Die geur van wierook is vasgevang in my geheue vir altyd. ‘n Onthou-geur wat my gedagtes terugneem na ‘n besoek aan Durban se Oosterse Mark in my kinderdae.
So ‘n Oosterse mark is ‘n wonderwêreld van speserye en kruie, van rye en rye bont stalletjies met kleurvolle fyn materiale en eksotiese vrugte, en van oorgretige verkoopsmanne met ‘n ongekende oorredingsvermoë. En dan natuurlik daardie geur van wierook wat swaar in die lug hang.
Maar nie almal is ewe gek na wierook nie. Baie mense kan die reuk daarvan nie verdra nie. Vir sommige mense gee dit hooikoors of asma, en voel dit of hulle wil doodgaan van daardie einste nostalgiese geur.
En dit is presies waarvan Paulus hier praat as hy in 2 Kor 2:15 skryf dat ons as gelowiges soos wierook is. Ons versprei die geur van Christus wanneer ons geloof brandend is. Vir sommige mense is daardie geur iets wat hulle laat verlang om ook deel te wees van die kerk van Jesus. Maar ongelukkig is daardie selfde geur vir ander mense weer ‘n walglike doodsreuk. Dit is die mense wat maar ál te deeglik besef dat Jesus die enigste Weg is, maar met sulke beuselagtighede soos geloof wil hulle nie hulleself ophou nie. Die ewige dood is hulle voorland, maar die prys om te betaal vir verlossing is net eenvoudig te groot! Die geur van Christus spel vir hulle “DOOD”.
Maar nou loop ek eintlik vandag se Skrifgedeelte vooruit. Die hele aanloop tot die wierook-storie het begin by sekere gemeentelede in Korinte wat vir Paulus en die ander gemeentelede baie droefheid veroorsaak het, moeilikheidmakers wat die lewe vir almal versuur het. Die probleem is: hoe hanteer jy sulke korrelkoppe?
Met groot liefde! Natuurlik kan jy dit nie sommer maar net sy gang laat gaan nie. Die pitsweer moet uit die weg geruim word, anders gaan dit die ganse gemeente verteer. Die probleem moet uitgestryk word met die persoon, maar dan is die groot geheim dat jy hom vergewe en daarvan vergeet. Jy durf dit nie nog vir die volgende paar jaar teen hom hou nie. Paulus was bitter seergemaak deur hierdie situasie, so kan ons aflei. Maar hy het die persoon (of persone) alreeds vergewe, en nou vra hy die gemeente om dieselfde te doen. Maar dit is nie net om te vergewe nie. Daardie persoon moet met hartlikheid weer in die gemeente opgeneem word. “Vergewe en bemoedig,” pleit Paulus, “en bewys liefde aan hom” (v. 7 en 8). Om kwaad te bly vir die man, sou beteken dat jy eintlik die planne van die duiwel uitvoer, en dit wil géén gelowige doen nie!
Wat Paulus aan die Korintiërs skryf, geld natuurlik presies net so vir ons vandag. Ek het al te dikwels gesien dat die gemeente vir ‘n persoon kwaad bly en hom net eenvoudig nie wil vergewe nie, of nog erger, nalaat om die saak met hom uit te klaar. Miskien is die leiers te bang vir konfrontasie om met hom te praat. Ek is self daar skuldig, want ek kan konfrontasie net eenvoudig nie hanteer nie - een van my swakhede. Uiteindelik sneeubal die ding dan, sodat die gemeente in twee verdeel word. As dit eers so ver gegaan het, is dit bitter moeilik om die situasie te ontlont. Aan die ander kant het ek ook die resultate gesien, van ‘n sweer wat oopgesteek en uitgepraat word.
‘n Moeilikheidmaker het gewoonlik ‘n baie sterk persoonlikheid, en as hy in liefde weer in die gemeente ingetrek word, kan hy van onskatbare waarde vir die gemeente wees. Kry hom dus eerder aan jou kant as teen jou!
As hierdie soort dinge eers in ‘n gemeente begin gebeur, en die hegte bande van liefde wat die gemeente aanmekaar bind, word sigbaar buite die gemeente, dan is jy besig om die heerlike geur van Jesus te versprei.
Iemand vertel my van ‘n Moslem vrou wat tydens 'n uitreik na Jordanië na haar toe gekom het. Die vrou het die opmerking gemaak, dat hierdie Christen-uitreikgroepe almal so verfrissend anders is. Hulle liefde vir mekaar is só opmerklik!
Sondagoggende na die erediens, staan die lidmate van ons gemeente vir baie lank nog en gesels en koffie drink, en dikwels moet jy sukkel om hulle weg te kry. Waarom? Omdat die geur van liefde en eenheid versprei word. Dikwels is hier besoekers van elders, en dan kuier hulle heerlik saam, en voel hulle dadelik deel van die “gesin.” Dit is die soort wierook waarvan Paulus skryf.
Ek wil vanoggend vir jou vra: hoe welkom voel mense by jou gemeente? Mense het al dikwels vir my gesê dat hulle nie lekker kuier by hulle eie kerk nie. Hoe kry jy dit reg om mense as ‘n gesin saam te laat kuier en so die gemeenskap van die heiliges te laat be-oefen? Bid saam met ‘n paar vriende oor die saak, en neem dan ‘n besluit om een Sondagoggend net te staan en lekker gesels. Trek ander van buite in deur julle hartlikheid, en weldra sal daar sommer ‘n heerlike groep wees wat hulle liefde met mekaar deel en so die wierook van Jesus versprei.
Gebed:
Here, ek wil graag U liefde versprei aan almal met wie ek in aanraking kom.