Markus 11:27-33
Die volgende dag is hulle weer by die tempel. Vir Petrus is dit heerlik en hy verlustig hom in alles wat daar gebeur. Maar dan is dit asof iemand hom met ‘n skottel yswater in die gesig gooi. Sy hart krimp ineen as hy die groepie ernstige Fariseërs reg op sy Meester afgestap sien kom. Saam met hulle is daar nog ‘n paar manne wat baie belangrik lyk, seker maar Skrifgeleerdes en familiehoofde. Wat gaan hulle doen? Gaan hulle nou sy Meester gevange neem soos wat Hy voorspel het? Maar dan bedaar Petrus as hy sien dat hulle nie sulke dinge gaan probeer nie. Petrus staan nader om móói te kan hoor wat hulle vir Jesus sê. Dan hoor hy dat hulle Hom eintlik ‘n vraag vra, en Petrus het nou al geleer dat as hierdie addergebroedsels vrae vra, is dit beslis nie omdat hulle iets wil leer nie!
“Op watter gesag doen jy hierdie dinge? Of wie het aan jou dié gesag gegee dat jy hierdie dinge kan doen?” Hulle klink maar bra omgekrap!
Petrus wonder hoe Jesus hierdie tameletjie gaan antwoord?” Vertel Hy die waarheid, dan gaan hulle Hom verséker arresteer, want as Hy sê dat Hy dit met God se gesag doen, dan gaan hulle sê dat dit Godslasterlik is. Wat gaan Hy sê?
Meesterlik beantwoord Jesus hulle strikvraag met ‘n teenvraag: “Die doop van Johannes, was dit van die hemel of van mense?”
Petrus wonder waarom hý nie daaraan gedink het nie? Hy lag in sy mou en hy wonder hoe die slim manne uit híérdie een gaan kom? Maak nie saak watter kant toe hulle antwoord nie, hulle gaan moeilikheid optel!
Met ‘n stout glimlag kyk Petrus toe hoe die manne onder mekaar brom om ‘n antwoord te kry. Uiteindelik draai een om: “Nee, ons weet nie.”
En dan kry Petrus baie lekker as hy hoor hoe sy wonderlike Meester hulle antwoord: “Dan sê Ek ook nie vir julle op watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”
Jesus het dwarsdeur die slim manne gesien! Hy het natuurlik gewéét dat hulle nie werklik belang gestel het in ‘n antwoord nie, hulle wou Hom net probeer vastrek. Sou dit enigsins verskil gemaak het in hulle lewens as Hy hulle vertel het dat Hy nie alleen die langverwagte Messias was nie, maar boonop die Seun van God? Sou dit werklik hulle lewens verander het as Hy aan hulle openbaar het dat Hy die Almagtige God is wat mens geword het? Ek wonder soms of Jesus nie dalk gebrand het om dit vir die wêreld uit te basuin nie. Maar wie sou Hom glo? Baie beslis nie die Fariseërs nie! Dit sou hulle net rede gee om Hom onmiddellik te stenig vir Godslastering!
Jesus het egter geweet dat daar slegs enkele dae oor was voordat alles op die lappe sou kom, soveel só dat selfs die Romeinse soldaat by die kruis sou uitroep in verwondering: “Waarlik, Hy was die Seun van God!” Jesus het óók geweet dat Hy deur stilswye nóg ‘n rondte sou wen teen die duiwel en die manne wat gedink het dat hulle so verskriklik slim was!
Vandag weet ons natuurlik presies met watter gesag Jesus al hierdie dinge gedoen het. En veral nadat ons Markus se Evangelie tot hier gelees het, begin jy Jesus se gesag waarlik besef. Dink maar aan die wonderdade waarvan ons gelees het, hoedat Hy derduisende mense kos gegee het met slegs vyf brode en twee ou vissies. Die asemrowende genesingswonders wat Jesus gedoen het, slaan jou asem weg: ‘n blinde wat oombliklik kon sien sonder ‘n ingewikkelde operasie; ‘n man wat sy lewe lank verlam was, wat skielik huppel en rondspring soos ‘n jong seun; ‘n kind wat al dood was en dan skielik springlewendig en gesond is. Is dit nie al genoeg om Jesus se gesag te bewys nie? Maar dan sien ons boonop hoedat Hy nie net in menselewens kon ingryp en ‘n verandering maak nie, maar óók Sy gesag selfs oor die natuur uitoefen. ‘n Verwoede storm bedaar oombliklik wanneer Jesus dit beveel om stil te word. Hy maak alle natuurwette nietig wanneer Hy doodluiters op die see oor die branders aangestap kom.
Jesus se gesag strek egter véél wyer as die dinge hier op die aarde! Ons het gesien hoe die hemel oopskeur tydens Sy doop, en hoe die Heilige Gees op Hom neergedaal het uit die Hemel. God het met ‘n hoorbare stem uit die Hemel gepraat sodat die mense daar teenwoordig dit kon hoor. Later was dit weer Moses en Elia wat uit die hemel afgeklim het om eer te betoon aan Jesus op die berg, en weereens het God uit die hemel met Jesus gepraat en Hom verheerlik.
Om die Fariseërs se vraag te beantwoord: Jesus het wáárlik opgetree met God se gesag. Ons kan slegs op een van twee maniere reageer op Jesus se gesag: Ons kan dit verwerp, soos die wetsgeleerdes gedoen het, of ons kan dit gelowig aanvaar. Verwerp jy dit, dan verbeur jy die wonderlike voorreg om deel van God se gesin te wees. Aanvaar jy dit egter en maak dit jou eie, dan deel jy in al die voorregte van Sy gesin.
Gebed:
Here, dankie dat U my oë oopgemaak het sodat ek kan sien wie Jesus waarlik is. Dankie dat U my uit U groot genade deel gemaak het van U gesin!