Jesus se Begrafnis

19 September, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus se Begrafnis

Matteus 27:57-66

VIDEO | OUDIO

Jesus het gesterf – Sy asem uitgeblaas! Die ander Evangelies beskryf hoedat die soldaat die spies in Sy sy druk om dóódseker te maak dat Hy wél gesterf het. Vir Matteus is dit egter nie eers nodig om dit te beskryf nie. Almal het immers gewéét dat Hy dood was.

Nou is die verskrikking van die kruis uiteindelik verby. Al die spot, haat en marteling was verby! Jesus het ‘n eerlose dood gesterf, behandel soos ‘n misdadiger wat aan ‘n vloekhout moes sterf. Volgens Galasiërs 3:13 is elkeen wat aan ‘n kruishout hang, vervloek! In skande moes Hy daar nakend hang ten aanskoue van almal, vervloek deur die kerkleiers, vervloek deur die volk. Vervloek deur God? Durf ons dit sê?

Maar dan ontvang Jesus ‘n eervolle begrafnis in ‘n nuwe rykmansgraf. Volgens Joodse gebruik moes ‘n lyk voor sononder begrawe word. Die dag het reeds ver aangestap, en daar moes haastig gewerk word om betyds alles te reël.

Josef van Aramatea was ‘n vermoënde man en beslis ook invloedryk. Hy het immers die moed en vrymoedigheid gehad om met Pilatus te gaan praat oor Jesus se begrafnis. Hiermee stel hy homself in gevaar om hom die Joodse Raad se gramskap op die hals te haal.

Pilatus stem in dat Josef die liggaam kon neem, en Jesus se naakte liggaam word in linnedoeke toegedraai en in Josef se graf neergelê. Sodoende bewys hy die laaste eer aan Hom. Nie een van Jesus se dissipels was eers naby nie! Almal het Hom verlaat en die taak was op Josef om alles eiehandig te doen. Ja, daar was darem twee vroue wat gesit en kyk het wat Josef doen, maar selfs húlle het niks gedoen om te help nie, net daar voor die graf bly sit.

Inderdaad het God weereens voorsien op die regte tyd. Toe daar niemand was wat die moed gehad het om Jesus se liggaam te versorg nie, het Hy vir Josef gestuur, die enigste man wat die moed sowel as die middele gehad het om die taak te verrig. Ons moenie Jesus se dissipels te gou oordeel hieroor nie. Onthou, hulle was verward, doodbang en platgeslaan. Hulle hele wêreld het ineengetuimel en hulle het nie geweet watter kant toe nie. Dalk sou ek en jy presies dieselfde gedoen het. Petrus het darem probeer en hy kon vir ‘n rukkie die hofverrigtinge bywoon, maar toe val hy self ook bitter hard. Josef was dus God se antwoord om Sy Seun, Jesus, ‘n eervolle en waardige begrafnis te gee. Sodoende begin die eerste stap van Jesus se verheerliking.

Maar alles was nie pluis nie. Die Joodse Raad het baie gou van Josef se planne gehoor en hulle het gevaarligte sien flits. Die dissipels kon dalk Jesus se liggaam steel! Dan kon hulle mos beweer dat Jesus werklik opgestaan het soos wat Hy gesê het! As hulle dit sou regkry, kon hulle dalk die ganse volk opsweep! Nee, dit kon beslis nie gebeur nie! Hulle moes baie gou ‘n plan beraam om alles te fnuik! Die volgende dag, Saterdag, oftewel die Sabbatdag het hulle vir Pilatus hulle dilemma gaan verduidelik. Hy het ingestem om hulle ‘n wag te gee wat die graf sou verseël en dit dag en nag bewaak. Hoe ironies dat hierdie manne wat so verskriklik nougeset die Sabbat onderhou het, só desperaat was dat hulle nou skielik nie ‘n probleem gehad het om werk te doen op die Sabbat nie! Hulle wou Jesus doodmaak oor Hy iemand gesond gemaak het op die Sabbat, en nou het hulle véél erger dinge op die Sabbat gedoen! Dis egter nog méér ironies dat hulle met hierdie handeling van hulle, hulle eie kele afgesny het en presies in God se hand gespeel het. Die blote feit dat hulle sélf die graf verseël het, boonop met die goewerneur se kenteken en dit bewaak was deur Romeinse soldate onder húlle toesig, het gemaak dat enige moontlikheid van bedrog by Jesus se opstanding uit die weg geruim was.

Hier is dalk ‘n stukkie Goddelike humor betrokke, want dit is lagwekkend. Die Jode het alle voorsorgmaatreëls teen die arme verskrikte dissipels getref en skoon vergeet dat hulle eintlik met die Almagtige God te doene gehad het! Teen Hom is sulke maatreëls absoluut lagwekkend. Boonop het hulle hulleself gesaboteer, want die hele situasie was onder húlle jurisdiksie, en as enigiets verkeerd sou loop kon niemand anders beskuldig word as hullesélf nie!

Nou was die verhoog gereed vir die gróót gebeurtenis en die heelal wou bars van opgewondenheid! Paassondag was byna-byna daar!

Jesus se lyding, kruisiging, dood en opstanding hoort alles bymekaar. ‘n Mens mag nooit by die kruis alleen gaan vashaak nie, want sonder die dood en opstanding sou die kruisiging óók betekenisloos wees. Inderdaad is dit nét so met jou eie lewe: alles wat jy op aarde mag deurmaak is totaal betekenisloos as daar nie ‘n opstanding en ‘n lewe na die dood was nie. Daardie nuwe lewe is in der waarheid die hoogtepunt in jou ganse lewe! Jou worsteling op aarde is maar net die begin van alles.

Gebed:

Here, dankie dat ek kan uitsien na ‘n wonderlike ewige lewe in heerlikheid. Dankie dat ek vandag verseker kan weet dat Jesus nie in die graf gebly het nie, ten spyte van die Jode se pogings, maar dat Hy my vooruitgegaan het om ook vir my plek te berei in die wonderlike saligheid van die hemel!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026