Lukas 23:44-49
Twee dramatiese dinge gebeur kort voor Jesus se dood. Die eerste is toe daar skielik duisternis oor die land toesak. “’n Gewone sonsverduistering!” sou ons dalk kon sê. Miskien, maar die tydsberekening van hierdie “sonsverduistering” was absoluut perfek. Dit het die hele land geraak, en simbolies het dit vir die volk gesê dat God Sy lig oor die Volk van God uitgedoof het. Hoe verskriklik! Vir ‘n volle drie ure het hierdie duisternis aangehou en het die son opgehou om oor die land te skyn!
Ons kan baie in hierdie gebeurtenis lees. Wou God dalk simbolies daarmee sê dat Hy hiermee die lig van Sy teenwoordigheid van Sy volk onttrek het omdat hulle Sy Seun verwerp het? Dalk kan ons hierin die verskriklike duisternis van die sonde lees, en die simboliese afwesigheid van God. Wat ‘n verskriklike gedagte! Dat ‘n mens op ‘n tydstip kan kom waar God totaal afwesig is? Dit is te afgryslik om eers daaraan te dink, want dit is daar waar die Bose oorheers. Waarom dink jy is Sataniste so lief vir swart? Dit simboliseer natuurlik God se afwesigheid.
Wat ookal die simboliek van hierdie duisternis - dit het die volk aan die hart gegryp. Ek dink dat dit baie mense teruggeruk het na die werklikheid toe en dat hulle besef het dat dit wat hulle so pas gedoen het baie verkeerd was.
Terselfdertyd gebeur daar egter ‘n tweede wonderwerk: die voorhangsel skeur. In die tempel was daar ‘n swaar gordyn wat permanent gehang het tussen die Heilige en die Allerheiligste. Slegs die Hoëpriester was toegelaat om agter hierdie gordyn in te gaan, en dan ook slegs een keer per jaar. Simbolies het die gordyn beteken dat dit die skeiding was tussen mens en God, want agter hierdie gordyn was Sy “woonplek”. Vir die volk van Israel was hierdie Allerheiligste baie kosbaar, want dit het beteken dat God mét hulle was.
Toe daardie gordyn dus skeur, was dit vir hierdie volk ‘n verskriklike ramp, want skielik was God nie meer agter die gordyn in hulle midde nie. Matteus skryf dat die gordyn van bo na onder geskeur het. Dit het die feit nog verder beklemtoon dat dit ‘n “daad van Bo” was, en dat God persoonlik hierdie gordyn kom skeur het.
Wat egter vir die Joodse volk ‘n ramp was, sien gelowiges vandag in ‘n totaal ander lig. Dit was nie ‘n negatiewe handeling van God nie, maar eerder ‘n positiewe handeling. In die eerste plek sien ons daarin dat God in volle beheer was van die situasie. Dit is Hý wat die inisiatief geneem het om die gordyn te skeur. Tweedens sien ons hierin dat Hy nou nie meer eksklusief net vir die volk Israel ‘n God was nie, maar dat toegang tot Hom nou oopgestel (oopgeskeur) was aan almal wat Hom wou aanbid. Die derde wonderlike simboliek wat ons hierin sien is dat daar nou nie meer ‘n skeiding is tussen God en die mens nie, want Hy het die inisiatief geneem om hierdie swaar skeidingsgordyn vir ewig weg te skeur. Nou het almal vrye toegang tot God!
Nadat hierdie dinge gebeur het, het Jesus hard uitgeroep: “Vader, in U hande gee Ek my gees oor.” Toe sterf Hy. Tot op die laaste oomblik was Jesus ten volle gehoorsaam aan God, en voer Hy die wil van God uit.
Selfs die geharde Romeinse offisier, wat seker al duisende mense sien sterf het, was aangegryp deur die gebeure, soveel só dat hy God geprys het en verklaar het dat Jesus waarlik onskuldig (regverdig) was. Hoe kon dit ook anders, want al die tekens uit die hemel het dit dan bewys!
Die mense wat daar saamgedrom het, was verslae. In Grieks staan daar letterlik dat hulle op die bors geslaan het, ‘n teken van bittere berou oor dit wat hulle toegelaat het om te gebeur. “Wat het ons tog gedoen!” Menige Jood het sékerlik daardie droewige middag vir homself hierdie vraag afgevra! Dit was ‘n pikdonker dag vir die ganse Israel! Die volk het God verwerp, en nou het God getoon deur Sy wonderhandelinge dat Hy ook die volk verwerp het!
Maar Jesus se vriende - Petrus en die ander was ook daar naby iewers. Op ‘n afstand het hulle al die verskriklike gebeure dopgehou. Hulle het alles gesien gebeur. Hulle was ooggetuies van God se handelinge en van Jesus se kruisiging en Sy dood. Op daardie oomblik het hulle egter nie geweet wat om daarmee te doen nie - hulle was totaal verslae!
Maar toe die volle werklikheid eers tot hulle deurgedring het, het hulle kragtige getuies geword en die blye nuus van Jesus se versoening en verlossing wêreldwyd verkondig en uitgebasuin. Ek en jy is ook getuies van hierdie gebeure, en ons het ‘n verantwoordelikheid om nie stil te bly daaroor nie. Gelowiges se taak is om die blye nuus van die Evangelie uit te basuin!
Gebed:
Here, ek durf nie stilbly oor hierdie dinge nie! Gee my die moed, gewilligheid en ywer om te vertel!