Jesus se Familie

17 August, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus se Familie

Markus 3:31-35

VIDEO * OUDIO

Wat leer ons in die Bybel van Jesus se gesin? Van Pa Josef lees ons bitter min. Teen die tyd toe Jesus begin optree het, hoor ons niks van hom nie, dus kan ons aanneem dat hy reeds dood was. Hy was ‘n timmerman en sy oudste Seun, Jesus het sy ambag by hom geleer. En ja, daar was ander kinders ook: Jesus het broers gehad. Daar word egter nie melding gemaak van susters nie. Dit was dus ‘n doodnormale gesin.

In die Nuwe Testamentiese tye was ‘n gesin ‘n baie hegte eenheid, selfs nadat die kinders reeds uit die huis was en hulle eie gesinne gehad het. Alles het letterlik gedraai rondom jou uitgebreide gesin, en niks sou vir jou te veel wees om vir hulle te doen nie. Die gesinslede het deur dik en dun bymekaar gestaan.

In die vorige perikoop het ons egter gesien dat Jesus se gesin ongemaklik begin voel het met die dinge wat Hy besig was om te doen, en hulle het begin vermoed dat Hy “van Sy sinne beroof was.” Hulle was baie bekommerd oor Hom. Wanneer só ‘n ramp ‘n gesin getref het, was die gesinslid nie summier verwerp as die “swartskaap” van die familie nie. Die gesin sou steeds vir die “afgedwaalde” lid bly omgee. En presies só was dit met Jesus se familie. Markus vertel dat hulle besluit het om Hom te kom haal, want Hy het hulle nodig gehad om Hom weer op die regte pad te kry. Hy moes huistoe kom, waar Hy behoort het. Hy was immers die Skrynwerker van Nasaret en beslis nie ‘n “straatprediker” nie!

Markus vertel dat Jesus se familie buite bly staan het. Hulle wou nie in die huis inkom soos Jesus se volgelinge nie. Die mense wat werklik in Jesus belang gestel het, het rondom Hom gesit. Hulle wou naby Hom wees. Sy opponente het egter daar buite bly staan. Kon ‘n mens dalk nou Jesus se familie ook klassifiseer as Sy opponente? Nee, beslis nie! Hulle het nou wel die dinge waarmee Hy Hom besig gehou het verwerp, en daarom het hulle buite bly staan. Hulle het Hom as familielid egter gladnie verwerp nie.

Dankie tóg dat hierdie situasie ‘n paar jaar later totaal verander het. Jesus se broer, Jakobus, het ná Jesus se hemelvaart tot nuwe insigte gekom en besef wie sy Broer werklik was. Daarna het hy ‘n baie groot rol gespeel as leier in die nuwe Christelike kerk en later selfs een van die Bybelboeke geskryf.

Toe Jesus se familie Hom kom haal het, was Sy antwoord: “Wie is My moeder en my broers?” Toe het Hy vir die mense by Hom verduidelik dat Sy moeder en broers diegene was wat hier rondom Hom gesit het. Hy het dus Sy bloedfamilie verruil vir ‘n nuwe gesin: diegene wat die wil van God gedoen het. Húlle was nou Sy gesin.

Die vraag is: hoe doen jy die wil van God? Eenvoudig: jy volg Jesus!

Ons kan nou ‘n paar gevolgtrekkings maak in die lig van wat ons so pas gelees het: As Jesus Sy volgelinge klassifiseer as Sy broers en susters, kan ons mos nou ook sê dat ek en jy Sy broers en susters is, want ons volg Hom mos? Maar dan moet ons ook terselfdertyd sê dat ons dan mos broers en susters van mekaar is. Ons is dus een groot gesin. En dit is presies wat die kerk is. Die kerk is nie ‘n gebou nie, en dis ook nie ‘n sekere gemeente nie. Dit is nie eers ‘n spesifieke denominasie nie. Die kerk is ál die volgelinge van Jesus gesamentlik. En dit is wat die kerk soveel anders maak as ‘n sportklub of ‘n politieke party. Die kerk is een groot hegte familie van broers en susters.

Ons kan gaan leer by die gesins-opset van Jesus se tyd. In hierdie perikoop sien ons dat Jesus se gesin bekommerd was oor Hom, want Hy was “van Sy sinne beroof.” Hulle was gladnie gelukkig met Sy optrede nie. Volgens hulle het Hy skande oor die goeie naam van die gesin gebring. Wat het hulle gedoen? Het hulle Hom verwerp? Nee! Al het hulle, soos Sy opponente buite die kring bly staan, het hulle steeds omgegee, en hulle wou Hom terugneem huistoe.

Wat maak ons as een van ons kerk-gesinslede ons in die skande steek? Wat maak ons as iemand wat deel is van die kerk, struikel? Gewoonlik word hy summier verwerp! Ons distansieer ons van die persoon. Dikwels word so ‘n persoon selfs ‘n uitgeworpene in die samelewing.

Net soos wat gesinslede in ‘n familie dikwels hemelsbreed van mekaar verskil, so verskil gesinslede in die familie van Jesus ook van mekaar. Ons het nie almal dieselfde siening nie. Sommige van ons is charismaties, terwyl ander weer eng gereformeerd is. Ons verskil oor die doop en baie ander dinge. Selfs binne ons eie denominasie is daar dikwels groot meningsverskille oor sekere geloofsake en daar word soms heftig gestry. Ons beleef dit elke dag. Maar vandag wil ek ‘n beroep doen op jou, liewe leser, dat ons ons medegelowiges sal respekteer vir hulle sienings, en hulle nie daaroor sal afkraak nie. Hy is immers jou boetie en sy jou sussie! Kom ons bewys eerder ware liefde aan mekaar, soos wat Jesus vir ons die voorbeeld gestel het. Kom ons behandel mekaar soos ‘n ware gesin dit behoort te doen.

Gebed:

Dankie Here vir die reuse gesin wat U my gegee het. Dankie dat ek so baie broers en susters het, en al is die meeste van hulle soveel anders as ek, weet ek vandag dat ons één ding in gemeen het: Jesus ons Verlosser en Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026