Oor die Boek Efesiërs
Is die kerk vir jou ook opwindend?
Dalk moet ons eers uitklaar wie of wat die kerk is? En hoe is sy ratwerk saamgestel? Watter kerk is dan nou die regte een? En hoe lyk die ideale kerk? Vrae, vrae, vrae!
Jy sal natuurlik met my saamstem dat daardie indrukwekkende kerkgebou beslis nie die kerk is nie, dit is bloot ‘n gebou. Noem hom dalk eerder die gemeente se werkswinkel, want dit is waar daar gewerk word en waar die gemeentelede opgelei word in ware praktiese dissipelskap.
Die tweede groot misverstand by baie mense, is dat daar verskillende kerke is. Nee, daar is slegs een kerk, die kerk van Jesus Christus. Inderdaad is daar wel baie verskillende gemeentes en denominasies en almal het verskillende aanbiddingstyle. Hulle interpreteer selfs sekere dele van die Bybel verskillend, en dus is daar sekere dinge waaroor hulle beslis nie saamstem nie. Maar ten spyte daarvan vorm hulle uiteindelik slegs een kerk. Om die waarheid te sê, is elke gelowige indiwidueel-kollektief die kerk.
Dalk kan ons die kerk sien as ‘n trein wat op pad is hemel toe. Geloof in Jesus is die enigste kaartjie wat jou die reg gee om op hierdie trein te wees. Die trein kan egter nie loop as iemand hom nie aan die gang hou nie, en daarvoor is die personeel verantwoordelik.
Op hierdie hemelse trein werk dinge egter ‘n bietjie anders. Vir ‘n begin, is daar nie range nie. Elke lid van die personeel is op presies dieselfde vlak, of jy nou die drywer, kondukteur of ‘n kelner is, almal is eenders. En niemand word betaal nie - alles is vrywillig. Hulle het egter ‘n wyd-uiteenlopende pligtestaat, en om die trein op koers te hou, moet party van die personeel baie hard werk.
Natuurlik is die ideale trein die een waar al die passasiers sélf deelneem aan al die aktiwiteite. Almal op die trein is met ander woorde deel van die personeel, en daar is nie passassiers wat maar net saamry vir die lekker nie. As net een begin en aan die werk spring, sal daar baie gou ander wees wat volg en saamwerk!
In die meeste gemeentes is by verre die grootste deel ongelukkig slegs passiewe passasiers, wat so min as moontlik deelneem. Kan hulle dan nie besef hoe opwindend dit is om deel te neem aan alles nie? Daar is so ‘n ryke verskeidenheid van dinge om te doen in die kerk. As jy eers eenmaal begin het, kom jy baie gou agter hoe heerlik opwindend dit is. In die Efesiërs-brief word die kerk vergelyk met ‘n liggaam. Dink maar net vir ‘n oomblik hoeveel wyduiteenlopende onderafdelings jou liggaam het! Dit word ook vergelyk met ‘n bruid. Elders word dit in skrille teenstelling hiermee vergelyk met ‘n soldaat. Maar Paulus sien die kerk ook as ‘n tempel. Uit hierdie vier beelde alleen sien ons die wonderlike verskeidenheid. Niemand sal kan sê dat daar nie vir hom of haar ‘n plek of taak iewers is nie. Daar is plek vir elkeen in die span.
Hierdie brief van Paulus help ons om die kerk in die regte perspektief te stel en om reg te kan dink oor die kerk. Dit is belangrik dat ons raaksien dat die kerk eintlik ‘n versameling van mense is, mense wat aan God behoort en ‘n intieme verbintenis en verhouding met Jesus het. Inderdaad is dit ‘n mengelmoes van mense uit elke moontlike denkbare agtergrond, taal, ras en volk, en hulle word saamgesnoer tot ‘n hegte eenheid.
Hierdie mense het een gróót samebindende faktor: Jesus. Hulle is lief vir Hom en hulle erken Hom as die enigste Here. Hulle stel hulleself dan ook onder Sy heerskappy, en hulle dien Hom.
Wanneer Paulus hierdie brief skryf, is hy iewers in die tronk. Ons is nie seker uit watter tronk hy hierdie brief geskryf het nie, dit kon moontlik Sesarea wees. Hier was hy vir 3 jaar opgesluit. Dit kon dalk ook Rome wees, waar hy ‘n paar jaar agter tralies deurgebring het. Ons kan aanvaar dat dit waarskynlik in Rome was.
Ons kan verder ook aanvaar dat hierdie brief eintlik nie aan die gemeente in Efese gerig is nie, maar dat dit ‘n omsendbrief was wat aan al die gemeentes gerig was. In vers 1 staan daar wel dat hy aan die Efesiërs skryf, maar in die vroegste manuskripte kom hierdie vers nie voor nie, dus is dit ook vandag aan my en jou gerig.
Vir baie mense het kerkwees vandag net maar nog ‘n aktiwiteit geword waaraan ons behoort deel te neem. As jy egter eers begin om dit ernstig op te neem en saam te werk, raak dit baie opwindend! Ek wil jou vandag uitdaag om ‘n lewende lidmaat van die kerk van Jesus te wees, en die volle opwinding en vreugde daarvan te ervaar.
Gebed:
Here, dankie dat U kerk so opwindend is. Ek wil bid dat U sal werk in elke hart wat hierdie reeks lees, dat elkeen U kerk so sal ervaar.