Jesus Gekruisig

10 December, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus Gekruisig

Lukas 23:33-38

VIDEO OUDIO

Dit is ‘n hartsverskeurende toneel wat voor ons oopvou, as die massas mense al jouende agter Jesus aanloop teen die koppie uit, die plek van die Kopbeen, Golgota. Die doodsreuk hang swaar oor hierdie afgryslike plek wat maar net een ding vir die besoeker beteken: ‘n aaklige, pynlike, uitgerekte doodsmarteling. Iemand wat daar sy laaste tydjie op aarde deurbring, kan maar net hoop dat die marteling nie te lank gaan duur nie, want dit kan soms dae neem voor die arme mens dood is van dors, uitputting of infeksie in sy wonde.

Daardie lot staar Jesus in die oë! Dit is egter nie alleen die fisiese pyniging wat op Hom wag nie, maar meer nog die verskriklike geestelike worsteling wat Hom in die gesig staar. Ek en jy sal dit nooit ten volle kan begryp nie, want dit is gans te groot vir ons eenvoudige menslike verstandjies.

Toe die rolprent “Passion of the Christ” uitgekom het, moes ek myself dwing om dit te gaan sien, want ek wou nie die marteling wat Jesus ondergaan het aanskou nie. Toe die rowwe ysterspykers my Heiland se handpalms deurboor, en die soldaat met die hamer aanhou kap en kap en kap, wou ek dit uitskreeu: “Stop! Dis genoeg!” Maar dit het net aangehou en ek het onbeskaamd gehuil. Ek het saam met Hom daardie verskriklike pyn beleef. Hoe aaklig moes dit nie wees, toe hulle Hom daar oplig, en Sy volle gewig aan die spykers hang nie! Dit het geskeur deur sy vleis!

Tussen twee misdadigers het hulle vir Jesus, die Seun van die Heilige God opgehang. Hoe verskriklik vernederend om gereken te word saam met sondige mense wat verafsku was deur die samelewing. Maar dit was voorspel in ‘n profesie wat honderde jare tevore al deur die profeet Jesaja uitgespreek was in Jesaja 53:12. Jesus se reaksie was om te bid vir die mense wat Hom so mishandel het: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!. Wat hierdie mense aan Jesus gedoen het is in menslike taal absoluut onvergeeflik. Tóg pleit Jesus by die Vader vir hulle. Dit gaan ‘n mens se verstand te bowe!

Toe kom die soldate en beroof Hom van sy laaste bietjie menswaardigheid. Hulle stroop Hom van Sy klere en trek lootjies oor wie dit sou kry. Al hierdie dinge het gebeur terwyl die Jode daar gestaan het en Hom bespot en uitgelag het. Vir die Joodse Raadslede was dit ‘n reuse oorwinning! ‘n Oorwinning oor wat?

Van Jesus het hierdie volk niks anders gekry as liefde nie. Dag-vir-dag het Hy Hom afgesloof om talle siekes gesond te maak, duiwels uit te dryf en vir mense kos te gee. Hy het hulle geleer en die liefde wat uit Hom gestraal het was oorweldigend. Tóg het hulle Hom verwerp! Op die mees walglike manier moontlik! Van die soldate kon jy dit dalk verstaan, maar die Joodse volk vir wie Hy so baie gedoen en omgegee het - dit is onverstaanbaar. Terwyl die volk daar in veragting gestaan en toekyk het, het hulle geestelike leiers Hom uitgejou en ‘n bespotting van Hom gemaak deur na Hom te verwys as “die Christus wat deur God uitverkies is. As hulle maar net geweet het hoe absoluut waar hulle bespotting was!

Om sout in Jesus se wonde te vryf, het die soldate gekoggel: “As jy die koning van die Jode is, red jouself!Hoe verskriklik seer moes dit nie gemaak het nie, want Jesus het geweet dat slegs ‘n enkele woord van Hom genoeg sou wees om Hom van hierdie ondraaglike situasie te red, maar as Hy dit sou doen, sou alles tevergeefs gewees het. Dan sou God se reddingsplan totaal opgemors gewees het! Hy moes eenvoudig deurdruk en die volle prys betaal, al sou dit dan ook Hom Sy kosbare lewe kos. Net om nog so ’n laaste spyker in te slaan, word daar ’n haastige “amptelike” kennisgewing aan Sy kruis aangebring: “Dit is die Koning van die Jode. Hieroor was die Jode nie gelukkig met hulle “bondgenote” nie, want hulle wou ten alle koste hulleself van Hom distansiëer!

Iets wat ‘n mens se hare laat regop staan, is die feit dat die Joodse Godsdienstige leiers en die afgodsdienende Romeinse owerheid saamgewerk het om van Jesus ontslae te raak. Hulle het nie vir ‘n oomblik geskroom om die goddelose se hulp in te roep en sodoende met die duiwel saam te werk teen die heilige Gesalfde van God nie.

Ons mag nooit, óóit vir ‘n enkele oomblik vergeet hoeveel Jesus opgeoffer het vir ons sondes nie. Ons durf nie Jesus se opoffering sommer so aanvaar as iets wat maar net gebeur het nie. Die prys wat Hy betaal het, was baie, báie groter as wat ons menslike verstand óóit sal begryp. Ons is dúúr gekoop! Om daardie rede kan ons nie anders nie as om ‘n lewe van dankbaarheid te leef vir Hom wat so verskriklik baie vir ons gedoen het. Ek durf nie toelaat dat sonde my lewe besoedel nie! Die grootste is egter dat ek Jesus se liefde ten volle moet uitleef. Hy het die grootste liefdesdaad óóit gedoen en die minste wat ek en jy kan doen, is om ‘n bietjie van daardie liefde terug te ploeg in ons verhouding met God en ons medemens.

Gebed:

Here, U liefde vir my was so groot - hoe sal ek ooit iets daarvoor terug kan gee?

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026