Jesus Word Gesalf

20 October, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus Word Gesalf

Markus 14:1-9

VIDEO * OUDIO

Dit was twee dae voor Paasfees, Jesus se laaste Paasfees as Mens op aarde. Direk na die Paasfees het die fees van ongesuurde brode gevolg. Hierdie fees het sewe dae geduur, waar alle suurdeeg uit die Jode se huise verban was. Dit was simbolies van ’n tydperk van reinheid. Jesus sou egter nie deel kon hê in hierdie fees nie, want dan sou Hy alreeds gekruisig gewees het. Op hierdie stadium was die priesterhoofde en Skrifgeleerdes desperaat om ’n plan te beraam om Jesus tereg te stel. Hulle besluit egter dat dit moes wag tot ná die fees, want daar sou te veel mense in Jerusalem wees gedurende die feestyd, en hulle was baie deeglik bewus van Jesus se aanhang onder die mense. Min het hulle geweet dat hulle probleem baie spoediger opgelos sou wees as wat hulle verwag het, uit die geledere van Jesus se eie binnekring!

Petrus en sy elf kollegas kuier aan huis van Simon die Melaatse, in die dorpie Betanië op die koppie net buite Jerusalem. Die gebruik was dat wanneer daar vir mense ’n maaltyd voorgesit was, daar eers ’n voorgereg bedien sou word, maar eers nadat ‘n slaaf die gaste se voete gewas het. Daarna was die gaste bederf deur geurige parfuum oor hulle te sprinkel. Slegs ’n enkele druppeltjie was genoeg om die vertrek te vul met ’n heerlike geur.

Petrus is sulke bederf nie meer gewoond nie. Drie jaar van swaarkry saam met sy Meester het hom ontneem van hierdie soort luukshede. Dikwels moes hulle selfs in die veld slaap en dalk net ’n stuk droë brood eet!

Dan sien Petrus die vrou die vertrek binnekom. Sy belangstelling word dadelik geprikkel as hy die duur albastefles in haar hande sien. Wat sou sy daarmee wou doen? ‘n Druppeltjie of twee oor elkeen sprinkel? Wat ookal in daardie fles is, moet baie kosbaar wees! Dit moes ’n fortuin gekos het! Daar is ’n eienaardige uitdrukking op die vrou se gesig, amper iets soos droefheid. Dit maak Petrus bang! Sy sien die manne in die vertrek amper nie eers raak nie, haar fokus slegs op Jesus, as sy reguit op Hom afstap. “Wat beplan sy?” wonder Petrus nog. Sy gaan staan agter Jesus.

Alle oë is op haar gerig. Jy kan ‘n speld hoor val! Almal hou asem op – wat gaan sy doen? Sy breek die dun nekkie van die fles af, en onmiddellik vul die hemelse geur van nardusolie die hele vertrek. Stadig lig sy die fles bokant Jesus se kop, en dan begin sy die inhoud daarvan oor Jesus se hare uitgooi. Petrus wil opspring: “Dis genoeg!” wil hy skree, maar dit is asof ’n hand hom terughou. Sy mond hang onbeskaamd oop as hy toekyk hoe die dun stroompie peperduur vloeistof uit die fles sypel en Jesus se hare deurdrenk met die kosbare olie uit Indië. Die oorweldigende geur van nardus vul elke hoekie van die huis van vloer tot plafon.

Eers nadat die héél laaste druppel uit die fles getap het, vlieg Judas op. Hy is briesend. “Hoe kon jy!” raas hy met die vrou, “Besef jy nie wat jy doen nie?” Judas is buite homself van verontwaardiging. “Daardie flessie olie kon vir driehonderd silwermunte verkoop gewees het! Ons kon daardie geld vir die armes gegee het, en nou kom vermors jy dit so!” Die ander manne stem heftig saam.

Jesus maak hulle stil, en verduidelik dat Hy nie meer lank met hulle sal wees nie. Hierdie vrou het Sy liggaam vooruit gesalf vir Sy begrafnis. Petrus voel soos ’n wurm! Niemand het vir die Meester gevra hoe Hý hieroor voel nie! Almal het sommer maar net aangeneem......

“Julle sal die armes áltyd by julle hê,” verduidelik Jesus. Hy sien hulle onkunde en die feit dat hulle nog steeds nie kan begryp dat Hy binne die volgende paar dae tereggestel gaan word nie. Met weemoed kyk Hy ook na Judas. Hoe hard het Hy nie probeer om vir Judas te laat verstaan van die Evangelie nie. Die man het sy hart verhard. Hy was ontnugter toe hy agtergekom het dat Jesus nie dieselfde Messias was wat hy graag sou wou gehad het nie.

Jesus kyk met deernis na die vrou, en dan draai Hy na die manne: “Oral in die hele wêreld waar die evangelie ook al verkondig word, sal daar, ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het.”

Dis tweeduisend jaar later, en steeds vul die vrou se onselfsugtige daad daardie dag elke gelowige met verwondering en deernis. Sy het haar álles gegee vir Jesus, sonder om te dink aan die gevolge. Vra ek en jy onsself ooit af wat Jesus sou wou gehad het? So baie keer doen ons dinge – dikwels baie edel dinge – maar ons soek nie eers die wil van die Here voordat ons dit doen nie. Dikwels vra die Here van ons om iets te doen wat gladnie vir ons sin maak nie, iets wat ons nie verstaan nie. Ek is baie seker dat hierdie vrou nie verstaan het waarom sy Jesus moes salf nie. Maar sy was gehoorsaam toe God dit op haar hart gelê het. Die manne se verstand het vir hulle gesê dat die geld prakties aangewend moes word, maar dit was nie wat die Here wou hê nie.

Die Here vra van ons om fyn te luister na die influistering van die Heilige Gees. Ons kan slegs Sy stem hoor as ons waarlik stil word voor die Here en in navolging van Jesus lewe.

Gebed:

Here, help my asseblief om te kan onderskei tussen my eie wil en U wil!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026