Lukas 23:44-49
Twee dramatiese dinge gebeur kort voor Jesus se dood. Die eerste is toe daar skielik duisternis oor die land toesak. “’n Gewone sonsverduistering!” sou jy dalk kon sê. Miskien, maar die tydsberekening van hierdie sonsverduistering was absoluut perfek. Simbolies het dit vir die volk gesê dat God Sy lig oor die Volk van God uitgedoof het. Hoe verskriklik! Vir ‘n volle drie ure hou hierdie duisternis aan, hou die son op om te skyn oor die land.
Ons kan baie in hierdie gebeurtenis lees. Wou God dalk simbolies daarmee sê dat Hy hiermee die lig van Sy teenwoordigheid van Sy volk onttrek het omdat hulle Sy Seun verwerp het? Dalk kan ons hierin die verskriklike duisternis van die sonde lees, en die simboliese afwesigheid van God. Wat ‘n verskriklike gedagte, dat jy op ‘n tydstip kan kom waar God totaal afwesig is! Dit is te afgryslik om eers aan te dink, want dit is dáár waar die Bose oorheers. Waarom dink jy is Sataniste so lief vir swart? En waarom gebeur hulle byeenkomste in die nag? Dit simboliseer natuurlik God se afwesigheid.
Wat ookal die simboliek van hierdie duisternis, dit het die volk aan die hart gegryp. Ek dink dat dit baie mense teruggeruk het na die werklikheid, en dat hulle besef het dat dit wat hulle so pas gedoen het bitter baie verkeerd was.
Maar terselfdertyd gebeur daar ‘n tweede wonder: die voorhangsel skeur. In die tempel was daar ‘n swaar gordyn wat permanent gehang het tussen die Heilige en die Allerheiligste. Slegs die Hoëpriester was toegelaat om agter hierdie gordyn in te gaan, en dan ook slegs een keer per jaar. Simbolies het die gordyn beteken dat dit die skeiding was tussen mens en God, want agter hierdie gordyn was Sy “woonplek”. Vir die volk van Israel was hierdie Allerheiligste baie kosbaar, want dit het beteken dat God met hulle was.
Toe daardie gordyn dus skeur, is dit vir hierdie volk ‘n verskriklike ramp, want skielik is God nie meer agter die gordyn in hulle midde nie. Matteus skryf in sy Evangelie dat die gordyn van bo na onder geskeur het. Dit wil die feit nog verder beklemtoon dat dit ‘n “daad van Bo” was, en dat God persoonlik hierdie gordyn kom skeur het.
Wat egter vir die Joodse volk ‘n ramp was, sien ons as gelowiges vandag in ‘n totaal ander lig. Dit was nie ‘n negatiewe handeling van God nie, maar eerder ‘n positiewe handeling. In die eerste plek sien ons daarin dat God in volle beheer was van die situasie. Dit is Hý wat die inisiatief geneem het om die gordyn te skeur. Tweedens sien ons hierin dat Hy nou nie meer eksklusief net vir die volk Israel ‘n God is nie, maar dat toegang tot Hom nou oopgestel, letterlik oopgeskeur is aan almal wat Hom wil aanbid. Die derde wonderlike simboliek wat ons hierin sien is dat daar nou nie meer ‘n skeiding is tussen God en die mens nie, want Hy het die inisiatief geneem om hierdie swaar skeidingsgordyn vir ewig weg te skeur. Nou het ons vrye toegang tot God.
Nadat hierdie dinge gebeur het, roep Jesus hard uit: “Vader, in U hande gee Ek my gees oor!”
Toe sterf Hy.
Tot op die laaste oomblik is Jesus ten volle gehoorsaam aan God, en voer Hy die wil van God uit.
Selfs die geharde Romeinse offisier, wat seker al duisende mense sien sterf het, is aangegryp deur die gebeure, soveel so dat hy God prys en verklaar dat Jesus waarlik onskuldig (regverdig) was. Hoe kan dit anders, want al die tekens uit die hemel wys dit dan!
Die mense wat daar saamgedrom het, was verslae. In die nuwe direkte vertaling staan daar dat die mense teruggegaan het terwyl hulle op hulle bors geslaan het. Dit was ‘n teken van berou oor dit wat hulle toegelaat het om te gebeur. “Wat het ons tog gedoen!” moes menige Jood sekerlik daardie droewige middag vir homself afgevra het. Dit was ‘n bitter donker dag vir Israel. Die volk van God het God verwerp, en nou het God getoon deur Sy wonderhandelinge dat Hy ook die volk verwerp het.
Maar Jesus se vriende, Petrus en die ander, was ook iewers daar naby. Op ‘n afstand het hulle al die verskriklike gebeure dopgehou. Hulle het alles gesien gebeur. Hulle was ooggetuies van God se handelinge en van Jesus se kruisiging en Sy dood. Op daardie oomblik het hulle nie geweet wat om daarmee te doen nie. Hulle was totaal verslae, alleen en bitter verward.
Maar later, toe die volle werklikheid eers tot hulle deurgedring het, het hulle kragtige getuies geword, en die blye nuus van Jesus se versoening en verlossing wêreldwyd verkondig. Hulle het dit wyd en syd uitbasuin. Ek en jy is ook getuies van hierdie gebeure. Ons leer dit immers uit die wonderlike Woord van God, en ons het dus ook ‘n verantwoordelikheid om nie te swyg daaroor nie. As gelowiges is dit ons taak om die blye nuus van die Evangelie uit te basuin.
Gebed:
Here, ek durf nie stilbly oor hierdie dinge nie - gee my die moed en ywer om te vertel.