Lukas 3:1-20
Agtien jaar gaan verby sedert die jong twaalfjarige Jesus die leermeesters en Skrifgeleerdes so op hol gehad het in die tempel. Beide Jesus en Johannes het opgegroei tot volwasse manne. Johannes het hom afgesonder in die woestyn ter voorbereiding van die reuse taak wat op hom wag, die taak om die pad vir Jesus, die Messias voor te berei. In daardie tyd het hy begin blom as ‘n ware profeet, nét soos wat oor hom voorspel was nog voor sy geboorte.
Lukas rits in die eerste verse ‘n klomp name af, Tiberius, Pontius Pilatus, Herodes, Filippus, Lisanias, Annas, Kajafas en nog ‘n paar - almal belangrike mense wat ‘n beduidende rol in die verhaal verder sou speel. Tiberius was op daardie stadium keiser van die Romeinse ryk, die magtigste man op aarde. Pontius Pilatus was die Romeinse goewerneur in Judea. Herodus Antipas, ‘n seun van Herodus die Grote het oor Galilea en Perea regeer. Palestina was in vier verdeel. Lukas noem ook die ander regeerders in hierdie ryk, Filippus, Tragonitis en Lisanias. Om die prentjie af te rond, was daar Annas en Kajafas, die geestelike leiers. Kajafas was die Hoë priester en Annas sy voorganger. Annas het egter nog ‘n baie groot invloed gehad.
Hierdie was nie net ‘n klomp interessanthede nie. Lukas wil beklemtoon watter wêreldwye betekenis die Hooffiguur van die verhaal gaan speel. Die gebeure in hierdie nietige klein landjie het wêreldwyd uitgekring, en mense van alle stande geraak. Ons word voorberei daarop dat God se reddingsplan vir die hele wêreld bedoel is, en nie net vir die handjievol Jode nie.
Lukas wil dit verder beklemtoon dat Jesus nie maar ‘n fiktiewe karakter in ‘n storie is nie, maar Iemand wat aan tyd en omstandighede gekoppel kan word. Die liggelowiges wat steeds dink dat Jesus slegs in die gees van die dissipels was, moet dééglik hiervan kennis neem!
Lukas neem ‘n aanhaling uit Jesaja 40 om te wys hoedat die optrede van Johannes alreeds baie jare tevore voorspel is, en dat sy optrede profetiese gesag kry. As spesiale gesant van God rus die taak vierkantig op sy skouers om die pad voor te berei vir Jesus se optrede, en dit doen hy met volle oorgawe. Hy ontsien niks en niemand nie, en hy gee nie om wat mense van hom dink nie. Tree-vir-tree vul hy die slaggate in die pad op sodat God se verlossingsplan seepglad kan verloop.
Jesaja het hierdie gedeelte natuurlik geskryf terwyl die Israeliete in ballingskap was in Babilon, en alles vir die volk baie donker was. Dit het gelyk asof God se plan met die volk op ‘n doodloopstraat uitgeloop het. Jesaja het die taak gehad om vir die Israeliete hoop te gee: God se groot verlossingsplan sou steeds kom, al lyk die prentjie tans so donker. Dit herinner ons daaraan dat daar selfs in vandag se donker tye van Kovid, plundery, korrupsie en wanhoop, steeds die ware hoop op God is, en vandag nog baie meer so as in die tyd toe Jesaja die stuk geskryf het.
Johannes was ‘n regte “vuur en swael” prediker, wat almal kaalkop die waarheid vertel het. Die Jode het onder die wanindruk geleef, dat solank as wat hulle afstammelinge van Abraham was, hulle die saligheid besit het. Johannes kom ruk die mat onder hulle uit. Abraham is géén waarborg vir hulle verlossing nie! Die regte verhouding met God was wat noodsaaklik was, en dit was slegs moontlik as daar ‘n bekering plaasgevind het. Wanneer jy in die regte verhouding met God leef, moet dit ook deurslaan na jou verhouding met ander mense - aldus Johannes. Dit beteken dat jy mededeelsaam sal wees en die nood by ander sal raaksien en daadwerklik iets daaromtrent doen. Dit beteken ook dat jy eerlik moet wees, selfs al is jy in ‘n hoë magsposisie.
Só eerlik en opreg was Johannes se prediking dat mense begin wonder of hy nie dalk die Christus was nie. Hy het dit egter heftig ontken en dit duidelik gemaak dat hy maar net die wegbereider was. Uiteindelik het Johannes se prediking hom in die moeilikheid gebring. Hy het die magtige Herodus Antipas aangevat en hom aangespreek omdat hy skande gemaak het deur met Herodias, sy broer se vrou te trou. Dit was ‘n daad wat in Levitikus 18:16 duidelik verbied word. Johannes moes boet omdat hy op Herodus se tone getrap het, en hy is in die tronk gesmyt. Later is Johannes onthoof tydens ‘n wilde partytjie van Herodus. Sy bebloede kop is op ‘n skinkbord aan al Herodus se gaste vertoon, tot groot vermaak van Herodias!
Die verhaal van Johannes moet vir elke prediker ‘n voorbeeld wees van die ywer waarmee die Woord van God verkondig moet word, en dat absoluut niks in jou pad durf staan nie, nie eers die dood nie!
Gebed:
Here, maak my asseblief onverskrokke om U Woord aan almal uit te dra.