Inleiding tot Josua
In Numeri 13 en 14 lees ons vir die eerste keer van Josua die seun van Nun. Hy was een van die twaalf leiers uit die splinternuwe volk Israel wat die Beloofde Land Kanaän moes gaan verken. Dit was die land Wat God belowe het dat Hy vir hulle sou gee. Hulle taak was bloot om 'n verslag saam te stel oor wat hulle in die land gesien het.
Met hulle terugkoms was almal dit eens dat dit 'n mooi en vrugbare land was, wáárlik 'n land van melk en heuning in oorvloed.
Maar.......
Hierdie manne het hulle blindgestaar teen die mense van die land, wat volgens hulle wrede reuse was. Volgens hulle sou dit totaal onmoontlik wees om die land in te neem. Twee van die manne, Josua en Kaleb het egter nie saamgestem nie. Hulle argument was dat niks immers vir God onmoontlik is nie. Hulle is egter doodgepraat. Die res is geskiedenis, en vir die volgende veertig jaar swerf die volk in die onherbergsame woestyn rond as nomade.
Later lees ons weer van Josua. Moses was toe al 120 jaar oud en die einde van sy lewenspaadjie was naby. Dit het tyd geword dat hy sy leierskap aan iemand anders oorgee. In Deuteronomium 31 lees ons dat Moses die leierskap van die volk aan Josua oorgee. Hy is 'n volwaardige leier, en dit sou sy plig wees om die volk die beloofde land binne te lei. “Wees sterk en dapper!” het Moses vir Josua gesê, “Jy gaan saam met hierdie volk in die land in wat die Here met 'n eed aan ons voorvaders beloof het om aan hulle te gee. Jy moet hulle dit in besit laat neem.”
En so begin Josua se leierskap oor 'n volk wat eintlik nog gladnie die eienskappe van 'n volk gehad het nie. Dit was 'n bitter moeilike stryd en Josua moes baie gou leer dat as hy hierdie volk suksesvol wou lei, dan moes hy sy volle vertroue op God plaas, selfs wanneer alles totaal onmoontlik sou lyk.
Op die oog af lyk dit asof die hele boek Josua deurdrenk is met oorlogsbloed. Lees jy hom, voel dit amper vir jou asof jy 'n moderne koerant oopslaan of nuus kyk op TV. Dis net oorlog, oorlog en nóg oorlog. En dit gebeur boonop in opdrag van die Here!
Ons wil dan ook met reg vra: “Is ons God dan 'n wrede, harde God wat dáár ver is? Hy kan tog sékerlik nie dieselfde liefdevolle, genadige God wees wat ons leer ken het nie?”
Dis egter slegs oppervlakkige indrukke! Ons moet Josua in die regte lig sien en ons gemoed oopmaak om die ware feite agter dit alles te ontdek.
Eerstens moet ons baie goed besef dat daar allerhande soorte geweld geheers het in Josua se tyd, soos wat dit terloops vandag ook maar gaan. Kyk maar net hoe gaan dit in die Oekraïne en Israel asook in ‘n paar Afrikalande! Dan moet ons ook baie deeglik besef dat die boek Josua beslis nie geweld aanblaas nie en keur nie geweld goed nie! Dit sluit slegs aan by die werklikheid van die lewe.
Eintlik lees ons die teendeel, want met die verhaal van die Israeliete se intog in die Beloofde Land, sien ons hoedat 'n liefdevolle God Sy belofte aan Sy kinders nakom. Terselfdertyd verwag Hy ook van Hulle om Hom te dien.
Die boek Josua is 'n verhaal van die wording van 'n volk, maar die boodskap wat ons vandag daaruit kry is dat die boek ons wil oortuig om die Here met eerbied en oorgawe te dien. Hy is immers 'n God wat respek afdwing. Inderdaad het Hy talle beloftes aan sy volk gemaak asook aan ons vandag en Hy kom Sy beloftes ten volle na! Hy vra egter volle gehoorsaamheid van diegene wat hulle aan Hom verbind.
Wanneer het die boek ontstaan? Die antwoord is dat dit oor 'n baie lang tydperk sy ontstaan gehad het, hoofsaaklik as mondelinge vertellinge of dalk enkele geskrewe fragmente uit koning Josia se tyd. Die boek is egter vir die eerste keer tydens, of dalk net ná die tweede Ballingskap op skrif gestel. Dus is dit iewers tussen 500 en 550 vC. geskryf.
Die boek Josua is 'n portret van Israel se verowering en verdeling van Kanaän onder aanvoering van Josua. Daar is vyf hoof temas wat deur die boek loop:
1. God maak Sy beloftes waar Hy het belowe dat Hy die land aan die volk sou gee, en inderdaad het Hy dit gedoen. Telkemale sien ons hoedat Hy verskeie beloftes maak en nakom, soos byvoorbeeld die inval in Jerigo.
2. Die Here alleen is God en hulle mag alleen die Here dien en geen vreemde gode nie.
3. Die derde tema is dat hulle gehoorsaam moes bly aan die Here.
4. Tema vier is dat die land 'n gawe van God is.
5. Die vyfde tema is die vraag of geweld en oorlog werklik die opsie vir sukses en oorwinning is?
Gebed:
Here, dankie vir die voorbeeld van 'n Josua wat sy volle vertroue in U alleen gestel het!