Matteus 1:18-25
Josef, die skrynwerker van Nasaret, sing terwyl hy staan en werk. Die lewe is mooi, baie mooi! Uiteindelik is die lieflike jong Maria nou syne, nét syne! Dit het maande se ellelange onderhandelinge gekos tussen die twee families voordat altwee tot 'n vergelyk kon kom.
Uiteindelik was dit Josef se stamboom wat die troefkaart was om die knoop deur te haak. Dit het natuurlik gekos dat Josef moes gaan sit en sy familie uitpluis tot dóérrr diep in die verre verlede. Maar hy het dit deeglik gedoen, sommer by oer-oupa Abraham begin en dit deurgewerk deur die eeue. Hy móés vir die klomp ringkoppe bewys dat Dawid, die gróót koning Dawid deel was van sy stamboom.
Só jammer van die paar vrot appels tussen sy voorvaders! Hy het eintlik geskrik toe hy name soos Ragab, die prostituut en Tamar, die verleidster tussen sy voorsate raakloop. Hopelik sou die ou klomp suurknolle wat hom so takseer dit nie raaksien nie. Uiteindelik het die feit dat hy 'n direkte afstammeling van Koning Dawid is, die knoop deurgehaak. Hy is inderdaad deel van 'n koninklike familie!
Maria! Pragtige klein Mariatjie, sy het bloedrooi gebloos toe die nuus bekend word dat sy en Josef sou verloof raak. Skaars veertien jaar oud!
Terwyl Josef so staan en neurie, diep verlore in sy dagdrome, word hy bewus van iemand by die deur van sy werkswinkel. As hy opkyk, staan sy daar, en sy hart mis sommer 'n paar slae. “Maria, my pragtige! Waaraan het ek hierdie eer te danke?”
Maar dan sien Josef dat daar iets baie groot skort met sy pragtige bruidjie. Sy lyk asof sy 'n spook gesien het! “Wat’s fout? Het iets gebeur? Is iemand dood?”
“N-n-nee,” stamel sy, “maar daar is iets wat ek jou moet vertel.”
Josef sit sy gereedskap neer en hy neem Maria uit om daar in die koelte van 'n boom te gaan sit. Hy kan duidelik sien dat sy hoogs ontsteld is. “Toe, kom vertel my, wat is fout?”
Maria weet nie mooi hoe om hierdie saak aan te voer nie. Na die besoek van die engel, was sy só opgewonde. Maar toe skielik tref die werklikheid haar: wat gaan die mense dink? En hoe breek sy die nuus aan Josef? In die eerste plek praat 'n meisie nie met 'n man oor sulke dinge nie!
“Josef, daar het iets gebeur, 'n baie groot ding, en ek weet nie hoe om te verduidelik nie.”
“Toemaar Mariatjie, jy kan mos maar vir my vertel.”
“Dis nie so maklik nie, Josef. Ek..... ek is swanger!”
En dan bars die damwal, en die snikke skeur deur haar liggaam. Vir die eerste keer kan sy nou met iemand deel wat met haar gebeur het. Vir dae lank was sy te bang om daaroor te praat, het sy dit in haar opgekrop. “Maar dis nie wat jy dink nie, Josef!” kom dit tussen die snikke deur.
Josef raak doodstil en spierwit in die gesig. “Wie was hy?” Nou is hy skielik woedend: “Ek sal hom vermorsel!”
“Nee, Josef, daar was nie 'n man nie.” En dan vertel sy vir Josef so tussen die snikke deur van die engel en dat God sélf die baba in haar geplaas het.
“Hoe kan jy seker wees dat jy swanger is?”
“Ek wéét! Dis net 'n paar dae, maar ek wéét!”
Josef is verward en tegelyk woedend. Hy los vir Maria nét daar onder die boom en hy stap veld in om sy deurmekaar gedagtes te probeer orden. Hy is 'n respektabele man! Wat gaan die mense dink? Hy sal 'n plan móét maak! Dan neem hy uiteindelik 'n besluit: daar is maar net één uitweg, hy sal van Maria skei, die verlowing breek voordat daar 'n vinger na hom gewys kan word!
Wanneer Josef die aand onder sy komberse inkruip, sit die woede en die seer nog baie vlak. Hy rol rond, en hy kan maar net nie aan die slaap raak nie. En wanneer hy uiteindelik van pure uitputting wegdommel, teister nagmerries hom.
Skielik staan daar iemand langs Josef se bed. “Josef, seun van Dawid, ek bring vir jou 'n boodskap!”
Josef kan hom verkyk aan die man met sy skitterende klere. “Wie is jy?”
“Ek is Gabriël, die engel van God. Josef, jy mag nie vir Maria verwerp nie! Alles wat sy jou vertel het is waar. Sy gaan 'n Seun in die wêreld bring, en julle moet Hom Jesus noem. Hy is die Seun van God!”
Josef skrik wakker met 'n hart wat dreig om uit sy borskas te spring. Hy soek die engel, maar hy is weg! Alles was so werklik! God het met hom, Josef gepraat deur Sy engel!
Josef spring op en hardloop deur die donker, verlate straatjies van Nasaret. Uitasem huiwer hy vir 'n oomblik by Maria se huisie, en dan hamer hy aan haar deur. “Maria, ek wil met jou trou!” stamel hy, wanneer sy deur die slaap die deur oopmaak. “Die engel was by my.......!”
Gebed:
Here, hierdie verhaal gryp my elke keer aan die hart, hoe U ingegryp het in menselewens asook die geskiedenes van die mensdom.