Jubel in jou Swaarkry!

22 October, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jubel in jou Swaarkry!

Hebreërs 10:32-39

VIDEO | LUISTER

Ek en my Mosbolletjie was jonk getroud en met ‘n blink toekoms voor ons. My geloof was borrelend, en ek kon berge versit - nog sommer ‘n splinternuwe Christen, skaars twee jaar oud in die geloof. Ons eerste baba was so byna ‘n jaar oud. Met die familiebesigheid wat Pa en ‘n paar ander familielede oor die jare opgebou het, het dit voor die wind gegaan, en hulle het dit oorweeg om my ‘n direkteur te maak. Ek was opgewonde!

Maar alles was nie pluis nie. Van die probleme wat onder broei, het niemand ‘n woord gerep nie, totdat die bom daardie verskriklike dag bars. Een oggend word ek uit die bloute meegedeel: “Ons maatskappy is bankrot! Gaan soek vir jou ‘n ander werk.” Ek was platgeslaan - al my drome lê aan skerwe. Ek gaan huil op die skouer van die plaaslike sendeling, en hy stuur my na vriende in Welkom. Platsak val ek en Mosbolletjie in die pad: wat wag op ons? Vir ‘n hongerloon moet ek werk, maar ek geniet dit terdeë, want dit is Koninkrykswerk! Al ons versekeringspolisse verval, want daar is nie geld om dit te betaal nie, maar watwo! Ek en Mosbolletjie is vrekverlief en stralend gelukkig. Een maand word ons ganse maand se salaris gesteel en ons moet oorleef op turksvye en knolkool, maar die lewe gaan voort, en ons is brandend vir die Evangelie.

Toe tref die verskriklike slag ons, toe ‘n paraffienblik vol kookwater ontplof en my arme Mosbolletjie liederlik verbrand. Vir ses weke lê sy en krul van pyn in die hospitaal. Talle operasies en veloorplantings later is sy uiteindelik weer terug by die huis, maar dit sou nog baie maande neem vir haar volle herstel. Vriende dra ons op die hande deur daardie bittere tyd, nie net in gebed nie maar ook in liefde en met fisiese hulp, en bewys vir ons dat ware omgee nog bestaan!

Jare later tref nóg 'n bankrotskap ons, hierdie slag baie erger as die vorige. Ons verloor absoluut alles wat ons gehad het…..

My verhaal is geensins ongewoon nie, en baie van die lesers kan dalk verhale vertel van baie groter ontberings. In die nuwe Suid Afrika is swaarkry nie ’n ongewone ding nie. Dikwels is dit nie noodwendig finansiële swaarkry nie, maar ook geestelike swaarkry. Om ’n voorbeeld te noem: die onderdrukking van Godsdiens in skole, wat menige toegewyde onderwyser baie swaar getref het. Dit is in sulke swaarkrytye waar jou geloof gebou word. Jy kan swaarkry op twee maniere hanteer: jy kan jouself sit en bejammer, maar dit gaan jou nêrens bring nie, want jy gaan net in ‘n depressie verval en sake nog erger maak! Of jy kan die situasie positief benader en dit beskou as ‘n vormingsproses waarin jou geloof gebrei en sterkgemaak word. Wees bly dat God jou waardig geag het om deur hierdie proses te kan gaan. Paulus het eenmaal gesê dat hy dit as ‘n baie groot eer beskou dat hy kon swaarkry vir die Evangelie.

Swaarkry laat jou dikwels innoverend dink, en probleme verander in uitdagings. Ons kry dit só dikwels dat iemand wat sy werk verloor, verplig word om wyer te dink. Hy begin sy eie klein besigheid, en weldra ontwikkel dit tot ‘n florerende saak. ‘n Onderwyseres wat aan bande gelê is met Godsdiensonderrig, het haar pousetyd opgeoffer om die Evangelie met kinders te deel. Dit was nie lank nie, toe is daar ‘n skare van kinders wat nog nooit blootstelling aan die Evangelie gehad het nie, wat om haar saamdrom - honger vir die Woord. ‘n Stroom Bybels is deur hierdie kinders opgeraap, en so het die Evangelie nie alleen die kinders bereik nie, maar ook hulle huisgesinne. Onderdrukking van die Woord het hier juis die gevolg gehad dat die Woord versprei kon word.

Ja, die vervolging van Christene in Israel destyds het veroorsaak dat hulle die wye wêreld in moes vlug vir hulle lewens. Die direkte gevolg was dat die Evangelie dwarsoor die wêreld versprei het, want hulle het dit uitgedra so ver as wat hulle gevlug het.

Swaarkry het ook ‘n ander uitwerking op ‘n gelowige: dit maak jou sensitief vir ander mense wat swaarkry. Ek en my gesin moes sélf die afgelope klompie jare deur baie diep waters gaan en ons was etlike male platgeslaan! Nogtans het die Here ons geestelik opgetel en nuwe hoogtes laat bereik. Hy gebruik ons om baie mense wat in die donker put van moedverloor is, nuwe hoop te gee, want ons was sélf daar deur. Vandag is ek borrelend gelukkig - jy kan ook wees!

Moenie dat swaarkry jou onderkry nie. Lees ‘n bietjie wat in Habakuk 3:17vv geskryf is: “Al sou die vyeboom nie bot nie en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie, al sou die olyfoes misluk en die lande geen oes lewer nie, al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie en die beeskrale sonder beeste wees, nogtans sal ek in die Here jubel, sal ek juig in God, my Redder.” Kom ons maak deur ons eie swaarkry hierdie ook die jubellied in ons harte en maak blydskap, selfs deur swaarkry ons lewensfilosofie!

Gebed:

Dankie Here, dat U my ook waardig geag het om swaarkry te beleef vir U. Dankie dat ek vandag ongekende blydskap kan beleef! Gee asseblief vandag ‘n jubeling in die hart vir elkeen wat hierdie dagstukkie lees en dalk ook swaarkry ondervind!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026