Jong Manne en Vroue

29 May, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jong Manne en Vroue

Titus 2:1-15 (deel 2)

Gister het Paulus die ouer manne en vroue aangespreek. Vandag kom die jongeres onder die vergrootglas. Ons moet egter baie versigtig wees wanneer ons hierdie gedeelte lees, en nie daarin sien wat nie op ons van toepassing is nie. Om die gedeelte reg te verstaan, moet jy in die eerste plek weet wat die sosiale posisie van vroue in daardie tyd was. En tweedens moet jy net weereens daaraan herinner word dat dit vir Paulus primêr daaroor gaan dat die Woord van God nie in diskrediet moet kom nie.

Paulus is nie hier besig om vir vroue van alle eeue en plekke ‘n gedragspatroon vas te lê nie. Al wat Paulus wou doen, was om te voorkom dat die gedrag van gelowige vrouens op Kreta die indruk skep dat die Christelike Godsdiens die destydse samelewing omvêr gooi. Hy moedig dus die vrouens aan om te presteer in die dinge wat vir die vrouens in daardie tyd as prysenswaardig beskou is, en wat nie in stryd met die Bybel is nie. As ons dit woord-vir-woord op vandag se lewe wou toepas, dan sou ons ook moes sê dat slawerny reg is, want Paulus aanvaar dit hier as deel van die lewe.

Die vrou se pligte in daardie tyd was binne die huis en huisgesin. Hulle het nie die sakewêreld betree of ‘n ambag beoefen nie. Dit is daarom dat Paulus die vrou se pligte tot huispligte beperk. Vandag sien die lewe totaal anders daar uit, omdat die vrou se rol in die samelewing in baie opsigte uitgebrei het om dieselfde as mans s’n te wees. Om die waarheid te sê kan baie van die pligte wat Paulus vir mans voorskryf ook vir vrouens geld, en andersom. In dieselfde asem moet ons ook noem dat die belangrike rol wat die vrou in die huisgesin speel, nie afgemaak of ontken kan word nie. Inteendeel: ons samelewing vandag heg steeds groot waarde aan die dinge wat Paulus in vers 4 en 5 noem, veral sake soos liefde vir jou man en kinders, verstandigheid en kuisheid. Hierdie dinge is onontbeerlik, en is die sement wat die voortbestaan van gelowige gesinne verseker.

Dit sou egter ‘n drog-redenasie wees om af te lei uit wat Paulus skryf dat hierdie dinge buite die man se pligtestaat van verantwoordelikheid val, of dat vroue se verantwoordelikhede slegs tot hierdie lysie beperk word. As gelowige vrou moet jy dus deeglik besef dat jou lewe ook geestelike betekenis het, dikwels op dieselfde vlak as mans of selfs hoër. Die kern van Paulus se redenasie kom daarop neer dat jy God moet dien en sodoende die geloofwaardigheid van die Christelike Godsdiens verhoog.

Vervolgens kom Paulus by die jong manne. In daardie tyd was ‘n vriendekring van jong mans baie gewild, en in so ‘n kring het daar dikwels een uitgestaan as leier. Hy was dan ook die rolmodel vir die ander manne in die kring, en sy invloed was groot. Paulus gebruik so ‘n situasie om te staan in diens van die Evangelie, en hy praat hier direk met Titus, wat in dieselfde kategorie val. Sy voorbeeld moet daarop gemik wees om te sorg dat niemand iets slegs van gelowige mans kan sê nie.

Dit is tog só waar, dat jou skandes gekoppel word aan die organisasie waarvan jy deel is. ‘n Goeie voorbeeld is daardie gewraakte video wat ‘n paar mans destyds in Kovsies se koshuis gemaak het. Dit het alle wit jong mans in Suid Afrika as uiterste rassiste gebrandmerk! As ‘n gelowige struikel, dan is dit dadelik die ganse kerk wat korrup is! Paulus se pleidooi is dat elke gelowige só sal leef dat dit die kerk nooit verleë sal laat nie. Inderdaad is hierdie opdrag van toepassing, nie slegs op jong mans nie, maar op álle gelowiges.

Net soos in die Griekse beskawing van daardie tyd, is die samelewing vandag nogal baie verdraagsaam teenoor jong mans. Ons aanvaar sommer dat hulle in die strate gaan rondjaag, wette verontagsaam, wilde partytjies hou, dronk word en allerhande dinge doen wat ouer mense nooit eers van sal droom om te doen nie. Dikwels praat ‘n mens dit maar weg: “hy vind nog sy voete!” Maar die feit is dat hierdie vrypas wat die samelewing aan jong manne gee, en dikwels ook aan jong meisies, enorme skade aan die samelewing aanrig. Bendes, dwelms en misdaad gaan dikwels hand-aan-hand met sulke losbandigheid. Die Bybel erken dat ‘n jongmens sy lewe maar kan en moet geniet, maar daarmee saam kom verantwoordelikheid teenoor God. Dit maak die kern uit van Paulus se oproep om verstandig te wees. Paulus wil dit beklemtoon dat ‘n jongmens se lewe nie in twee gedeel kan word nie. Jy kan nie die fisieke en geestelike lewe skei en in twee wêrelde leef nie!

Ek het dit as jong man ervaar toe ek by die KJV aangesluit het: ons het tonne pret gehad - bergklim, waatlemoenfeeste, sommer net kuier op die strand tot dagbreek toe. Maar dit was skoon pret, en ons was gedurig daaraan herinner deur die leiers in ons groep dat hierdie dinge onlosmaakbaar was van ons geestelike lewe.

Gebed:

Heilige Gees, rig asseblief my lewe op só ‘n manier dat ek as voorbeeld sal dien vir almal met wie ek te doene kry, en sodoende U heilige Naam sal verheerlik.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026