Lukas 2:21-40
Wat is my verantwoordelikheid as ouer wat ek moet nakom teenoor my kind ten opsigte van die kerk? Baie Christene skuif daardie verantwoordelikheid opsy. Die gevolg is “moeilike” kinders wat in die skool dikwels totaal onbeheerbaar is. En wetgewing maak dat onderwysers se hande afgekap is. Tuis is hulle dikwels hééltemal te veel vir die ouers. En dan wonder hulle wat verkeerd geloop het.
In die geestelike opvoeding van ons kinders is daar twee belangrike aspekte: Ons kinders moet geloofswaarhede leer by die huis, en hulle moet van kleins af ‘n liefde aanleer vir die Woord. Die tweede aspek is om ons kinders na die kerk te neem en te laat leer en ook ons kerklike verantwoordelikhede wat betref ons kinders na te kom.
Josef en Maria het hulle pligte getrou nagekom, al het hulle geweet dat hierdie Kindjie baie besonders was en dat Hy anders as enige ander kind behandel behoort te word. Agt dae na Jesus se geboorte is Hy volgens Joodse gewoontes asook God se verbond met Abraham besny en het Hy amptelik die naam Jesus gekry. Sowat drie maande later kom hulle ‘n tweede tradisionele Joodse wetsgebruik na, naamlik die reiniging van ‘n ma na die geboorte en die “loskoop van ‘n eersteling”. Lukas haal die Ou-Testamentiese voorskrif eintlik baie vry aan, en hy wys daarmee eerder op die feit dat Jesus nie soseer losgekoop word nie, maar eerder tot beskikking van God gestel word, dat Hy as’t ware aan God teruggegee word, net soos wat Hanna in die Ou Testament vir Samuel aan die Here teruggegee het. Lukas noem hier dat hulle twee duiwe geoffer het tydens hierdie seremonie. Gewoonlik is die offer ‘n lam, maar vir arm mense is duiwe ook in orde, dus weet ons hieruit dat hulle maar arm mense was en uit ‘n nederige sosiale milieu kom.
Lukas beskryf ‘n derde toneel, waar Jesus na die tempel in Jerusalem gebring word “om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom” (Luk. 2:27). Die tempel in Jerusalem was die middelpunt van die ganse Joodse Godsdiens-tuiste. Dit was die spilpunt waarom die wet en kultus gedraai het, en hier kry ons dan ook vir Jesus as baba, en later as jong seun. Dertig jaar later speel die tempel steeds ‘n groot rol in Jesus se bediening. Jesus het nie téénoor die wet stelling kom inneem nie, maar Sy koms het iets baie groter as net die wet tot stand gebring. Later in die verhaal sien ons hoedat Jesus nuwe betekenis aan die wet kom gee het. Waar dit eers streng bepalings was wat ten alle koste nagekom moes word, het dit riglyne geword vir ‘n Godvrugtige lewe.
Vandag kan ons byvoorbeeld sê dat ek nie my kind Sondagskool toe neem omdat die kerk dit van my verwag nie, maar juis omdat die kerk my daardie geleentheid bied om my kind meer van die Here te laat leer.
Wanneer Jesus na die tempel geneem word, vertel Lukas, neem die bejaarde ou Simeon Hom in sy arms. Dadelik herken Simeon Jesus as die Verlosser na Wie hy so lank uitgesien het. Vol van die Heilige Gees getuig hy van Jesus en wat daar vir Hom voorlê. Ook die vrome ou vier-en-tagtigjarige Anna, wat haar lewe gewy het aan God, het kom getuig van hierdie Kindjie. Uit Simeon se woorde sien ons dat mense voor ‘n keuse te staan sal kom, en dat nie almal sal saamstem oor Hom nie. Vir Maria lê daar bitter trane voor. As Maria maar geweet het hóé groot die smart nog sou word!
Ja, ek en jy word vandag ook nie smart en trane gespaar in ons geloofslewe nie. Teenspoed is iets waarmee ons saamleef. Maar soos wat Maria met haar eie oë aanskou het dat Jesus na al die smart en lyding opgestaan het uit die graf en die dood, en die wonderlike vreugde kon ervaar, net so kan ons ook vandag verséker weet dat ten spyte van vervolging en swaarkry, ons kan uitsien na ‘n opstanding en ‘n lewe saam met Jesus. Simeon en Anna was nie teleurgestel nie - hulle het die Verlosser gesien. Ek en jy hoef ook nie teleurgestel te word nie, want God se wonderlike beloftes staan vir ons opgeteken in Sy heilige Woord wat vas en waar is. Hierdie beloftes behels ook dat ons Jesus sal sien, en baie meer nog: dat ons saam met Hom sal wees vir ewig.
Die gebeure in die Tempel en in Jerusalem moes vir Josef en Maria ‘n sielsverrykende ervaring gewees het. Hulle het egter nie daar gebly nie, maar weer teruggegaan na hulle eie dorp, Nasaret in Galilea. Daar, so lees ons, het Jesus opgegroei en ‘n sterk seun geword, vol wysheid en Hy was gedra deur God se genade.
Ja, die Here wil ook hê dat ek en jy ons nie sal afsonder van die wêreld af nie, maar dat ons juis sal aangaan met ons daaglikse taak. In hierdie selfde wêreld moet ons ons kinders grootmaak, maar die geloofsbasis wat ons hulle gee in die huis en deur die kerk, moet sterk genoeg wees om hulle staande te kan hou teen die aanslae van die lewe.
Gebed:
Here, leer ons om ons kinders op te voed om tot eer van U te leef.