Jesus se Gebedsworsteling

26 October, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus se Gebedsworsteling

Markus 14:32-40

VIDEO * OUDIO

Dit is die langste nag óóit in Petrus se lewe, waar hy saam met Johannes en Jakobus teen die skurwe stam van ’n knoetsige ou olyfboom gaan sit. Hy is moeg tot diep in sy siel. ’n Entjie van hulle af sien hy Jesus op die grond in die flou maanlig kniel. Die hele aand se gebeure maal weer deur sy kop. Die skok van Jesus se aankondiging dat een van húlle Hom sou verraai. Hy sien weer Judas se gesig, asvaal, skuldig! Dit kan maar nét Judas wees! Ja, hy moes dit geweet het! Hy het nog nooit rêrag vir Judas mooi kon vertrou nie! Daar is net iets omtrent daardie man........

Hy hoor sy Meester saggies bid, en hy kan hoor dat Jesus deur ’n verskriklike sielewroeging gaan: “Abba Vader, alle dinge is vir U moontlik!” Jesus se smeekwoorde kom na Petrus op die koel nagluggie aangesweef. “Neem hierdie beker van My af weg – nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.”

Vir Petrus voel dit asof ’n dolk deur sy hart steek, om sy Meester so te hoor pleit. Hy hoor die rou pyn in Jesus se stem, en dit maak baie seer. Trane loop oor Petrus se wange. Hoe bitter swaar het sy Meester nie al gekry die afgelope paar dae nie! Elke dag kon hy sien hoedat Jesus geestelik uitgemergel word. Die spanning was by tye ondraaglik. Maar steeds het Jesus blymoedig voortgegaan om te preek en mense te leer. Daar is ‘n dringendheid by Hom om so veel as moontlik in ’n baie kort tydjie af te handel, asof Hy nog net ’n paar dae oor het het om te leef!

En die alewige priesterhoofde en Fariseërs en Herodiane! As dit nie die een is nie, dan is dit die ander! Hulle is soos klein brakkies wat net kef en hap, al om ’n mens se enkels. Wat probeer hulle doen? Die vuur van haat en jaloesie gloei gedurig in hulle oë. Hierdie manne het net één ding in gedagte: om Jesus vas te trek en Hom in die tronk te kry, nes dit gegaan het met Johannes. Arme Johannes!

Die vaak oorval Petrus en hy begin droom, die allerverskriklikste nagmerries. “Simon! Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur lank te waak nie?”

Met ‘n hart wat wild bons, skrik Petrus wakker. “Jammer Meester!” Hy voel baie skuldig. Hoe kon hy slaap terwyl Jesus met God worstel?

Nou is die ander twee ook wakker, en half deur die slaap hoor hulle hoe Jesus hulle bekommerd vermaan: “Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” En daarmee draai Hy om om verder te gaan worstel met God.

Petrus kyk beskuldigend na die ander twee: “Julle ouens het nou die dag nog gesweer dat julle saam met die Meester Sy lydensbeker sal drink. Toe julle netnou al geslaap het, het ek gehoor hoe Hy by God pleit om daardie lydensbeker weg te vat. Dit was hartverskeurend om Hom so te hoor.”

“Watter soort vriende is ons? Ons is almal besig om Hom in die steek te laat!” Johannes voel bitter skuldig. Dan sak ’n doodse stilte oor hulle neer terwyl hulle met pyn in die harte lê en luister hoe Jesus worstel en wroeg in gebed. Maar vir hierdie drie is die vlees net eenmaal te swak, en weldra verval hulle weereens in slaap.

In totale eensaamheid, verlaat selfs van Sy intiemste vriende, worstel Jesus, die Seun van God deur Sy grootste krisisuur. Sal ons ooit die ware omvang van Sy lyding kan begryp? Sal ons óóit kan verstaan waardeur Jesus werklik daardie nag gegaan het? Lukas vertel dat Jesus fisies bloed gesweet het daardie nag. Bloeddruppels het op die grond geval terwyl hy worstel in gebed. Al was Hy die Seun van God, was hy terselfdertyd ook ten volle mens, met dieselfde angste en gevoelens as enige ander mens. Wat dit soveel erger gemaak het, is die feit dat Hy presies geweet het wat in daardie volgende ure op Hom sou wag, die verskriklike vernedering en die ondraaglike pyn wanneer die soldate Hom gésel. Ek was verskriklik ontsteld toe ek die fliek “Passion of Christ” gekyk het. Dit was veral die toneel waar hulle Jesus gegésel het, waar ek nie verder kon kyk nie. Baie mense het kapsie gemaak teen daardie tonele. Maar is dit nie maar wat werklik gebeur het nie? En Jesus het presies geweet waarvoor Hy Hom inlaat.

Dan die kruisiging - totaal verlaat van vriende; verlaat van familie; verlaat...... van God! Hy sou moes hang in die mees uitmergelende pyn denkbaar, Sy gewrigte verbrysel deur dik ysterspykers.

Die sondes van die ganse mensdom sou op Hom neerkom; die straf vir die sondes van die ganse aarde moes Hy dra.

En Sy vriende lê en slaap......

Markus wil elke leser van hierdie Evangelie, ook vir jou en my, probeer aanspoor om ’n beter dissipel te wees as wat hierdie manne was. Om te waak en te bid dat ons nie in die versoeking sal kom nie. Hierdie oproep van Jesus aan die manne, weergalm deur die tuin van Getsemane, weergalm oor die ganse wêreld, weergalm deur die eeue sodat ek en jy vandag ook moet kennis neem. Nee, nie alleen kennis neem nie, maar dat ons waarlik gaan doen wat Jesus vra. Die angs wat Hy daardie nag gely het, was ook vir my en ook vir jou. Is ons waarlik opreg dankbaar daarvoor?

Gebed:

Here, ek sal nooit kan begryp hoe groot U lyding waarlik was nie. Maar ek wil dankbaar leef voor U. Help my om my dankbaarheid prakties te kan uitleef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Eensgesindheid
16 January, 2026
Die Groot Geskenk
15 January, 2026
Genade en Vrede!
14 January, 2026
Die Nagmerrie Gemeente
13 January, 2026
Briewe aan ‘n Gemeente
12 January, 2026