Judas – God se Pion?

21 October, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Judas – God se Pion?

Markus 14:10-16

VIDEO * OUDIO

Daar is al baie vrae gevra oor Judas se verraad, vrae sonder eenvoudige antwoorde! Was dit iets wat Judas op die ingewing van die oomblik gedoen het? Nee, dit was inderdaad beplan! Hy het nog voor daardie aand van die laaste paasmaal alrééds sy dienste vir die priesterhoofde gaan aanbied. Boonop is hy nooit gedwing of omgepraat nie, maar hy het dit uit eie vrye wil gedoen. Natuurlik was hulle verheug, want skielik was hulle grootste probleem opgelos, hoe om Jesus finaal vas te trek. En dít nogal uit die mees verrassende en totaal onverwagse oord.

Dit moes vir Jesus verskriklik gewees het om vir Judas as ’n Apostel te kies saam met die ander elf. Hy moes sékerlik voor daardie tyd al geweet het dat Judas Hom sou verraai. Vir die volgende drie jaar moes Hy saam met Judas werk en moes Hy hom liefderyk leer, wetende dat Judas daardie verfoeilike daad sou pleeg.

Maar waarom juis Judas? Waarom een van sy binnekring dissipels? Waarom kon dit nie maar ’n buitestaander wees nie? Dit moes júís een van Sy vertrouelinge wees om Jesus se lyding soveel erger te maak. Onthou: Jesus moes die straf dra van die sondes van die ganse mensdom. As dit sommer net ’n ligte straf sou wees, sou dit nie waarlik betekenis gehad het nie. Jesus se lyding het alreeds begin by Sy geboorte toe Hy, die Koning van die heelal in ’n stinkende, vuil stal sonder enige weelde en glorie die eerste lewenslig moes sien. Jesus se lyding was beslis nie alléén die klein rukkie aan die kruis nie. Dit het ook al die vernedering wat Hy moes deurmaak ingesluit, asook die verwerping, valse beskuldigings, die angs in Getsemane en die vernedering dat een van Sy eie dissipels Hom verraai het. Daarom móés dit een van die Apostels wees vir wie Hy met soveel deernis en liefde vir drie jaar lank opgelei het!

Die groot kwelvraag is of Judas dan maar net ’n pion in God se hand was? Was hy deur God aangewys as die een wat Jesus moes verraai? Moes hy dan net eenvoudig maak soos God hom beveel het?

Nee, baie beslis nie! God het in Sy alwetenheid wél vooraf geweet dat Judas vir Jesus sou verraai en juis om daardie rede het Jesus vir Judas gekies as ’n Apostel. Judas was sékerlik aanvanklik vuur en vlam om Jesus te volg. Maar vermoedelik was hy, soos baie ander Jode, onder die indruk dat Jesus ’n Messias sou wees wat hulle van die Romeinse oorheersing sou bevry. Toe hy agterkom dat Jesus totaal anders optree, het Judas waarskynlik mismoedig geraak. Jesus het nie met geweld opgetree nie, maar eerder met liefde!

Judas was nie meer hart en siel in hierdie dissipel-ding nie. Ons weet ook dat Judas géén engeltjie was nie. Sy eie mede-Apostels het hom daarvan verdink dat hy lang vingers gehad het, en dat hy die geld wat vir hulle lewensonderhoud moes sorg, laat voete kry het en in sy eie sak gesteek het.

Die vraag wat ons onwillekeurig ook moet vra, is of God dan beheer verloor het? Uit wat ons hier bo gesien het, kan ons nie anders nie as om te erken dat God die hele tyd in volle beheer was, want Judas het opgetree presies soos wat God geweet het dat hy sou doen. Nou was die verhoog opgestel vir die finale gebeure in hierdie aangrypende ware lewensdrama!

Maar eers was daar nog iets wat afgehandel moes word voordat Jesus die groot offer sou bring, ’n uiters belangrike nalatenskap wat Hy moes gee. Dit sou nie alleen vir Sy dissipels van daardie tyd wees nie, maar ook vir al Sy volgelinge in die toekoms. Daarvoor het Hy ’n groot vertrek nodig gehad in Jerusalem. Maar hoe sou Hy daar so ’n vertrek bekom? Maar ook hier was God in volle beheer. Hy het die perfekte vertrek vooraf gereël. Jesus het bloot ’n paar manne met ’n spesifieke opdrag gestuur om uit te kyk vir ’n man wat ’n kruik water sou dra. Dis ’n baie buitengewone opdrag, want mans het in daardie tyd nóóit kruike met water rondgedra nie, dit was immers vrouens se werk! Toe hulle dus die man met die kruik op sy skouer gesien het, het hulle gewéét! Alles was haarfyn vooruit beplan.

Die manne het Jesus se instruksies noukeurig gevolg, en die man met die kruik gevolg tot waar hy in ’n huis ingegaan het. Daar het hulle aangeklop en vir die eienaar gevra waar die kamer was waar hulle saam met hulle Leermeester die paasmaaltyd kon eet. Dit was ’n wildvreemde man, maar onmiddellik het hy geweet waarvan hulle gepraat het. Hy het hulle na ’n bovertrek geneem wat reeds klaar ingerig was vir hulle paasmaaltyd. Hoe het hy geweet? Die manne se monde het oopgehang van verbasing!

Dadelik het hulle aan die werk gespring met voorbereiding vir die belangrikste paasmaaltyd van hulle lewens. Dit sou ’n maaltyd wees wat volgepak sou wees met drama. Dit sou ’n maaltyd wees wat vir hulle groot skok en pyn sou besorg. Maar dit sou ook een wees wat hulle nooit óóit sou kon vergeet nie! Vir die jare daarna sou hulle telkens met groot deernis terugdink aan hierdie maaltyd, die héél laaste een saam met hulle Meester!

Vandag wéét ons dat niks gebeur buite God se beheer nie. Hy is te alle tye in volle beheer, al wil dit soms vir ons anders lyk. Maar ons kan ook weet dat ek en jy nie maar net pionne is in God se hand nie. Elke mens het sy eie vrye wil om te kies en te doen. Judas het verkeerd gekies. Maak seker dat jy reg kies!

Gebed:

Here, dankie dat ek vandag net weereens kan besef dat U in volle beheer is!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026