Johannes 4:19-30
Jesus het ‘n groot risiko geneem om ‘n gesprek te voer met die vrou by die put. In die eerste plek was dit ongehoord dat Hy met ‘n Samaritaan en boonop nog ‘n vrou ‘n gesprek sou aanknoop. Boonop het haar reputasie nou nie juis die situasie verbeter nie. Hy was ‘n Rabbi met twaalf voltydse leerlinge. Boonop het reuse skares mense na Sy leringe kom luister. Hy kon maklik Sy geloofwaardigheid verloor en Sy volgelinge kon opdroog. Hy kon beslis baie verloor deur hierdie gesprek. Nogtans het Hy gekies om dit te doen, want nie alleen het hierdie arme vrou Hom op daardie stadium in haar lewe bitter nodig gehad nie, maar sy sou ook baie vir Sy bediening onder die Samaritane beteken.
Jesus het vir die verbaasde vrou gewys dat Hy alles van haar af weet, en dat sy selfs haar diepste hartsgeheime nie vir Hom kon wegsteek nie. Toe besef sy dat sy hier met iemand baie spesiaal te doene het. Hoe het hierdie vreemde Man geweet van haar huwelikskatastrofe? En hoe het Hy geweet dat sy in sonde saam met ‘n ander man gebly het? Was Hy dalk ‘n profeet - ‘n Man van God? Sy sou Hom ‘n bietjie toets met ‘n strikvraag waarop niemand werklik ‘n antwoord gehad het nie. Sy sleep dus die groot twispunt oor die tempel tussen die Jode en Samaritane in. Waar sou nou eintlik die regte plek wees om te aanbid - Jerusalem of Sigem?
Hierdie dispuut het eintlik begin toe die tempel in Jerusalem gebou is. Die Samaritane wou saam met die Jode aan die tempel bou, maar die Jode wou hiervan niks weet nie - Samaritane is mos onrein, onthou! En daar begin die hele kwaaivriendskap! Maar dit het ook nie daar geëindig nie. Die Samaritane het ‘n bietjie gaan grawe in die geskiedenis, en toe ontdek hulle dat Abraham volgens Gen 12:6,7 daar by Sigem ‘n altaar vir God gebou het nadat die Here Sy verbond met Abraham bevestig het. Hierdie sou mos nou die éintlike plek wees waar die tempel gebou moes word. Uiteindelik het die Samaritane dan ook hulle eie tempel op die Gerisimberg by Sigem gebou. Die Jode het dit egter weer later vernietig. Toe is almal vir almal kwaad!
Jesus het vir haar verduidelik dat dinge totaal sou verander, en dat dit nie meer sou saakmaak waar ‘n mens aanbid nie. Dit sou gladnie meer nodig wees vir enige heilige plekke nie, nie eers Jerusalem of Sigem nie! Maar sy moes haar oë oophou, want die groot verlossing was op hande. Die Here het hierdie verlossing na die wêreld deur die Jode gekanaliseer.
Verder het Jesus vir haar verduidelik hoe ware aanbidding lyk. Hulle het aanbid sonder om waarlik te besef wat hulle doen. Wanneer hierdie dinge sou gebeur, sou mense werklik eers besef hoe om die Here te aanbid, en wat Hy van hulle sou verlang. Gelowiges sou Hom dan “deur die Gees en in waarheid aanbid” (Joh 4:24). Dit het natuurlik vooruit gewys na die wonderlike werking van die Heilige Gees. Mense sou nou nie meer in tempels of op berge vir God hoef te gaan soek nie, maar die Heilige Gees sal binne-in elke gelowige wees, wat jou natuurlik direkte toegang tot God gee. In plaas daarvan dat gelowiges na God moes gaan, sou Hy nou na die gelowiges toe gaan. Wat ‘n wonderlike gedagte!
Ek weet nie hoeveel hierdie vrou werklik van die gesprek verstaan het nie. Om die waarheid te sê, verstaan ons vandag nog steeds nie, want hoe is dit moontlik vir die Gees om in elkeen van ons te woon? Verstaan ons die alomteenwoordigheid van God? Sal ons ooit Jesus se soenverdienste verstaan? Die vrou se antwoord is dan ook baie insiggewend, dat die Messias, die Christus, alles eendag sal kom bekend maak. Hy sal al die antwoorde op haar vrae hê. Eintlik is dit baie ironies, want sy het steeds nie besef dat dit in werklikheid die Messias was wat daar met haar staan en praat het nie!
Toe antwoord Jesus haar: “Dit is Ek, Ek wat met jou praat.”
Ek dink dat die vrou se oë oopgegaan het, en dat sy begin besef het dat hierdie nie sommer maar ‘n Profeet was nie. Sy het haar kosbare kruik net daar gelos en vir die mense in die dorp gaan vertel. Sy het haar vrees vir wat die mense van haar sê opsy geskuif om die goeie nuus aan almal mee te deel.
Hierdie woorde van Jesus laat jou en my ook voor ‘n besliste keuse. Die eerste ding waaroor ons moet besluit, is of ons gaan aanvaar dat Hy waarlik die Messias is, en nie sommer maar net die een of ander wonderlike Profeet nie. Aanvaar ons dit, dan bring dit ook sekere implikasies mee. In die eerste plek beteken dit dat ek Sy verlossingsgeskenk moet aanvaar, en dus in ‘n persoonlike verhouding met Hom moet staan. Maar daar is ook verdere implikasies. Hierdie geskenk is so groot, dat ek nie anders kan as om ‘n lewe van dankbaarheid te leef. Hierdie vrou het haar dankbaarheid betuig deur te vergeet van wat mense sê van haar, en die blye nuus uit te blaker. Hoe doen ek en jy dit?
Gebed:
Here, dankie dat U ook aan my die waarheid openbaar het. Ek wil dankbaar leef en u Naam verheerlik met alles wat ek doen.