1 Johannes 1:1-4
Gerugte doen die rondte dat Jesus nooit fisies bestaan het nie, maar dat dít wat in die Bybel oor Hom geskryf is geestelik gesien moet word, amper iets soos ‘n gedig. Ander slim mense wil weer beweer dat Jesus wél 2000 jaar gelede geleef het en dat Hy ook gekruisig en begrawe is, maar dat Hy nooit uit die graf opgestaan het nie. Hy het slegs in die harte van Sy dissipels opgestaan!
Vandag het ons die wonderlike voorreg om uit die pen van Johannes die volle waarheid te kan lees. Vir drie jaar lank was hy elke dag in Jesus se geselskap. Hy het saam met Jesus gewoon, geleef en gewerk. Hy praat dus met die grootste gesag moontlik oor Jesus. Met sy eie twee oë het hy gesien wat Jesus doen. Hy het al die wonderwerke en genesings beleef, selfs dooies wat lewendig gemaak is. Met sy eie twee hande het hy aan Jesus gevat. Jesus was nie ‘n geestelike wese nie maar ‘n konkrete werklikheid, ‘n mens in vlees en bloed. Met sy eie twee ore het Johannes en sy mede-dissipels die verstommende uitsprake van Jesus aangehoor, die wonderlike gelykenisse wat Hy vertel het wat die skares aan Sy lippe laat hang het. Die raak antwoorde elke keer as die geleerdes Hom probeer vastrek het, was asemrowend! Die hoogtepunt was egter daardie preek op die berg wat na 2000 jaar steeds weergalm en mense se harte diep aanraak!
Van dáárdie Jesus getuig Johannes dat hy nie anders kon as om tot die besef te kom dat, alhoewel Hy mens was, Hy ook waarlik God is. Hy was van die begin af reeds daar. Wanneer daardie begin was - dit kan géén menseverstand verwerk nie want dit is in die vergetelheid van tyd. Dit was vóór enige tyd en selfs vóór die skepping, selfs voordat daar nog énigiets was. Jesus, saam met die Vader en die Heilige Gees het alles wat bestaan, die onmeetlike groot heelal, die aarde en uiteindelik ook die mens geskep. Slegs ‘n gek en dwaas sal dit nie glo nie! Saam met die skepping het ook lewe gekom, lewe wat Hy geskep het. Maar nog baie belangriker: Hy het ook die ewige lewe gegee, lewe wat sal voortduur tot in alle ewigheid!
Sonder die geloof dat daar ‘n ewige lewe is, is die lewe op aarde absoluut sinneloos. Die gedagte aan ‘n ewige lewe gee sin aan alles. Dit spoor jou aan om ook daardie intieme, persoonlike verhouding met die lewende Jesus te hê wat Johannes gehad het. Johannes borrel behóórlik oor van opgewondenheid as hy praat van sy verhouding met Jesus en hy wil dit met almal deel. Hy wil ook dat ons daardie opgewondenheid met mekaar deel. Jy bedryf jou geloofslewe op twee vlakke, horisontaal en vertikaal. As jy na ‘n kruis kyk, dan sien jy eerste die paal wat hemelwaarts reik. Net so moet jy ‘n vertikale verhouding met God hê. Maar soos die horisontale dwarsbalk van die kruis toon, is jou verhouding met God onlosmaaklik van ‘n verhouding met mense rondom jou. ‘n Verhouding met Jesus is nie ‘n alleen-verhouding nie, maar behels ook mede-gelowiges sowél as ongelowiges.
Wanneer jy ‘n ware intieme verhouding met God het, kan dit nie anders nie as om oor te loop in ‘n borrelende blydskap. Dankie tóg dat daardie dae verby is toe almal gedink het dat wanneer jy die kerkgebou binnestap, dan moet jy jou stroewe kerkgesig opsit en jy durf nie eers glimlag nie. Onthou jy nog?
Ek kan nie wág dit dit Sondagoggend moet word nie, want vir my is ‘n Erediens op Ballito elke Sondag ‘n héérlike belewenis. Wanneer jy die kerkgebou instap, wag daar ‘n paar stralende gesigte op jou om jou welkom te heet! Nie aangeplakte glimlaggies nie, maar gelowiges wat oorborrel van lewensvreugde! Jy voel sommer dadelik lus vir die erediens.....
Die musiekspan is hart en siel in alles wat hulle doen en jy voel sommer die warm liefde straal wanneer hulle die gemeente lei in lofprysing en aanbidding. Hulle het waarlik die kuns aangeleer om ‘n atmosfeer van aanbidding in die gemeente te skep!
Ná die erediens wil niemand huistoe gaan nie. Almal sit op die vrolike bankies onder die ou groot vyeboom en koffie drink en kuier vir wie-weet hoe lank, want dis héérlik om deel te wees van God se gesin!
Dit is ’n wonderlike en baie opwindende wete dat blydskap en vreugde nie maar iets is wat eendag gaan gebeur in die hiernamaals nie, maar dat ons dit reeds nóú kan ervaar. Die Ewige Lewe is ook nie iets vir die eendag nie maar jy het reeds die Ewige Lewe die dag wanneer Jesus deel word van jou lewe. In 1 Joh. 1:1-4 verduidelik Johannes dat Jesus mens geword het en dat die gevolg daarvan is dat ek en jy lewe en blydskap kan hê. Die feit is dat Lewe die resultaat is van hierdie openbaring en dat blydskap tot stand kom wanneer gelowiges dit met mekaar deel en só gemeenskap tot stand bring. Die gemeenskap waarvan hier gepraat word is tussen gelowiges maar ook tussen ons en God sodat daar 'n verbondenheid is tussen ons en God.
Gebed:
Here, ek wil U loof en prys en dank. Dit borrel in my, want Jesus lééf en Hy het my lief!