Jode en Nuwe Gelowiges

2 October, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jode en Nuwe Gelowiges

1 Tessalonisense 2:13-16

VIDEO | OUDIO

Die Jode is seker die mees weerbarstige klomp mense wat die geskiedenis van die wêreld óóit opgelewer het. Wanneer jy deur die Ou Testament blaai, sien jy kort-kort hoedat hulle die spoor totaal byster raak. Jaco Thom het ‘n boek geskryf: “Die Bybel Roman” waarin hy die hele geskiedenis van die Bybel, van Adam tot Paulus, in storievorm vertel. Alhoewel dit deels fiksie is omdat hy soms fiktiewe karakters moes skep om te vertel hoe hy dink dat die gebeure dalk kon plaasgevind het, is dit nogtans feitelik korrek, en dit maak jou oë oop. Jy kry ‘n goeie indruk van hoe die Israeliete hulle Godsdiens beleef het, en gedurigdeur agter afgode aangedrentel het. Aan die ander kant vertel hierdie boek ook van ‘n uiters genadige en geduldige God wat maar net weer en weer vergewe en die volk uit die as optel en herstel. Dit is veral deur die tydperk van die rigters en konings waar die volk so dikwels in afgodery verval het! Natuurlik het dit ‘n absolute hoogtepunt, of dalk eerder laagtepunt bereik onder die regering van die bose Agab en Isébel.

Wanneer die Nuwe Testamentiese tydperk aanbreek is dit weer van een ekstreem na die ander wanneer die volk ‘n hiper-Godsdienstige tyd beleef onder leiding van die wets-mal Fariseërs wat elke faset van die lewe op wette en nogmaals wette baseer en uitleef. Só erg was hulle verdiep in hulle wetsnakomingsrituele dat hulle gladnie die Messias herken het waarvan hulle in die Skrifte geleer en gedroom het nie! Toe Hy God se liefde uitleef het hulle Hom as wetteloos beskou en doodgemaak. Hulle het die navolgers van Jesus met wortel en tak probeer uitroei, en die arme Paulus moes telkemale vlug vir sy lewe om uit die kloue van hierdie fanatiese klomp Jode te bly. Die ironie van die saak is, dat Paulus sélf ‘n Fariseër was en sélf aan die spits gestaan het van die klomp wat Christene vervolg het voor sy bekering!

Dit is teen dié agtergrond wat Paulus hierdie gedeelte skryf aan die gemeente in Tessalonika. Daar het hulle immers sélf hulle eie dosis vervolging deur die Joodse fanatici beleef. Dit is nou al tweeduisend jaar later en steeds het die Jode nie veel verander nie. My dogter het vir drie jaar in Israel gaan werk. Sy het groente geplant, winkelrakke reggepak, kinders opgepas en vloere geskrop. Sy was ‘n wrak toe sy terugkom, want die Jode is slawedrywers en steeds nog nét so fanaties en hardkoppig!

Wanneer Paulus só van die Jode praat, dan verwys hy natuurlik nie na ál die Jode nie. Jy kan mos nie sommer die kind met die badwater uitgooi nie! Hy praat spesifiek oor diegene wat so teen sy bediening gekant was. Natuurlik was daar steeds baie Jode wat hom goedgesind was, en nét so kan ons ook nie vandag sê dat álle Jode ‘n gemene klomp is nie! Wat egter wél waar is, is dat dit dikwels jou eie mense is wat teen jou draai wanneer jy ‘n gelowige word. Dit is bitter as jou eertydse vriende jou bespot en verwerp, of as jou eie familie jou aankyk asof jy nou totaal koekoes geword het. Ek onthou die absolute walging op ‘n ongelowige dokter se gesig, jare gelede, toe hy my vertel het dat sy seun die mediese professie prysgegee het om predikant te word. Dit was asof die seun sy pa ‘n klap in die gesig gegee het!

Wanneer ons vanoggend se Skrifgedeelte deurlees, merk ons op dat Paulus se kortstondige bediening in Tessalonika ‘n beduidende invloed gehad het op die inwoners. Hulle het gelowig gereageer! Twee dinge het dit duidelik gewys wat hulle reaksie was. Eerstens het hulle die boodskap as die Woord van God aanvaar. Tweedens het daardie boodskap ‘n positiewe uitwerking op hulle lewens gehad. Oor die afgelope 23 jaar het ek die wonderlike voorreg gehad om die boodskap van God se verlossing met baie mense te kon deel. Op elkeen van hulle, en dit sluit jou ook in, rus daar ‘n verantwoordelikheid om eerstens aan die Woord te gaan toets wat ek hulle meegedeel het. Jy moet seker maak dat dit die waarheid is, Skrifgetrou is en werklik die Woord van God is. Klop dít wat ek geskryf het met wat elders in die Bybel geskryf staan? Tweedens is dit van uiterste belang om die Woord van God te aanvaar. Wanneer jy dit doen, moet dit ‘n uitwerking op jou lewe hê. Jy kan nie sommer gerieflikheidshalwe vergeet wat jy gehoor het nie, maar jy moet lééf wat jy gehoor het! Die nuwe gelowiges van Tessalonika het nie maar gaan terugsit nadat hulle gelowig geword het nie. Hulle het onmiddellik aan hulle geloof begin werk. Dieselfde moet in ons lewens gesien kan word. As ‘n baba nie groei nie en maar net ‘n baba bly, is daar ‘n verskriklike groot fout met hom. Net so moet ‘n gelowige groei in sy geloof. Gebeur dit nie, dan is daar gróót fout!

Dink vanoggend ‘n bietjie na: hoe ervaar jy jou geloof? Is dit iets wat maar stagnant gebly het deur die jare? Is dit steeds nog net daar waar dit begin het? Of het dit gegroei en geblom en vrugte gedra?

Ek wil jou uitnooi om vanoggend saam met my introspeksie te doen. Kom ons kyk of ons nog steeds groei in ons geloof. Dit is inderdaad die een aspek in jou lewe waar jy kan groei tot die dag wat jy doodgaan!

Gebed:

Ek wil vanoggend vra dat U my sal aanspoor om steeds geestelik te bly groei, Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026