Jesus is God

9 February, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus is God

Johannes 1:43-51

VIDEO OUDIO

Ek het grootgeword op ‘n plaas naby die skilderagtige dorpie Waterval Boven. Die inwoners was baie patrioties teenoor hierdie dorp, moontlik oor die patriotisme wat uitgestraal het uit ‘n baie spesiale onderwyser, Oom Fred Geyser. Sowat 15 km. van Waterval Boven af is daar ‘n ander, baie kleiner dorpie, Machadodorp. Ons het altyd met minagting van hierdie dorpie en sy inwoners gepraat, en jy het so min as moontlik tyd daar spandeer. Machadodorp was net eenvoudig benede ons waardigheid. Selfs vandag weet min mense van die bestaan van Machadodorp. Kon daar óóit iets goed uit Machadodorp kom? Wel, dalk was dit suiwer jaloesie wat ons so laat voel het, want sien, Machadodorp het die landdroskantoor gehad, en vir elke wetlike ding, selfs motor- en geboorteregistrasies moes al die Boveniete daarheen ry! Boonop het Machadodorp die eer gehad om vir drie maande lank die hoofstad van die Transvaal Republiek te wees!

In die landstreek Galilea was daar ‘n niksbeduidende dorpie met die naam Nasaret. Ek wil hom amper vergelyk met Machadodorp. Op hierdie einste dorpie het Josef gewerk as timmerman en Jesus het by Josef die ambag geleer. Daar het blykbaar nie veel aangegaan op die dorp nie, en selfs die mense uit die omgewing het neergesien op die inwoners van Nasaret. Die kerkleiers was nog minder beïndruk met hulle, want volgens die ringkoppe het die mense van Galilea nie geleef soos wat hulle baie streng voorskrifte aanbeveel het nie. Die inwoners van Galilea, en veral Nasaret was deur hulle geminag. En met hierdie “Nasaret” bordjie om Sy nek moes Jesus begin met Sy bediening!

As Rabbi het Jesus op daardie stadium alreeds twee volgelinge gehad, Andreas en sy broer Sefas (Petrus). Nou loop Hy vir Filippus raak, en Hy nooi hom uit: “Volg My”. Hierdie uitnodiging het baie meer behels as wat dit op die oog af lyk. Dit sou beteken dat Filippus alles moes los en nie alleen saam met sy nuwe Leermeester gaan en na Hom luister nie, maar hy sou die voorbeeld van sy Rabbi moes navolg. Hy sou moes leef soos Hy leef en doen soos Hy doen. Filippus het geweet wat dit behels om ‘n rabbi te volg, en hy was bereid om die groot stap te neem. Om ‘n volgeling te wees, beteken ook dat jy ander volgelinge moes werf, en van dag een af het Filippus dit gedoen: hy het vir Natanael raakgeloop en hom van Jesus vertel. Dit is tóg interessant om te weet dat Filippus vir Jesus verbind met die Ou Testament. Vir Jode was dit baie belangrik, want dáár was hulle erfenis as volk van God vasgemaak. Hy sê dus vir Natanael dat hulle die Een gekry het van wie Moses en die profete geskryf het, met ander woorde, die Messias.

Ons is so geneig om die Ou Testament vandag eenkant te skuif en slegs die Nuwe Testament te lees. Dikwels sien ons die Ou Testament as ‘n geskrif vol gru-verhale van oorlog, moord, verraad en egbreuk. Daarby kom die stringe en stringe argaïese wette wat absoluut niks vir ons vandag beteken nie. As ons egter toelaat dat die Heilige Gees ons begelei deur die boeke van die Ou Testament, dan sien ons die voetspore van God van die eerste tot die héél laaste bladsy loop. Ons sien tussen al die bloedvergieting en doodslag van die mense, die geduld, genade, liefde en vergifnis van God soos ‘n goue draad loop deur die Ou Testament. En as ons mooi kyk, ontdek ons selfs vir Jesus daar. Ds. Danie Haasbroek het ‘n dik boek geskryf met die titel: “Die wonder van Jesus in die Ou Testament.” Die Ou Testament vorm inderdaad ‘n integrale deel van die Woord van God, en die God van die geskiedenis praat vandag, na duisende jare steeds met ons deur Jesus.

Toe Natanael hoor dat Jesus uit Nasaret kom, was hy verbaas, want “kan daar uit Nasaret iets goeds kom?” Is dit óóit moontlik dat die lang verwagte Messias uit so ‘n verfoeilike dorpie soos Nasaret kon kom? Hy moes darem ten minste uit Jerusalem gekom het, daar waar die tempel is en waar die groot Koning Dawid regeer het! Dalk is ons vandag ewe verbaas as ons verneem dat Jesus óók in die Ou Testament is!

Toe Natanael egter by Jesus kom, het Jesus se Goddelikheid duidelik na vore getree toe Hy laat blyk het dat Hy rééds vir Natanael geken het, al het Hy hom nog nooit gesien nie. Natanael kon sy ore nie glo nie, want Jesus het absoluut alles van hom af geweet! Hy het dadelik vir Jesus as die Seun van God en die Koning van Israel herken.

Wat Natanael egter daar beleef het was maar net die begin. hulle sou nog “die hemel oop sien”(v 51) en ongekende wonderwerke beleef. Hulle sou die ware Godheid van Jesus eerstehands aanskou! Jesus was juis op pad na Galilea, en daar in die dorpie Kana, die tuisdorp van Natanael, sou die eerste asemrowende wonderwerk by ‘n huweliksonthaal plaasvind.

Het jy al vir Jesus as die Almagtige God ontdek? Is Jesus waarlik vir jou die Koning wat op die troon sit en regeer - die Een voor Wie ons moet neerval in aanbidding? Ons vergeet te maklik wie Jesus waarlik is. Ja, natúúrlik is Hy die Een wat by ons is en ons hand vashou en vertroos. Maar ons mag nooit vergeet dat Hy terselfdertyd ook die Skepper is, en baie hoog bo ons nietige mensies verhewe is nie. Aan Hom kom al die eer, lof en aanbidding toe!

Gebed:

Here Jesus, ek aanbid U vandag, en ek wil aan U al my lof en dank bring.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026
Die Vyeboom
19 October, 2026