Matteus 17:1-13
Wintertyd kan dikwels uiters frustrerend wees vir die voëlkyker, want dan lyk die hele lot dieselfde. Natuurlik is daar uitsonderings, maar as jy kyk na die KBV’s (dis nou die Klein Bruin Voëltjies), dan is daar bitter min verskil. Moontlik is die een se bekkie ‘n bietjie swarter of rooier as die ander, of sy pootjies is oranje en nie vaal nie. Maar verder lyk hulle vir die leek presies dieselfde.
Maar wanneer die somer aanbreek en broeityd kom, ontplof hierdie selfde ou vaal voëltjies in kleurvolle laventelhane, dis nou die mannetjies. Die Koningrooibekkie trek ‘n pikswart manelpak aan met swierige lang sterte en ‘n spierwit hemp. Die vaal Paradysvink verruil sy grys werksklere vir ‘n indrukwekkende pikswart tuxedo waarvan die stertpunte wie-weet-hoe-ver agterna sleep, en daarby ‘n roomkleur hemp en ‘n oordrewe rooibruin strikdas. Meneer Rooikopwewer trek ‘n bloedrooi mus oor sy kop wat tot op sy skouers hang. Meneer Rooivink dra ook ‘n bloedrooi mus maar met ‘n pikswart masker en hemp en ‘n rooistert baadjie. Langstertflap ondergaan ‘n asemrowende metamorfose van ‘n vaal ou KBV’tjie met ‘n niksseggende kort stertjie tot ‘n sjarmante pikswart pierewaaier met ‘n halfmeter lange welige blinkswart stert en ‘n swart en wit baadjie met bloedrooi skouerklappe. As hy oor die hoëveld se grasvlaktes fladder, kan niemand hom miskyk nie!
Gewoonlik herken jy nie eers hierdie grys voëltjies nie, maar net nóg ‘n ou valetjie. Maar vir ‘n kort tydjie kry hulle skielik name en hulle word raakgesien! En dis veral die wyfie-vaalvoëltjies wat ékstra hard kyk! Moet hy dan nou eers sy tuxedo en strikdas aantrek voordat hy belangrik word?
Matteus beskryf ‘n insident waar Jesus saam met Petrus, Jakobus en Johannes teen ‘n berg opgeklim het. Ons moet onthou dat Jesus soos enige ander Joodse man gelyk het. Dit was alleen die dinge wat Hy gesê en gedoen het wat Hom anders gemaak het as die ander. Selfs Sy eie dissipels het gesukkel om Hom te herken as die Messias. Selfs tot op die héél einde was hulle nog nie eers seker nie. Dit was slegs vir vlugtige oomblikke wat hulle waarlik seker was oor Wie Hy werklik was!
Dan gebeur hierdie byna onbeskryflike ding op die berg, die gebeurtenis wat permanent in die geheues van die drie manne ingegraveer is. Skielik verander Jesus se hele gedaante. Sy gesig blink helder soos die son. Dan verskyn Moses en Elia uit die hemel om saam met Jesus te verkeer. Vir Petrus en sy makkers is hierdie asemrowende verskynsel een te veel. Hulle wil dit vir altyd so bewaar. Hulle wil selfs vir hulle hutte daar bou sodat hulle vir ewig daar kan bly. Dan verskyn daar skielik ‘n helder wolk oor hulle en ‘n gesagvolle stem praat uit die wolk: “Dit is my geliefde Seun, oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.” Petrus-hulle val op die grond neer as hulle die Stem van God hoor.
Vir hierdie drie manne was dit uiters kosbare oomblikke! Maar het hulle werklik verstaan wat gebeur het?
Moses en Elia verteenwoordig die Wet en die Profete. Hulle verskyning is ‘n bevestiging dat die hele Ou Testament uitmond in Jesus. Hulle legitimeer sy Messiasskap, al die beloftes van die OT word in Jesus vervul. Verder is 17:5 feitlik ‘n woordelikse herhaling van Matt 3:17 (by Jesus se doop). Aan die begin van Jesus se bediening bevestig God wie Jesus is – Seun van God en dat Hy met goddelike sanksie optree. In 17:5 word hierdie feit herbevestig, voor Jesus na Jerusalem reis om te sterf vir die sonde van die wêreld. Opnuut ‘n versterking vir Jesus voor sy Via Dolorosa begin. Die 3 dissipels het dit ook gehoor – dat Jesus die Seun van God is. Dit word duidelik aan hulle geopenbaar, maar hulle val in vrees neer. Jesus stel hulle gerus: Moenie bang wees nie – presiese woorde wat hy op die see sê asook ‘n paar ander geleenthede, elke keer wanneer iets oorweldigends gebeur. Moenie bang wees nie, vertrou my, alles is onder beheer – wil Jesus vir sy dissipels sê.
Dikwels aanvaar ons Jesus maar as vanselfsprekend. Hy is mos maar daar! Hy het so deel van ons alledaagse lewe geword dat ons Hom nie meer herken as die Ware Lewende God nie. Ek kry dikwels diep seer as ek hoor hoe Christen-gelowiges verkleinerend of alledaags van Jesus praat. Dikwels word daar skertsend of selfs in ‘n grap na Hom verwys, wél in ‘n goeie sin. Maar met sulke soort opmerkings bring ons eintlik vir Jesus af na die vlak van die mens in ‘n slegte of vernederende sin!
Inderdaad is Hy elke oomblik van die dag by my en ek kan te enige tyd met Hom gesels. Inderdaad kan ek al my vreugdes, sorge en smarte met Hom bespreek. Maar ons moet altyd onthou WIE en WAT Hy werklik is. Hy is uiteraard God ALMAGTIG! Hy is die Koning van alle konings, die Skepper van die heelal! Hy is die Een wat vir ewig op die troon sit en regeer oor alles en almal! Ons moet te alle tye aan Hom daardie nodige eer en respek betoon, al sien ons Hom nie in die glans en glorie wat Petrus en sy makkers Hom gesien het nie.
Kom ons verheerlik vandag vir Jesus, en betoon aan Hom die respek wat Hom toekom!
Gebed:
Here Jesus, ek aanbid U as my Koning en my Here en my God. Al die lof en dank en aanbidding kom U alleen toe!