Markus 3:1-19
Dit was ‘n dag wat Johannes nooit sou vergeet nie. Eintlik het dit al begin op daardie Sabbatdag in Kapernaum. Die sinagoge was daardie oggend tot oorlopens toe vol, want almal wou Jesus hoor preek.
Dan daag die Fariseërs op - ‘n suur klomp manne! As hulle instap, sien hulle die man met die gebreklike hand daar sit, vol verwagting. Uiteindelik het sy kans gekom om óók vir Jesus te sien. Dalk kan Jesus vir hom óók ‘n wonderwerk doen? Hy sou so graag ook normaal wou wees soos enige ander man. Die Fariseërs stamp aan mekaar, en beduie na die gebreklike: “Vandag is die dag!”
Jesus kyk reguit na die Fariseërs as Hy die kêrel met die verskrompelde hand beveel om op te staan en tussen die Fariseërs te gaan staan. Hy lees die slim manne se gedagtes soos ‘n boek, en Hy weet dat hulle Hom wil vastrek. Dan vra Hy vir die hoogsgeleerdes: “Is dit toelaatbaar om op die Sabbat goed te doen, of sleg te doen, om 'n lewe te red, of om dood te maak?”
“Watter soort van vraag is dit?” wonder hulle vererg. “Hy is arrogant! Besef Hy nie met wie Hy praat nie? Ons het immers almal ‘n ordentlike geleerdheid in die Skrifte, baie meer as wat Hy kan sê!” Hulle besluit egter om liewer stil te bly, hulle sal Hom wél uitvang.
Jesus is kwaad vir die Fariseërs omdat hulle in die hand van die duiwel speel en die Evangelie probeer dwarsboom. Maar tegelykertyd is Hy diep bedroef omdat hulle hulle harte so verhard. Die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die heelal, die dag toe God uit die hemel neergedaal het om die mensdom te verlos van sonde, is besig om totaal by hulle verby te gaan. “As hulle maar net kon besef.....”
“Steek uit jou hand!” Johannes snak na sy asem. Voor sy oë gebeur die wonder: oombliklik is die man genees, sy verdorde hand so normaal soos dié van ‘n skrynwerker.
Bedroef kyk Jesus die Fariseërs aan terwyl hulle selfvoldaan opstaan en uitstap. “Ons hét Hom!” sê hulle tevrede vir mekaar. En daarmee haas hulle hulle na hulle “vriende in hoë plekke” om ‘n komplot te smee teen Jesus. Binnekort sal Hy die hoogste tol betaal vir sulke arrogansie!
Vroeg die volgende oggend roep Jesus die manne bymekaar. Dit het tyd geword om te vertrek na die See van Galilea.
Skaars kom hulle by die see aan, of die mense stroom in groot getalle na Hom toe. Hulle móés Hom net eenvoudig sien. Van heinde en verre het hulle gestroom om hierdie Jesus te ervaar. So groot het die skares naderhand aangegroei, dat Jesus in ’n skuit moes klim, en daarvandaan preek. Die mense het Hom totaal verdring.
Sy preke was nie maar net ’n klomp teologiese redenasies, soos dié van die Skrifgeleerdes wat dwarsoor die gewone mense se koppe gepraat het nie. Hy vertel bloot eenvoudige stories om baie diep waarhede te illustreer. Hy praat oor dinge waarmee elkeen van hierdie mense hulleself kon assosieer, dinge uit hulle alledaagse lewe. Dit het egter ook nie maar net by woorde gebly nie, maar Hy het dit prakties toegepas. Hy het talle mense genees van allerhande soorte kwale. En dan was daar ook die uitdryf van onrein geeste…..
‘n Paar dae later gebeur daardie onvergeetlike dag wat Johannes vir altyd sal onthou. Dit was laat middag en meeste van die skares was klaar huistoe. Al wat oorgebly het was die klompie gereelde volgelinge.
Jesus wink vir die manne om Hom te volg, en Hy klim halfpad teen ‘n koppie op, waar hulle gaan sit. ‘n Doodse, half-ongemaklike stilte sak oor die manne toe, terwyl Jesus hulle almal een-vir-een deurkyk.
“Wat is nou verkeerd?” wonder Johannes. Dan wink Jesus die rowwe visserman, Simon nader. Boetie Andreas moet ook maar naderstaan.
“Johannes, jy en Jakobus, kom hier.” Johannes se hart gaan wild aan die bons as hy naderstap. Wanneer Jesus vir Judas Iskariot nader wink, is daar ‘n droewige trek in Sy oë. Iets aan hierdie man laat Johannes kriewelrig voel, hy kan net nie sy vinger lê op wat hom pla oor Judas nie. Nóg manne word nader geroep: Filippus, Bartolomeus, Matteus, Thomas, Jakobus (dis nou Alfeus se seun), Taddeus en Simon die Fanatikus. Uiteindelik staan daar ‘n groep van altesaam twaalf manne. Die manne kyk vraend na mekaar: “Wat wil Jesus met ons doen?” Dan verduidelik Jesus: “Julle twaalf manne is My uitgesoekte uitgestuurdes, My apostels.”
Johannes het nooit besef watter reuse verantwoordelikheid daar van daardie dag af op sy skouers sou rus nie. Maar nou wag daar eers drie jaar se intense opleiding op hom en sy makkers.
Eers baie jare later het Johannes besef dat hulle groepie nie alleen die twaalf stamme van Israel sou verteenwoordig nie, maar met die kragtige vernuwing waarmee Jesus besig was, sou hulle terselfdertyd ook die “Nuwe Israel” verteenwoordig. Dit sou hulle plig word om dit te verkondig, en die wonderlike Evangelie aan die hele wêreld uit te dra!
Gebed:
Here, dankie vir die voorbeeld wat U vir ons gestel het. Dankie dat U ons ook geleer het om die Evangelie eenvoudig uit te dra!