Jesus Is Hier!

3 May, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus Is Hier!

Lukas 24:36-49

VIDEO | OUDIO

Kleopas en sy maat het die stukkie pad tussen Emmaus en Jerusalem sekerlik in ‘n rekordtyd afgelê, want die nuus wat hulle aan die ander gelowiges moes oordra, kon nie wag nie! Almal móés dadelik daarvan weet! Wanneer hulle by die huis aankom waar die ander dissipels daardie Sondagaand bymekaar was, vertel hulle opgewonde van hulle ontmoeting met Jesus. “Hy leef! Jesus het waarlik opgestaan!” Elke klein detail van hulle ondervinding daar op die pad tussen Jerusalem en Emmaus word bespreek en oor en oor vertel. Dit was die grootste ondervinding óóit in hierdie twee dissipels se lewens. “Hoe brandend was ons harte nie!” vertel hulle.

Terwyl hulle nog besig is om oor hierdie dinge te gesels, hoor hulle die bekende, vriendelike stem van Jesus tussen hulle: “Vrede vir julle!” En daar staan Hy! In lewende lywe staan Jesus tussen hulle. Kan jy jou die skok indink van hierdie mense? Petrus het alreeds vir Jesus gesien en Kleopas-hulle het ‘n middag saam met Hom deurgebring, maar steeds is dit so verskriklik onwerklik! Net drie dae tevore het hulle Hom sélf daar aan die kruis sien hang en hulle het met hulle eie oë aanskou hoe Hy dood is. En nou staan Hy hier saam met hulle! Is dit ‘n Gees? Die dissipels bewe van angs!

Jesus het maar ál te goed verstaan hoe hulle moes voel, want hier het hulle skielik die wêreld van die totaal-onbekende betree en vir énige mens sou dit skrikwekkend wees, daarom stel Hy hulle gerus en Hy verseker hulle dat Hy nog presies dieselfde Jesus is wat hulle onthou. Hy het nog steeds ‘n liggaam waaraan hulle kan vat. Hy eet selfs voor hulle oë ‘n stukkie gebakte vis. Géén gees of spook is tot sulke dinge in staat nie!

Dan begin Jesus vir hulle te verduidelik van die volle betekenis van alles wat hulle die afgelope paar dae beleef het. Hy verduidelik waarom Hy móés sterf (om te betaal vir hulle sondes) en waarom Hy óók weer moes opstaan uit die dood. Hy verduidelik breedvoerig maar Hy wys hulle uit die Skrif (die Ou Testament) waar al hierdie dinge haarfyn voorspel is deur die verskillende profete.

Vandag moet ons weet dat die verhaal van Jesus soos ‘n goue draad regdeur die ganse Ou Testament loop, van die eerste hoofstuk in Genesis met die skeppingsverhaal tot met die heel laaste boek. As ons met oop oë die Ou Testament lees, sal ons Jesus duidelik daarin herken! Ds. Danie Haasbroek het ‘n boek geskryf met die titel: “Die Wonder van Jesus in die Ou Testament”, waar hy verduidelik dat Jesus nie alleen in profesieë voorspel word nie, maar by verskeie geleenthede het Hy ook Persoonlik in die Ou Testament aan mense verskyn.

In die drie jaar wat die dissipels saam met Jesus was, kon hulle steeds nie verstaan waaroor dit alles gegaan het nie. As hulle geweet het, sou hulle dinge dalk baie anders benader het en dit sou Jesus se versoeningswerk in die wiele gery het! Maar noudat Sy werk afgehandel is, maak Hy hulle verstande oop sodat hulle kan begryp. Skielik is dit asof ‘n helder lig vir hulle opgaan en hulle verstaan van die vergewing van sondes en Jesus se versoening en alles waarvan Jesus nog die hele tyd vir hulle gesê het.

Maar dan verduidelik Jesus ook dat alles nog nie hééltemal klaar afgehandel is nie en dat daar ‘n wonderlike verrassing op hulle wag. Hy gaan vir hulle ‘n “Gawe” gee, maar daarvoor moet hulle geduldig hier in Jerusalem bly wag. Ek dink nie die dissipels het ooit in hulle wildste drome kon dink wat die geweldige omvang van hierdie “Gawe” sou wees nie. In Handelinge beskryf Lukas hoe daardie beloofde “Gawe” uiteindelik op Pinksterdag aan die dissipels uitgedeel is toe die Heilige Gees in volle glorie die harte en lewens van almal daar teenwoordig kom vul het. Daar was hulle toegerus met ongekende en onbeperkte krag en wysheid en Hy het hulle lewens totaal kom verander en opgehef tot groot hoogtes.

Die wonder is dat daardie selfde Heilige Gees vandag steeds met alle gelowiges is en dat Hy ons steeds toerus en vul met presies dieselfde krag en wysheid wat die gelowiges daardie tyd ondervind het!

Maar terug na ons verhaal. Die klein handjievol mense wat daardie aand bymekaar was, was op die punt om moedeloos uitmekaar te spat. Kleopas en sy maat was al klaar op pad! Ons weet ook dat Thomas daardie aand ook alreeds nie meer by was nie omdat hy net eenvoudig nie sy mede-dissipels se “stories” kon glo nie! Jesus het egter ‘n verskil kom maak en skielik het hulle nuwe hoop gekry. Uiteindelik, ‘n maand of twee later was daar 120 van hulle bymekaar op Pinksterdag toe die beloofde “Gawe” gegee is. Die entoesiasme van die klein handjievol mense was só aansteeklik dat nie minder nie as 3000 mense daardie dag tot geloof gekom het!

Dit is die soort van reaksie wat my en jou lewe ook moet uitlok - dat ons entoesiasme oor Jesus só aansteeklik sal wees dat almal sal wil meedoen.

Gebed:

Here, dankie dat Jesus in my lewe gekom het en ‘n verskil gemaak het. Help my om dit entoesiasties uit te leef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026