Jesus en die Melaatse

7 January, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus en die Melaatse

Lukas 5:12-16

Petrus en sy mede-vissermanne het alles nét so gelos nadat Jesus hulle daar langs die viswater geroep het, en Jesus se volgelinge geword. Die wonder wat hulle so pas beleef het in Kana, toe hulle nuwe Leermeester wyn gemaak het van skoon water, het boonop hulle asems skoon weggeslaan. Skielik besef hulle dat Jesus véél meer is as ‘n doodgewone Rabbi! Vir die volgende drie jaar sou Jesus dag-vir-dag leerlinge hê wat oral saam met Hom gaan. Daar sou bitter selde geleentheid wees om alleen te wees. Boonop is daar die alewige skares van mense wat Hom as publieke eiendom beskou omdat Hy so mooi preek en dan nog siekes gesond kan maak.

En dan gebeur die melaatse man. Die melaatsheid waarvan hier gepraat word is nie noodwendig dieselfde melaatsheid (Hansen se siekte) soos ons dit vandag ken nie, maar enige erge velkwaal is melaatsheid genoem. Vir enige Jood was hierdie ‘n verskriklike siekte, want dit maak jou “onrein”, en dus is jy ten alle koste vermy. Melaatses moes in ‘n kolonie buite die stad bly en mag nie eers kontak hê met hulle families nie. Dit het dan ook uit die aard van die saak beteken dat jy nie meer kan werk nie, en dus nie vir jou gesin sorg nie. As jy melaats is, is jy soos die pes vermy. As dit sou gebeur dat jy in ‘n publieke plek moet kom, dan moet jy die hele tyd skree: “Melaats, melaats!” om die ander mense te waarsku sodat hulle uit jou pad kan bly.

Ek kan my die prentjie voorstel van hierdie arme desperate man wat sy lewe waag om tussen die skare van mense wat om Jesus saamkoek, in te beweeg. Hy verbreek alle sosiale reëls om daar te wees, en dit kan selfs beteken dat ‘n spul opgewerkte Jode hom kon stenig! Nogtans waag hy alles en kom val op sy knieë voor Jesus neer en smeek vir genesing. Jesus verbreek ook die sosiale reël deur nie ‘n paar treë terug te deins, soos wat die skare om hom waarskynlik skielik gedoen het toe hulle die melaatse tussen hulle sien nie. Nee, Jesus kom vat aan die man! Hy daal neer tot hierdie verstoteling se misrabele sosiale vlak. Almal trek hulle asems in: “Wat dóén Hy? Mens raak nie aan ‘n melaatse nie!” En dan hoor jy hoe die mense na hulle asems snak, want eensklaps, voor hulle verdwaasde oë, is die sere wat die man se liggaam oortrek het, weg! Spoorloos!

Jesus gee die man opdrag om vir niemand te vertel van wat gebeur het nie, maar dit het nie veel gehelp nie, want hoe anders kon hy as om dit aan die wêreld uit te blaker. Jesus se tweede opdrag is dat hy die Mosaïese voorskrifte vir reiniging moet ondergaan sodat hy weer in die gemeenskap opgeneem kan word. Dit sal beteken dat hy weer kan werk, sy familie sien, sy eer herstel, sy Godsdiens vryelik beoefen en sy respek in die samelewing herwin. Kan jy jou indink hoe dit moes wees om totaal afgesny te wees van alles wat vir jou belangrik en dierbaar is. En dan, skielik, as alles totaal verlore lyk, kom hierdie wonderwerk wat alles totaal in een enkele oomblik herstel!

Die nuus van hierdie wonderwerk het soos ‘n veldbrand versprei, en die skares het al groter en groter geword. In menslike standaarde gemeet, het dit uitstekend gegaan met Jesus se bediening. Maar dit was ‘n uitmergelende werk om dag-vir-dag van vroegoggend tot laat saans die toue en toue siekes te moes sien. Eindelose stringe mense met hartverskeurende siektes, kwale, gebreke en selfs duiwelbesetenheid het ál Jesus se kosbare tyd opgeneem. Hy het gesmag na daardie luukse van net ‘n klein bietjie alleen-wees. Lukas vertel dan ook dat Jesus tyd gemaak het in Sy besige skedule om Hom af te sonder sodat Hy kon bid.

As dit vir die Seun van God - Sélf God - nodig was om alleen te bid, hoeveel te meer is dit dan nie vir my en jou wat so geweldig afhanklik is van Hom, nodig om dit te doen nie. ‘n Mens moet jouself dissiplineer om juis wanneer dit goed gaan, of as die werk swaar druk, ‘n tydjie af te knyp om iewers alleen met God te gaan gesels en verkeer. Ek het eenmaal iemand hoor sê: “Ek is te besig om NIE te bid nie!” Dit is juis wanneer die druk op sy ergste is, dat ons die verfrissende krag van God nodig het om weer aan te gaan.

Maar dan is dit nie net ‘n vinnige noodroep om te vra: “Here, help asseblief!” nie, maar maak jou hart oop teenoor die Heilige Gees en laat Sy wonderbare krag oor jou gemoed spoel. Sing in jou hart ‘n loflied vir Hom, die Heerser van alle heersers. Raak rustig en gee jou oor aan God. Slegs ‘n paar minute is nodig om jou gemoed te lig en jou op God te laat fokus. Die wonder hiervan is nie alleen dat dit jou gedurig herinner aan jou afhanklikheid van God nie, maar dat die bonus is dat jy totaal verfris weer jou werk kan aanpak met nuwe ywer terwyl jy ‘n jubellied in jou hart sing. En almal wat jou sien sal wonder wat met jou gebeur het!

Gebed:

Heilige Gees, leer my asseblief om gereeld tydjies met U deur te bring, selfs wanneer dit besig is.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Voorberei vir die Dood
26 October, 2026
Voetewas
23 October, 2026
Salf vir Jesus se Voete
22 October, 2026
Jerusalem, Jerusalem!
21 October, 2026
Die Groot Gebod
20 October, 2026