ewige lewe kan smaak. Dit gaan oor Jesus wat in glorie na die hemel opgevaar het om Sy regmatige plek op die troon in te neem. Kersfees gaan oor Jesus wat tydens sy hemelvaart belowe het dat Hy tot aan die voleinding van die wêreld hier by ons sal wees.
In kort: Kersfees is ‘n Christusfees en dit moet oor Hóm alléén gaan en nie wêreldse plesierigheid nie. Kom ons as gelowiges onthou waaroor dit gaan en maak vanjaar Kersfees ‘n ware Christusfees waar ons hulde bring aan Jesus, die Baba in die krip, maar ook aan Jesus aan die kruis en Jesus die opgestane Here. My gebed vir jou is dat Kersfees vanjaar vir jou nuwe waarde en betekenis sal kry!
Gebed:
Dankie Here, vir ‘n jaar wat alweer so byna verby is - ‘n jaar propvol van U genade. Herinner my asseblief elke dag aan U wonderbare liefde!