Johannes 11:45-57
Lasarus se opwekking uit die dood het ‘n geweldige groot invloed gehad op alles wat sou plaasvind oor die volgende klompie dae. Die mense wat daar was, het almal gesien wat gebeur het, en baie van hulle kon net eenvoudig nie anders as om tot geloof te kom in Jesus nie. Die ander wonderdade kon dalk nog op ‘n manier verklaar word, maar hier het hulle voor hulle oë die absolute onmoontlike sien gebeur, iets wat alleen maar net van God af kon kom! Dit kon beslis nie anders nie, Jesus móés net eenvoudig die Messias, die Seun van God wees!
Hierdie gevoel was egter nie deur almal gedeel nie. Daar was ook ‘n groepie skeptiese manne en hulle het reguit na die Fariseërs gehardloop om met hulle die ontstellende nuus te deel. Hierdie nuutste wonderwerk van Jesus het vir hulle die rooi ligte laat flikker! Hier was gróót moeilikheid op pad as Jesus só sou aangaan! Dit kon selfs op ‘n opstand uitloop!
Die Joodse Raad, die hoogste gesag in die Joodse samelewing was inderhaas bymekaargeroep. Hulle het bestaan uit al die politieke- en godsdienstige leiers van die gemeenskap. Die besluit wat hulle sou neem, sou hulle dus namens die ganse Joodse volk neem. Ons sien baie duidelik hoe bang hierdie manne was, want as daar ‘n opstand sou kom, dan was dit klaarpraat met hulle. Die Romeine was baie verdraagsaam teenoor die Jode. Hulle kon hulle godsdiens bedryf soos hulle wou en maar rustig hulle kulturele sake reël. Hulle het dit egter nie geduld dat daar enigsins politieke onstabiliteit kom nie. Dan het hulle met ‘n ysterhand ingegryp! Hulle het natuurlik ook die Jode baie goed geken en hulle het geweet hoe vinnig hierdie nasie se humeur kon opvlam. Hulle was nog al die jare so en vandag is hulle nog presies dieselfde. Dit was die rede waarom die Romeinse troepe in Jerusalem ontplooi was en altyd op ‘n gereedheidsgrondslag was om toe te slaan op die geringste teken van opstand. ‘n Skamel 30 jaar later, in 70 nC, gebeur die ergste dan ook juis en Jerusalem word totaal vernietig. Hulle trots, die tempel, het letterlik van die aardbol af verdwyn, sodat daar vandag nie ‘n teken daarvan oor is nie!
Die Joodse Raad was dus gladnie verniet so opgestres oor die situasie nie. Kajafas, die hoëpriester, het egter met ‘n oplossing gekom. Een Man moes vir die volk sterf sodat die nasie nie verlore sou gaan nie. Kajafas het self nie mooi besef wat die omvang was van dit wat hy kwytgeraak het nie. Die gedagte van plaasvervanging, waar een persoon sterf tot voordeel van al die ander, het hy beslis nie bedoel in die sin waarin ons dit vandag verstaan nie. Johannes verduidelik egter, dat God vir Kajafas gebruik het om te profeteer dat Jesus vir die nasie sou sterf. Maar dit sou in werklikheid uitkring na die ganse wêreld toe!
Dit klink vir ons dalk vreemd dat God ‘n vyand van Jesus sou gebruik om so ‘n uitspraak te maak. As ons egter deur die geskiedenisboeke blaai, sien ons dat Hy dikwels totale heidene gebruik het om Sy doel te bereik. Hierdie is maar net nóg so ‘n voorbeeld. Terselfdertyd moet ons egter ook onthou dat, alhoewel hierdie hoëpriester téén Jesus gekant was, hy op daardie stadium die belangrikste Godsdienstige figuur was en diens gedoen het as die aardse middelaar tussen God en Sy volk. Hy het dus as profeet namens God gepraat. God se wil was dat Jesus namens die volk sou sterf en Hy het dit bekendgemaak deur die hoëpriester. As Jesus dus aan die kruis hang, is dit omdat God hom daar wou hê en nie omdat die Jode so besluit het nie.
Die uurglas was besig om uit te loop. Spanning was aan die opbou oor die grootste gebeurtenis van alle tye, ‘n gebeurtenis só groot, dat selfs die kalender daarvolgens ingerig is. Gelowiges sowel as ongelowiges moet net eenvoudig kennis neem! Die Jode het koppe bymekaargesit en begin met hulle finale beplanning om Jesus vir ewig uit die weg te ruim. Jesus het egter hulle grypende vingers ontglip en vir ‘n rukkie in Efraim saam met Sy dissipels gaan bly. Maar die Paasfees - Jesus se laaste Paasfees as Mens op aarde was naby. Van oral af in die platteland het mense na Jerusalem gestroom vir hierdie onvergeetlike fees. Die verhoog word gereed gekry vir dáárdie verskriklike Vrydag.
Almal kon die spanning voel opbou. Mense het vir mekaar gevra of hulle gedink het dat Jesus na die fees toe sou kom? Almal het geweet dat as Hy Sy opwagting daar sou maak, sou Hy nie weer lewendig daar weggaan nie. Ook die Joodse leiers het hulle finale reëlings begin tref. Mense word opdrag gegee, dat as Jesus Sy gesig sou wys, moes hulle onmiddellik laat weet word sodat Hy in hegtenis geneem kon word.
Ek het hierdie geskiedenis al oor en oor gelees en beleef en elke keer klop my hart in my keel van spanning. Gaan God se plan uitwerk? Ek wil nie hê dat Jesus so verskriklik moet ly nie. Maar elke keer moet ek net weereens besef dat God se gedagtes soveel hoër is as myne - dat Sy beplanning perfek is en dat Hy van beter weet. Ook in my eie lewe vandag, moet ek besef dat Hy steeds in beheer is, en dat ek maar net kan berus by die dinge wat Hy beplan het.
Gebed:
Here, dankie dat ek vanoggend maar net weer kan weet dat U alles in U bekwame hande hou.