Jesus voor die Joodse Raad

3 April, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus voor die Joodse Raad

Lukas 22:63-71

Jesus het nooit geweld gebruik nie, al het Hy dalk baie goeie rede daartoe gehad. Die enigste insident waarvan ons weet, is toe Hy die spul skelm smouse uit die tempel uitgeboender het. Ons leer Jesus ken as Iemand wat keer op keer konfrontasie ontlont het deur dit te omskep in 'n positiewe geleentheid om die Koninkryk uit te brei. Selfs toe Hy gevange geneem is, en Petrus die slaaf se oor afgekap het, was Jesus steeds die Een wat vrede gemaak het en selfs Sy gewonde vyand se oor genees het.

Wat ‘n wonderlke voorbeeld het Hy nie vir ons gestel nie! As ons dit maar net wou navolg! Maar ai toggie! Hoe gou kan jou humeur tog opvlam as iemand dit sou durf waag om op jou tone te trap!

Dit maak my so verskriklik seer om te moet sien hoedat Jesus, wat gestraal het van liefde en deernis, so verskriklik hardhandig behandel word. Nadat die enigste van Sy volgelinge wat dit nog gewaag het om naby Hom te wees, ook die hasepad gekies het, begin die veiligheidswagte wat Jesus oppas verveeld raak. Om die tyd om te kry, begin hulle die spot dryf met Hom. Hulle blinddoek Hom en dan slaan een van hulle Hom. Hy word dan uitgekoggel om te profeteer watter een van hulle Hom geslaan het. Hy is immers die groot Profeet? Dwarsdeur die nag hou hierdie gespot aan. Allerhande Godslasterlike dinge word Hom toegesnou.

Maar Jesus bly stil en verroer nie ‘n vinger om Homself te verdedig nie. Hy antwoord nie hulle koggelvrae nie. Jesus is besig om die wil en plan van God uit te voer, en Hy doen dit Meesterlik! Ten spyte van Sy benarde situasie (menslik gesproke) is Jesus in volle beheer van wat hier besig is om te gebeur. Sonder dat hulle dit besef, is hierdie mense besig om presies te doen wat God wil hê dat hulle moet doen, en só vervul hulle die eeue-oue profesië.

Uiteindelik breek die dag, en die Joodse Raad word inderhaas saamgeroep vir Jesus se verhoor. Volgens die Joodse wette kon hierdie verhoor slegs in die dag plaasvind. Dit is ‘n skerp teenstelling met die manier waarop Jesus gevange geneem is. Dit moes juis onder die dekmantel van die pikdonker nag gebeur om te verhoed dat die volk in opstand kom. Die volksleiers gee skynheilig voor dat hulle in die lig wandel, maar hulle duistere dade word in die nag gepleeg.

Op die banke sit hulle ingeryg, al die Skrifgeleerdes en priesterhoofde, manne van die kerk, die volledige “kerkraad”! Hulle gee voor dat hulle God hier verteenwoordig, maar in hulle harte broei daar moord, want Jesus het hulle eer gekrenk toe Hy hulle daar in die tempel veroordeel het.

Dan word Jesus die hofsaal binnegelei, nie as Regter nie, maar as beskuldigde. Hoe ironies: die Regter wat eendag sal sit om die mensdom van alle tye te oordeel, moet nou staan as die aangeklaagde voor ‘n regbank van mense wat sélf skuldig is tot die dood toe.

Dit is só belangrik dat ‘n regter absoluut onberispelik moet lewe. Dit is daarom dat die regter wat 'n tyd gelede gevonnis was oor sy dronkbestuur, die regslui so geskud het. Die vraag was gevra, hoe hy nog kon optree as regter, as hy sélf skuldig bevind was? Hoe durf hy dan ‘n oordeel oor ander uitspreek?

Eintlik kom dit baie nader aan ons eie bas, want so dikwels wil ons oor mense oordeel. Ons skinder en praat oor iemand wat gestruikel het in die lewe, en wil dikwels dan sommer die arme mens verdoem. Ons durf dit slegs doen as ons sélf vlekkeloos is, sonder ‘n sweempie van sonde. Géén mens op aarde kan aanspraak maak op só ‘n rein lewe nie! Paulus stel dit onomwonde in Romeine 3:23: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie!” In Lukas 6:37 waarsku Jesus: “Moenie oordeel nie, en julle sal nie geoordeel word nie.”

Die Raad wil poog om Jesus as ‘n “valse Christus” te bewys, maar Hy omseil hulle pogings elke keer. Hulle vra hom direk of Hy dan die Christus is. “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie!” Jesus kon dit nie beter stel nie.

Maar dit is soos water wat van ‘n eend se rug afloop, en steeds probeer die dikvellige “heiliges” vir Jesus uitvang. “Dan ís jy die Seun van God?”

Dis is soos julle sê: Ek ís!” antwoord Jesus hulle vraag so reguit as wat maar kán.

Op grond van die feit dat Jesus die waarheid gepraat het, word Hy veroordeel. Hulle oordeel is dat Sy aanspraak ‘n leuen is.

En so spreek hierdie manne dan eintlik ‘n oordeel uit oor hulleself, want in Joh. 3:18 staan daar duidelik: “Wie in Hom (die Seun) glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel!” Hoe tragies, dat dit juis die baie Godsdienstige mense is wat nie hulle harte kon oopmaak vir die Seun van God nie.

Gebed:

Here, dankie dat U my oë oopgemaak het, dat ek U kon herken as die ware Seun van God.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026