Jesus Kom Weer

11 October, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus Kom Weer

1 Tessalonisense 5:1-11

VIDEO | OUDIO

Ek het net weer die kortstondigheid van die lewe beleef toe my skoondogter in die fleur van haar lewe skielik weggeruk is uit ons midde. Tydens die Covid-pandemie is etlike van ons vriende net skielik dood na ‘n kort siekbed. Dit het my telkemale diep geruk! Ja, die tyd en dag weet ons nie, dit kan totaal onverwags kom, soos 'n dief in die nag! Is jy gereed, as jou einde dalk skielik vandag moet kom?

Vandag gesels ons egter nie oor die dood nie, maar wél ‘n sakie wat naby verwant is daaraan: Jesus se wederkoms. Dit is natuurlik ook ‘n baie omstrede saak, want verskillende mense verstaan dit verskillend. Die Jehovah's Getuies wil byvoorbeeld beweer dat die wederkoms reeds in 1918 plaasgevind het, of moontlik in 1945.

Sommige mense glo dat daar twee wederkomste sal wees en dat die wegraping 'n werklikheid is. Ander glo weer dat daar nie so ‘n ding soos die wegraping sal wees nie. Oor hierdie dinge wil ek my beslis nie uitlaat nie, en ek sê by voorbaat dat ek geen briewe hieroor sal antwoord nie, want ek wil nie in ‘n sinnelose argument betrokke raak nie. Daar is egter twee dinge wat ons baie duidelik moet weet oor die wederkoms, en dit is dat dit baie onverwags gaan plaasvind, en dat ek en jy gereed moet wees daarvoor.

Verskeie “profete” het al spesifieke datums vir die wederkoms van Jesus voorspel. Daar is kort-kort nuusberigte van die een of ander kultus wat êrens sit en wag vir die dag, en as die dag dan nie aanbreek nie, is daar ‘n massa-selfmoord wat die ganse wêreld skok. Nog baie onlangs het ‘n groot aantal mense geglo dat 21 Desember 2012 die einde van die wêreld sou wees. Hulle bewerings was gegrond op die Maya kalender. Hoe kan jy Christus se wederkoms baseer op 'n spesifieke dag omdat 'n groep afgodsaanbiddende priesters so gesê het? Dit het toe natuurlik nie gebeur nie.......

Paulus stel dit baie duidelik dat dit ons sal oorval soos ‘n dief in die nag. As jy geweet het wanneer ‘n dief sou inbreek, kon jy hom voorgelê het. Maar so sal hy hom nie laat vang nie! Inderdaad kan absoluut niemand voorspel wanneer dit sal gebeur nie. Die Tessalonisense het verwag dat die wederkoms in hulle tyd sou plaasvind, want die tekens van die tye was reeds daar. Vandag sien ons die tekens wat die wederkoms vooruitgaan nog soveel duideliker. Sommige mense sê wél dat daar nog sekere dinge in Israel moet gebeur voordat die wederkoms kan plaasvind, maar sê nou net hulle verstaan dalk die profesieë verkeerd. Die wederkoms kan in werklikheid vandag gebeur. In elk geval vind die wederkoms in ‘n sekere sin vir jou plaas as jy vandag dalk onverwags in ‘n motorongeluk of aan ‘n hartaanval sou sterf.

Dit is teen hierdie agtergrond wat Paulus ons vermaan om te alle tye gereed te wees om Jesus te ontmoet, hetsy in Sy wederkoms of as jy sou sterf. Die vraag is of jy vandag gereed is om jou Here te ontmoet?

Die eerste eenvoudige vraag is, of jy weet wat met jou sal gebeur wanneer jy sterf of as Jesus vandag sou kom. Is jy seker dat jou naam in die boek van die lewe geskryf is en dat jy saam met Jesus in die hemel sal wees? As jy nie vandag daardie sekerheid het nie, dan is daar ‘n eenvoudige stap: skryf vir my ’n briefie na louis@dagstukkie.co.za of stuur ‘n WhatsApp na 082 771 4925. Jy kan my ‘n boodskap stuur deur slegs hier te klik: bit.ly/dsWA Ek sal met groot liefde vir jou verduidelik wat dit behels om ‘n kind van God te word.

As jy egter reeds daardie sekerheid het, is daar ander dinge wat jy in ag moet neem oor jou gereedheid. Dan is die vraag nie meer óf ek saam met Jesus sal wees nie, maar eerder hoe ek my Christenskap uitleef. Sal ek in skaamte voor Hom staan en verduidelik dat ek gedink het dat daar nog baie tyd was, en ek dus niks vir Hom gedoen het nie, of sal ek met vrymoedigheid na Hom kan gaan, met die wete dat ek my lewe aan Hom gewy het? En nee, as gelowiges hoef ons nie in vrees en bewing voor Hom te staan en straf te verwag waar ons dalk laks was of gesondig het nie!

Hoe moet ‘n gelowige wag op Jesus se wederkoms? Paulus verduidelik: Ons moet wakker en nugter wees. Om wakker te wees beteken dat ons nie oorgerus moet raak nie. Nugterheid beteken dat ons geestelik en moreel gebalanseerd moet lewe; dat ons selfbeheersd en kalm moet wees, en dat ons ons plig moet doen en ons roeping vervul. Hoe doen ons dit? Deur ons liefde ten volle uit te leef in alle aspekte van die lewe. Soos ‘n soldaat wat ‘n borsharnas dra, só moet ons geloof en liefde gebruik om ons hart te beskerm. Maar ‘n soldaat is eintlik in diens van die koning en ander mense, en so moet ons liefde uitvloei na elkeen met wie ons in aanraking kom, maar veral ook na ons Koning.

Is jy gereed vir daardie ontmoeting?

Gebed:

Here, hou my asseblief paraat en waaksaam en arbeidsaam - gereed om Jesus te ontmoet!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026