Jesus Genees ‘n Seun

20 February, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus Genees ‘n Seun

Markus 9:14-29

Petrus huppel die berg af. Hy kan steeds nie glo dat hy deel kon wees van hierdie wonderlike ondervinding op die berg nie. Hy het waarlik die hemel geopend gesien. En dan was daar Elia en Moses! Hy brand om sy maats hiervan te vertel. Maar dan onthou hy: Jesus het hulle belet om ‘n woord hiervan te rep!

Maar skielik is Petrus weer terug in die werklikheid, want hy loop hom aan die voet van die berg vas in ‘n groot skare mense wat vir hulle staan en wag. En dan sien hy sommer: hier is groot moeilikheid! Die manne word gepeper deur ‘n groep Skrifgeleerdes, en Petrus hoor net hier en daar van “Julle totale onvermoë” en “Waar is julle kamstige krag dan?” Wanneer die mense vir Jesus en die ander drie sien, hardloop hulle nader, hulle is baie opgewonde.

Waaroor redeneer julle so met My dissipels?” Jesus is kalm.

n Man tree na vore en hy vertel vir Jesus van sy seun wat so verskriklik deur ‘n bose gees geteister word. Die arme kind kry epileptiese aanvalle, en dan vertrek sy lyf van stuiptrekkings. “Hy het selfs al in die vuur geval,” huil die pa.

Dan moet Jesus hoor dat Sy dissipels baie hard probeer het om hierdie bose gees uit te dryf, maar hulle was magteloos. “Ongelowige geslag!” berispe Jesus hulle, “Hoe lank moet ek julle nog verdra?” Jesus sug: hierdie manne kan net eenvoudig niks reg doen nie. En dít nadat Hy hulle so mooi geleer het! Hulle was dan selfs baie suksesvol toe Hy hulle uitgestuur het. “Bring hom na My toe!”

As U tog miskien iets daaraan kan doen,” soebat die pa. “Kry ons asseblieftog jammer en help ons!”

As jy glo, is enigiets moontlik,” antwoord Jesus hom.

Die man is desperaat: “Ek glo! Ek glo!” smeek hy. “Help my in my ongeloof!”

Jesus beveel die gees om die seun te verlaat, en na ‘n paar hewige stuiptrekkings lê die kind doodstil.

Hy is dood!” fluister die mense geskok. Nou hang daar ‘n doodse stilte oor die skare, en alle oë is gerig op die seun wat daar leweloos lê. Jesus buk en vat die seun aan die hand. ‘n Kreun van verwondering eggo deur die skare as die seun opstaan, blakend gesond en bevry van die bose gees!

Met hierdie beskrywing beklemtoon Markus net weereens wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat die Koninkryk van God nou baie naby gekom het. Dit kon vir die mensdom net iets baie goed beteken. Maar Markus wil ook twee ander aspekte beklemtoon wat van uiterste belang is: geloof en gebed.

Die dissipels se ongeloof is in die eerste plek verantwoordelik vir hulle onvermoë om die bose gees uit die seun te dryf. Jesus is moedeloos met hulle, want na al die dinge wat Hy gedoen het en hulle geleer het, het hulle steeds nie die vertroue om die seun gesond te maak nie. Ons moet baie duidelik besef dat geloof nie alleen kennis beteken nie, maar dat dit hand aan hand gaan met ‘n onvoorwaardelike vertroue. Die dissipels was wel deeglik daarvan bewus dat hulle hierdie dinge alleen deur God se krag kon doen. Dit was nie húlle nie maar God Almagtig wat deur hulle werk om genesing te bewerkstellig, of soos in hierdie geval, die uitdryf van ‘n bose gees. Die dissipels het egter nie die nodige vertroue gehad dat God hulle wél kon gebruik nie.

Die tweede belangrike saak wat skoon by hulle verby gegaan het, is gebed. Toe die dissipels later vir Jesus uitvra waarom hulle nie die gees kon uitdryf nie, was Jesus se antwoord nie, soos ons sou verwag, dat hulle nie geloof gehad het nie, maar omdat hulle nie gebid het nie. Hulle het ‘n baie groot fout begaan, deur hierdie bose gees in hulle eie krag uit die seun te probeer dryf. Die duiwel kan jy nie sonder handskoene aanpak nie, en allermins in jou eie krag! Jy gaan lelik tweedebeste daarvan afkom! Dit kan alléén in God se krag geskied. Om egter jouself as Sy werktuig te stel, vra kommunikasie van jou kant af met God. En jy kommunikeer deur gebed.

Ek dink nie ons besef aldag die waarde en die krag van ‘n gelowige se gebed nie. En nou praat ek nie van die wenslysies wat ons dikwels aframmel nie, dit is nie gebed nie. Gebed is ‘n innige, gelowige en intieme gesprek met God. In gebed kan jy dan ook jou totale afhanklikheid van God verklaar, en jouself in Sy hande plaas. Dit is blykbaar iets wat die dissipels gladnie gedoen het nie! Hulle het maar op hulle eie probeer voortploeter.

Gebed het vir ‘n gelowige verder ook waarde, in dat dit ‘n sterker band bind tussen jou en die Here. Hoe meer tyd jy in gebed spandeer, hoe meer raak jy bewus van die Here, en hoe meer plek gee jy vir Hom in jou lewe. En hoe meer dit gebeur, hoe meer besef jy jou totale afhanklikheid van Hom, en terselfdertyd ook dat Hy jou kan gebruik soos Hy wil, en dat Hy selfs deur jou te gebruik, wonderwerke kan laat geskied.

Gebed:

Here, leer my asseblief hoe om waarlik te bid, en my volle vertroue op U te plaas.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026