Jesus en die Vader is Een

22 April, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus en die Vader is Een

Johannes 14:1-14

VIDEO * OUDIO

Jesus se dissipels het so pas die mees ontstellende dinge gehoor, eers dat een van hulle Hom sou verraai en dan moet Petrus boonop hoor dat hy daardie selfde nag nog sy Meester nie minder nie as drie keer sou verloën. Maar dan kom Jesus se wonderlike trooswoorde: “Laat julle harte nie ontsteld wees nie. Glo in God, glo ook in My”. Wanneer hulle die grootste krisis in hulle lewe tegemoet gaan, kom hierdie troos! Wanneer ek en jy vandag deur die donkerste dieptes gaan, dan sê Jesus ook vir my: “Moenie ontsteld wees nie, vertrou My!” Dan hoef ek my oor niks te bekommer nie, want alles is in Sy bekwame hande, Hy sal vir alles sorg!

Vervolgens skilder Jesus vir die dissipels ‘n beeld van waar Hy weggaan. Hy doen dit egter met ‘n doel, om vir hulle ‘n plek in die hemel te gaan voorberei vir die dag wanneer Hy kom om Sy kinders te kom haal. Dit is wat Jesus nou gaan doen en Hy gaan binnekort vertrek na Bo om alles gereed te kry.

In hierdie laat stadium van Jesus se bediening, sien ons steeds die hopelose onkunde van die manne saam met hom. “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg ken?” kerm Thomas. Het hy nie geluister nie? Het Jesus dit nie al talle male uitgespel vir hulle nie? En steeds verstaan hulle gladnie!

Dan kom Jesus met seker die bekendste van Sy uitsprake: “Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe”. Sommige mense wil dit vertaal as dat Jesus die ware pad na die lewe is. Maar dit sou nie reg laat geskied aan die volle omvang van hierdie uitspraak nie, want dit gaan veel dieper as slegs die feit dat die lewe bereik kan word deur Jesus. Die fokuspunt moet op Jesus alleen wees, en dat daardie wonderlike dinge aan Hom toegedig word - dat Hy die enigste Weg is; dat Hy die Waarheid is; dat Hy die enigste Bron van lewe is. As ons eenmaal by Jesus uitkom, dan ontdek ons eers waarlik wat waarheid is, en dan ondervind ons die ware lewe, soos alleen Jesus dit kan gee.

En as enigeen dink dat hy na God kan gaan deur ‘n ander weg as Jesus, dan maak hy ‘n baie groot fout. Jy kan alleen vir God ken as jy Jesus ken, want Hy en die Vader is een. Hierdie eenheid bestaan daarin dat Jesus alles weerspieël wat in die Vader is. As die Vader dus Persoonlik hier teenwoordig was, sou Hy presies dieselfde gedoen het as wat Jesus doen.

Die probleem is dat God so almagtig, verhewe en heerlik is, dat Sy heerlikheid die mens in ‘n oogwink sou verskroei. Jesus is dus gestuur as Sy verteenwoordiger sodat ons met God kan kommunikeer sonder om aan Sy heerlikheid blootgestel te word. Toe Jesus as mens na die aarde gekom het, was dit nie die eerste keer dat Hy as Verteenwoordiger optree nie - Hy het dit talle male in die Ou Testamentiese tyd reeds gedoen. Die bekendste hiervan is Sy gesprekke met Abraham, Moses en Elia. Ons lees byvoorbeeld in Eksodus 3:1-17 dat “die Engel van die Here” aan Moses verskyn het in die brandende doringbos. Die Engel van die Here is natuurlik Jesus, die Seun van God. Soos die gesprek vorder, kom ons agter dat dit God is wat direk met Moses gesels. Jesus praat hier met hom asof Hy die Vader is. Wat hier gebeur, is dat Jesus as die Vader se Verteenwoordiger namens Hom met Moses praat, want Moses sou die Vader se teenwoordigheid nooit kon oorleef nie. Wanneer die gesprek eindig, sê Jesus vir Moses dat hy vir die volk moet sê dat JHWH (God) hom gestuur het.

Wanneer Filippus vra dat Jesus hulle die Vader wys, weet hy duidelik nie waarvoor hy vra nie. “Ek is al so 'n lang tyd by julle, en het jy My nie leer ken nie, Filippus? Wie My gesien het, het die Vader gesien.”

Daardie dissipels het dus baie duidelik nie besef hoe naby hulle werklik aan die Vader was nie en dat hulle die hele tyd besig was met die Vader se direkte Verteenwoordiger nie. Presies dieselfde geld ook vir my en jou vandag. Die feit is dat Jesus in Sy alomteenwoordigheid ook hier by jou en my is en dat Hy teenwoordig is by alles wat ons doen en by ons gesprekke. As Verteenwoordiger van die Vader, is Hy onbeskryflik groot en heerlik en magtig. Met hoeveel disrespek word Hy dikwels behandel? En hier praat ek nie van ongelowiges nie, maar juis van gelowiges, wat die Here Jesus dikwels behandel soos ‘n soort speelmaatjie. Daar word dikwels spottenderwys van Hom gepraat. Ja, die Vader word gewoonlik met groot respek behandel, maar wat ons aan Jesus doen, doen ons ook aan die Vader, want hulle is EEN.

Kom ons onthou altyd met Wie ons eintlik te doen het. Ja, Jesus is vir ons toeganklik en ons kan te enige tyd met Hom praat. Boonop is Hy altyd daar vir ons. Ons kan ál ons laste, behoeftes, vreugdes en diepste hartsgeheime met Hom deel. Maar terselfdertyd mag ons nie vir een enkele oomblik vergeet dat Hy God almagtig is, en dat Hy die Vader se Verteenwoordiger is nie. Kom ons behandel Hom met die respek waarmee Iemand soos Hy behandel hoort te word. Kom ons gee aan Hom al die eer!

Gebed:

Here Jesus, ek aanbid U, want U is God almagtig, Skepper van die heelal - my Verlosser!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026