Jesus Word Beledig

28 March, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus Word Beledig

Johannes 8:48-59

VIDEO * OUDIO

Jesus word gruwelik beledig deur die Jode, op die ergste moontlike manier. In die eerste plek noem hulle Hom ‘n Samaritaan. Vir ‘n Jood is dit ‘n verskriklike ding om te sê, want soos ons weet, word die Samaritane verag deur die Jode. Hulle was beskou as verraaiers van die ware geloof en al was hulle half-Joods, was hulle beskou as oneg omdat hulle van gemengde bloed was. Die Jode sou eerder met ‘n volslae heiden gesprek gevoer het as met hierdie “halfgebakte” mense.

Dis so ironies dat wanneer Jesus die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan vertel, dan wys Hy juis daarop dat dit nie die “heilige” Jode is wat goed doen aan ‘n man in nood nie, maar juis ‘n “smerige” Samaritaan. Jesus dra dus duidelik nie dieselfde sentimente in Hom as die Jode nie. Ons het reeds gesien dat Hy dit prakties uitleef deur nie die ompad om Samaria te reis nie, maar deur die landstreek te reis. Verder het ons gesien hoedat Hy waaghalsig ‘n gesprek aanknoop met ‘n baie obskure Samaritaanse vrou. Aan hierdie belediging steur Jesus Hom dus gladnie!

Die tweede belediging wat hulle Hom toeslinger, maak egter seer. Die Jode beweer dat Jesus van die duiwel besete is. Dit kan net eenvoudig nie verder van die waarheid af wees nie. Vandag wonder ons hoe die Jode ooit so blind kon wees. Om Iemand wat nog net goed gedoen het en liefde uitgeleef het tot op die héél hoogste vlak, te beskuldig van duiwelsbesetenheid, is absurd! Het hulle nooit gesien wat Hy gedoen het nie? Het hulle nie opgemerk dat Hy duisende siek mense genees het nie? Het hulle nie die wonderwerke wat Jesus gedoen het, beleef of ten minste daarvan gehoor nie? Wat van die reuse skare wat Hy kos gegee het van slegs vyf brode en twee vissies? En die water wat wyn geword het - sê dit dan niks? Iemand wat van die duiwel besete is, sal gladnie goeie dinge doen nie! En buiten vir al die wonderwerke, moes hulle Hom sékerlik tog gehoor preek het. Nikodemus, hulle hooggeagte kollega het dit wél raakgesien en Hy het Jesus agterna opgesoek om te hoor hoe jy die saligheid kan verkry. Uit alles wat Jesus gesê het moes hulle tog baie duidelik kon sien dat Hy baie beslis nie van die duiwel besete was nie!

Vandag maak dit my diep hier binne seer, dat my Heiland so verskriklik beledig moes word. Hy wat die duiwel beskou as die grootste vyand, was hier deur die geestelike leiers van die volk van God daarvan beskuldig dat Hy en die duiwel in ‘n bondgenootskap gestaan het! Hierdie volk, vir wie Hy uitgekies het nog voor die grondlegging van die aarde af, en wat Hy gedra, beskerm en gekoester het deur die millennia, is dieselfde volk wat Hom nou so wreed verwerp.

Wanneer Jesus hulle antwoord, sê Hy nie ‘n dooie woord oor die aantyging dat Hy ‘n Samaritaan is nie! Wat sou dit in elkgeval saakmaak? Hy het nie net na die aarde gekom vir Jode nie maar ook vir Samaritane, én Grieke, Romeine, Turke en selfs Suid-Afrikaners! Die tweede aantyging ontken Hy egter ten sterkste. Hoe kan dit ook anders?

Vir Jesus het dit egter nie gegaan oor wat die mense oor Hom gesê het nie. Sy doel was immers nie om hier op aarde eer te kom soek nie. As dit die geval was, sou alles baie anders gebeur het en sou Hy in ‘n paleis gebore word en nie ‘n stinkende stal nie! Dan sou Hy ook nie te voet die land deurreis het en snags op die harde grond geslaap het nie. Daar is egter ‘n Groot Regter wat Hom uiteindelik sou verhoog en aan Hom al die eer gee wat Hom toekom. Maar vir nou was daar ‘n baie belangriker saak, naamlik om te kom red. Daarom waarsku Jesus die Jode dat hulle moet luister na wat Hy sê en dit ter harte neem sodat ook húlle, die spotters, die ewige lewe sou kon kry.

Ek wonder soms of daar wél enige van daardie mense uiteindelik tot inkeer gekom het? O ja, ten minste een het tot ander insigte gekom, en die grootste sendeling van alle tye geword - Paulus! As dit kon gebeur met ‘n fanatikus soos Paulus, dan was daar sekerlik ook ander wat tot nuwe insigte gekom het, en Jesus gesien het vir wie Hy werklik was.

Die Jode kom nou en sleep ook vir Abraham by die argument in. Jesus verduidelik vir hulle dat Abraham Hom goed ken, en dat Hy alreeds lank voor Abraham daar was. Hoe kan dit ook anders? Jesus is die Een wat nie net vir Abraham gemaak het nie, maar die ganse heelal uit niks geskep het. Maar dit sou die Jode gladnie verstaan het nie. Toe doen hulle maar wat hulle die beste kon doen: hulle tel klippe op om Hom daarmee dood te gooi. Jesus moes vlug vir Sy lewe!

Hoe ironies, dat die Jode vir Jesus wou doodmaak. Hy was vir hulle juis die één kans om die ewige lewe te kon kry. Sou jy nie hierdie kans met altwee jou hande aangegryp het nie? Ongelukkig herhaal die geskiedenis homself keer op keer, en vandag is die spotters steeds daar - mense wat Jesus, die enigste Weg na die ewige lewe, verwerp, bespot en beswadder. Moenie dieselfde fout maak nie!

Gebed:

Here, dit maak bitter seer as ek vandag lees hoe verskriklik U beledig is. Ek aanbid U en eer U. Dankie dat U ten spyte van al die beledigings, steeds vir my die losprys betaal het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026