Jesus se Wederkoms

9 July, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus se Wederkoms

Openbaring 22:6-21

Ons het aan die einde van Openbaring gekom. Vir my persoonlik was dit ‘n reuse ervaring om oor hierdie skatkis van simboliek en beeldspraak te kon skryf. Ek het so verskriklik onwaardig gevoel om dit te durf waag om Openbaring aan te pak, en ek moet vanoggend baie eerlik sê dat ek baie bang was om dit te doen, en baie gebid het voor ek kon waag om oor hierdie wonderlike boek te skryf.

Vir my persoonlik was dit ‘n openbaring, want ek het dit vir baie jare as ‘n geslote en onverstaanbare boek aanskou wat slegs deur ‘n handjievol baie slim manne verstaan kan word. Ek het dit altyd net durf waag om enkele bekende gedeeltes daaruit te lees. Vir my het Openbaring egter nuwe betekenis gekry, die oomblik toe ek lees hoe die verskillende kommentare dit verduidelik. Nou is Openbaring nie meer vir my die boek van vrees, oordeel en totale misterie nie, maar die boek van God se onverklaarbare gróót liefde en genade. Ek hoop dat jy dit ook so ervaar het.

Johannes beklemtoon dat wat hier geskrywe staan waar is. Die engel het dit immers sélf vir hom gesê!

Daar was destyds talle apokaliptiese geskrifte in omloop, soortgelyk aan Openbaring. Vandag verskyn talle soortgelyke boeke steeds. Die meeste van hulle se inhoud is egter baie verdag, en kan nie die toets van betroubaarheid en waarheid slaag nie. Openbaring is egter totaal anders, daarom beklemtoon Johannes dat hierdie boek waar en betroubaar is. Ons kan nie anders as om die inhoud te glo nie! Die boek se oorsprong is immers die Here God! Ek glo met my hele hart dat dit die Heilige Gees is wat Johannes die inspirasie en opdrag gegee het om hierdie kosbare boek te skryf. Wanneer ons byvoorbeeld lees dat die Here Jesus se koms naby is, dan is dit uit Sy eie mond wat ons dit hoor (Op. 22:7). Johannes bevestig dan ook dat sy getuienis betroubaar is, want hy het alles gesien en gehoor. Dit was nie maar net ‘n verbeeldingsvlug nie, maar hierdie asemrowende visioene was God se besonderse onthullings aan Johannes.

Baie ander apokaliptiese boeke word verseël totdat die regte tyd aanbreek om dit te lees, of slegs enkele bevoorregte mense kry insae daarin. Johannes kry egter die opdrag om die inhoud van die boek te onthul sodat elke mens op aarde die wonderlike boodskap kan hoor, dat die koms van die Here Jesus naby is! Inderdaad sien ons dit vandag so duidelik in alles wat rondom ons gebeur. Vir die ongelowige is dit ‘n beklemming om die hart om te sien hoedat die wêreld besig is om na sy einde te snel. Aardverwarming, en nou ook die afgryslike Kovid 19 boesem vrees in by elke ongelowige, want hulle sien die einde van die aarde nader spoed. En elke keer as ’n doemprofeet ’n voorspelling maak van ’n onsigbare planeet wat ons gaan tref of een of ander groot katastrofe, soos byvoorbeeld die Maya’s se voorspelling oor die einde van alles in Desember 2012, dan heers daar paniek onder die ongelowiges. Vir die gelowige is dit egter met opgewonde afwagting dat ons die dinge aanskou, want ons weet dat Jesus binnekort gaan kom.

Jesus sê ook vir Johannes dat Hy loon sal saambring. Oor hierdie woorde is daar nie eenstemmigheid nie. Sou dit beteken dat jy tóg beloon gaan word in die Hemel vir dit wat jy op aarde gedoen het? Sal die persoon wat sy hele lewe opgeoffer het vir die Evangelie ‘n groter loon kry as dié een wat maar net saamgery het? Sommige teoloë meen dat almal dieselfde loon sal kry, en dat daar géén onderskeid in die Hemel sal wees nie. Die loon is immers om in volmaakte gemeenskap met die Lam te leef. Dit is nie jou dade wat beloon word nie, maar jou dade toon tóg of jy ‘n navolger van die Lam is of nie.

Aan die einde van Openbaring moet ek myself vra of Jesus se wederkoms vir my ‘n verskriklike berg is wat voorlê, of ‘n wonderlike gebeurtenis om na uit te sien? Johannes is borrelend opgewonde oor die wederkoms, en die hele skepping smag daarna dat daardie dag moet aanbreek. Vir die gelowige is daar niks om te vrees nie, want ek is reeds vrygespreek van die oordeel. Daarom kan ek saam met ‘n reuse skare gelowiges uitroep: “Kom Here Jesus, kom gou!”

My vraag aan jou vanoggend is egter of jy ook so daaroor voel? Sien jy ook met groot verlange uit na Jesus se wederkoms? Of sit jy dalk met vrees in jou hart, want jy weet nie of jy die binnekant van die Hemel sal sien nie? As jy met daardie verskriklike angs sit, smeek Jesus by jou om te kom en van die water van die lewe te kom drink. Dis verniet! Jy hoef niks daarvoor te betaal nie!

My gebed is, dat jy saam met my smag: Marana ta! Kom Here Jesus, kom gou!

Gebed:

Dankie Here Jesus, vir die groot voorreg wat U my gegee het om hierdie wonderlike boek te kon lees en bestudeer. Dankie vir al die boodskappe van genade en liefde wat opgesluit is hierin, en dat U my opnuut hierdeur versterk en getroos het. Marana ta! Kom Here Jesus!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026