Dikwels lees ons in die Ou Testament van “die Engel van God,” waar ons “Engel” met ‘n hoofletter spel. Wie presies is hierdie “Engel?”
Kom ons begin by die verhaal van Moses, die prins uit Egipte. In Eksodus 3 lees ons dat hierdie prins skape oppas. Ek noem dit pertinent, omdat hierdie nederige ou werkie deur die héél grotes in die geskiedenis gedoen is. Baie jare later sien ons die grootste koning in die geskiedenis van Israel, Dawid, waar hy ook skape oppas in die veld. ‘n Nederige werk. Maar dit is nie al nie: Wanneer Jesus, die Seun van God na die aarde neerdaal, beskryf Hy Homself as ‘n Herder, ‘n Skaapwagter, en later gee Hy dan ook aan Petrus die opdrag om te gaan “skape oppas”. Dit is ook niemand anders as juis die skaapwagters wat die eerste getuies van Jesus se geboorte was!
Wat is dit aan hierdie nederige beroep dat dit verbind word aan die héél grootste name in die geskiedenis? Is dit dalk die feit dat dit daar in die eensaamheid van die veld, waar jy hope en hope tyd het om te dink, jou baie naby aan God bring? Dink maar aan die mooiste van die Psalms wat deur Dawid geskryf is - Die Here is my Herder......
Maar eintlik gaan ons oordenking vandag nie oor skape nie, maar daardie Herder by uitnemendheid.
Terwyl Moses by sy skape sit aan die voet van die berg Horeb, merk hy ‘n eienaardige verskynsel op - ‘n doringbos wat brand. Die bos wat brand was nie soseer snaaks nie, maar toe dit na ‘n lang ruk nog steeds brand, en nie uitgebrand raak nie, begin Moses snuf in die neus kry. Nuuskierig om te sien wat hier aan die gang is, bestyg hy die berg. En dan, as hy naby die bos kom, skrik Moses hom yskoud as ‘n stem uit die bos hom aanspreek.
In Gen 3:2 word gemeld dat die Engel van die Here in die vlamme aan Moses verskyn het. “Engel” beteken letterlik “Boodskapper”. In die sin wat die woord hier gebruik word, kan ons aanneem dat hierdie “Boodskapper” niemand anders is nie as die Tweede Persoon van die Goddelike Drie-Eenheid - die Seun (Jesus). Later sien ons weer (in Eksodus 14:19) dat “die Engel van God” die Israeliete beskerm het tydens die uittog. Weereens is dit nie ‘n engel nie, maar God Sélf as Jesus.
Hoe kom ons by hierdie redenasie uit?
As hierdie “Engel” inderdaad niemand anders as God self is, dan sou dit nie God die Vader wees nie, want Hy sou pertinent “God” genoem wees. Dit sou ook nie die Heilige Gees wees nie, want in talle plekke deur die Ou testament word daar direk na Hom verwys waar Hy op mense kom, soos byvoorbeeld in Saul se geval. Dus kan dit slegs Jesus wees.
Maar word hier inderdaad werklik na God verwys wanneer die “Engel” genoem word?
Wanneer Moses besef dat hy nie eers weet Wie hierdie is wat hom die opdrag gee om die volk Israel uit Egipte te gaan lei nie, dan vra hy die vraag: “Wat moet ek vir die volk sê - wie is dit wat my gestuur het? Wat is Sy Naam? Wat moet ek vir hulle sê?”
Toe antwoord God vir Moses: “JHWH”. Moses verstaan nie mooi nie. “JHWH - EK IS WAT EK IS” Moses skud stadig sy kop om te wys dat hy half verstaan, “EK IS het jou gestuur.” verduidelik God vir Moses. En dan verduidelik Hy verder dat Moses vir hulle moet sê dat Hy die God is van hulle voorvaders, Abraham, Isak en Jakob. Hulle sal wél verstaan.
God verskyn dus hoorbaar en sigbaar aan Moses in die gestalte van Jesus - nie in ‘n heilige tempel nie, maar iewers in die veld. Hy verskyn hier ook nie aan ‘n gewyde priester of heilige persoon nie, maar aan ‘n voortvlugtende moordenaar. Jesus se optrede word baie beslis nie deur mense of omstandighede bepaal nie!
“Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak die God van Jakob.” stel God (Jesus) Homself aan Moses bekend. “Ek het die ellende van my volk gesien en hulle noodkrete gehoor,” sê God vir Moses, en dan sê Hy dat Hy afgekom het om hulle te red.
Hierdie was nie die eerste of enigste keer wat Jesus so aan iemand verskyn het nie. Hy verskyn in Genesis 18 aan Abraham (Drie manne).
In Rigters 6 lees ons die verhaal van Gideon, waar die Engel van die Here (Jesus) aan hom verskyn en hom die groot opdrag gee. Gideon ervaar Hom as ‘n sigbare Man, net soos Abraham destyds.
Inderdaad was Jesus van altyd af daar. En Hy was van altyd af die Redder. So ervaar Moses Hom, wanneer Hy die volk uit Egipte red, en so ervaar Gideon Hom weereens wanneer die volke gered word op wonderbaarlike wyse. En vandag ervaar ek en jy Hom steeds as ons Verlosser en Redder.
Gebed:
Here, dankie dat ek uit die verhale van Moses, Gideon en nog baie ander kan leer dat U nooit van my vergeet nie, dat U altyd daar was en is, en dat U ‘n plan het, ook vir my lewe.