Jesus se Doop

28 July, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus se Doop

Lukas 3:20-21  

Video

Oudio

In twee kort sinnetjies beskryf Lukas ‘n gebeurtenis wat mense se asems skoon weggeslaan het - die dag toe God uit die hemel neergedaal het en Sy stem duidelik hoorbaar weerklink het tydens Jesus se doop. 

Lukas gee nie veel inligting oor hierdie groot gebeurtenis nie. Hy sê nie eers waar dit gebeur het of dat Johannes die doop-plegtigheid waargeneem het nie. Uit ander gedeeltes in Lukas kan ons wél aflei dat dit in die Jordaanstreek plaasgevind het en dat dit Johannes was wat die doopwerk gedoen het. Dit word natuurlik ook wel deeglik beskryf in die ander evangelies. Lukas wou egter met hierdie beskrywing van die gebeurtenis dit baie duidelik stel dat dit nie Johannes was wat Jesus gedoop het nie, maar God  Sélf! Die weglating van die plek van die doop, beklemtoon ook die feit dat dit vanuit die HEMEL gebeur het. Lukas sê dat die hemel oopgegaan het! 

Wat presies het daardie dag gebeur? As ons al die gegewens rekonstruktureer, sien ons vir Johannes besig om te preek (soos gewoonlik!), en hy moedig die hoorders aan om tot bekering te kom. Hulle moet van hulle sondes wegdraai. As teken dat God hulle sondes vergewe het, doop hy hulle. Die water was dan simbolies die ou sondes skoon af, en hulle staan voor God as nuwe mense. Dit klink asof daar ‘n groot klomp mense was wat daardie dag gedoop is. 

Jesus was ook daar. Toe Sy tyd aanbreek, het Jesus gebid. Hy was dus in gesprek met God, soos ons by verskeie geleenthede sien, elke keer wanneer daar ‘n belangrike gebeurtenis in Jesus se lewe was. Vir Hom, die Heilige, was dit noodsaaklik om te bid, hoeveel te meer nie vir jou en my wat so geweldig afhanklik is van God nie! Gebed is ons geestelike asemhaling, en die manier waarop ons met God kan kommunikeer. Ons absolute afhanklikheid van Hom, maak dit noodsaaklik om elke besluit en gebeurtenis in ons lewe met Hom te bespreek. Hierdie dagstukkie gebeur byvoorbeeld in biddende afhanklikheid aan Hom, want daarsonder kan dit nooit plaasvind nie. Die doel is nie om vanoggend uit te brei op die verskillende soorte gebed nie, maar bloot om te sê hoe geweldig belangrik gebed vir die gelowige is, en hoe afhanklik ons daarvan is.

Die doop was verby, en terwyl Jesus nog daar staan, bid Hy. Die volgende oomblik gaan die hemel oop, en terwyl Hy nog staan en bid sien die omstanders iets wat lyk soos ‘n duif op Hom neerdaal uit die hemel - die Heilige Gees in sigbare gestalte. Vanuit die hemel kom daar terselfdertyd die stem van God wat sê: “Jy is My geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” God was dus Persoonlik betrokke by die doop van Jesus, en hiermee gee Hy aan Jesus Goddelike gesag. Met hierdie gesag sal Hy vir die volgende paar jaar van Sy bediening optree. Met die beeld van die hemel wat oopgaan, kom God as’t ware Self binne-in die geskiedenis van die mense in. 

Die Heilige Gees wat so sigbaar op Jesus neergedaal het, is nie alleen ‘n teken van die teenwoordigheid van die Gees nie, maar dit is vir ons die hemelse goedkeuring dat Jesus namens God mag optree, asook die teken dat Jesus se bediening amptelik begin het. Hierdie is dan ook ‘n bevestiging van die woorde van die engel Gabriël in Lukas 1:32-35.

Wat sê Jesus se doop vandag vir ons? Is dit maar net nog ‘n gebeurtenis in die geskiedenis waarvan ons moet kennis neem? Baie beslis nie! Die feit dat Jesus saam met ‘n klomp ander mense gedoop is, bevestig die feit dat Hy Hom met doodgewone mense soos ek en jy vereenselwig. Hy is nie ‘n God daar ver in die hemel nie, maar is saam met ons. Hy het dit bevestig in Mat. 28, waar Hy gesê het dat Hy tot aan die voleinding van die wêreld saam met ons sal wees. Dit bring ons by die feit dat ons in gesprek met Hom kan gaan te enige tyd en op enige plek. Ons het hier bo gesien hoe belangrik gebed vir Hom was, en dan kan ons maar net besef hoe belangrik dit vir ons is. Gebed is nie noodwendig die formele aanbidding van God nie, maar ook die informele praat met Hom wat alomteenwoordig is. Hoe meer jy dit doen, hoe nader beweeg jy aan God. 

Die ander sy van die saak moet ons ook baie duidelik sien, en dit is die Goddelike gesag wat Jesus gekry het. Nie alleen is Hy by ons nie, maar in Hom het ons die hoogste gesag wat ooit toegeken is. Ons hoef dus nie met allerhande ompaaie, soos so dikwels in ons aardse rompslomp gebeur, na God te gaan nie, maar ons gebed is ‘n gesprek direk met die allerhoogste gesag. Wat ‘n wonderlike voorreg!

Gebed:

Here, ons kan maar net in verwondering staan by hierdie gebeure, en U loof en dank vir dit wat U vir ons vermag het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026