Jesus en Beëlsebul

21 September, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus en Beëlsebul

Lukas 11:14-26

VIDEO OUDIO

Ek het ‘n paar jaar gelede die wonderlike voorreg gehad om in een van ons land se kleiner en minder bekende wildtuine uit te span - Mkhuze. Dis nie ‘n gewilde wildtuin nie want Vuilbaard het nog nie daar nes geskop nie, en dit is waarvoor meeste mense die wildtuin besoek. Die sukses van jou besoek aan ‘n wildtuin word mos gemeet aan hoeveel leeus jy teëgekom het.....! Ons het nie eers ‘n enkele renoster gesien nie, en maar een enkele olifant in die verte. Maar die belewenis van die bos het oor en oor daarvoor opgemaak!

Ek onthou een spesifieke oggend toe ‘n vaal miskombers oor ons gehang het. Elke spinnerak het geblink soos ‘n halssnoer van fyn pêreltjies. Aan die punte van die doringbome se dorings het die mistigheid klein druppeltjies gevorm wat soos diamante geskitter het. Die vaal winterveld is omtower in ‘n sprokiesparadys!

Ek en Mosbolletjie gaan sit vroegoggend by ‘n wildskuiling. Die miskombers hang swaar en vaal oor die watergat en skildern somber prentjie. ‘n Troppie blouwildebeeste kom suip, maar hulle is toegevou in die grys somberheid. Die eerste mense kom vol verwagting aan, maar vertrek gou weer, want hier is vanoggend niks te sien nie, alles is grys. Met ‘n stomende beker Boeretroos sit ek en Mosbolletjie egter vasgevang in die betowering, want die grysheid van die mis vorm misterieuse skilderye van bome en bosse gehul in geheimenis wat elke oomblik verander. Alledaagse dinge kry skielik nuwe betekenis. Ons vergaap ons aan ‘n doodgewone tortelduifie wat sy vere uitpof en so groot soos ‘n valk lyk!

Is dit nie tog snaaks dat baie mense hulle blindstaar teen die minder aangename of saai dinge, en nooit die mooi daaragter raaksien nie? As jou gedagtes reg ingestel is, sal jy die mooi dinge in die lewe raaksien. As jy egter nie die mooi soek nie, sien jy slegs die negatiewe raak.

Jesus het hierdie waarheid baie pertinent beleef op Sy laaste reis na Jerusalem. Dit is asof Lukas die verhaal laat stilstaan op een plek om die spanning te laat opbou. Hier beleef Jesus konfrontasie al hoe meer intens. Hy dryf ‘n bose gees uit iemand, iets wat Hy al ‘n duisend maal gedoen het. Maar hierdie slag sien die mense nie die positiewe daarin nie, maar slegs die negatiewe. Hulle beskuldig Jesus daarvan dat hy dit met die hulp van die duiwel sélf doen, Beëlsebul, die aanvoerder van die bose geeste!

Wys ons ‘n wonderteken uit die hemel!” skreeu iemand uit die skare. Het hulle dan nog nie genoeg asemrowende wondertekens gesien nie? Was die duisende mense wat Hy met vyf brode kos gegee het dan nie ‘n asemrowende wonder nie? En die talle blindes en lammes wat weer die gebruik van hulle sintuie en ledemate gekry het - was dit dan nie “wondertekens uit die hemel” nie? Was die hele spul dan blind vir die dinge wat Jesus gedoen het?

Ons kan maklik praat, maar vandag verval ons ook maar dikwels só in blindheid vir die dinge wat die Here doen. Ons vra Hom om vir ons allerhande wondertekens te gee, en dan sien ons dit nie. As ons egter net om ons begin kyk, en waarneem wat gebeur, sal ons elke dag wonderwerke sien gebeur. 

Wanneer die mense Jesus beskuldig, antwoord Hy hulle dat die duiwel tog nie sy eie medewerkers sal benadeel nie! Hoe kan hulle dan sê dat Hy bose geeste uitdryf met die hulp van die duiwel? Wanneer Jesus bose geeste uitdryf, is dit ‘n teken van die Koninkryk van God en van die oorwinning oor die duiwel. 

En dan roep Jesus die hoorders op om ‘n besluit te maak. Om bloot neutraal of onbetrokke te wees, is net so goed as om stelling in te neem téén Jesus. Hulle moet dus besluit of hulle Hom wil volg of téén Hom wil wees. Wie nie saam met Jesus teen die Bose optrek nie, is besig om teen Hom te werk.

Hierdie is ‘n skrikwekkende gedagte, want ons kerke sit vandag propvol van onbetrokke lidmate wat maar net kerk toe kom om die gewete te sus of om darem te kan sê dat hulle Godsdiens beoefen. Ek sê hiermee nie dat hulle nie gelowiges is nie, of dat hulle nie die ewige lewe sal kry nie. Die probleem is egter dat onbetrokke Christene die Koninkryk baie skade berokken, en dus in werklikheid téén die Evangelie werk. ‘n Ongelowige sien Jesus in die lewe van ‘n gelowige. As hierdie lewe maar flou en halfhartig is, sal die ongelowige nooit as te nimmer belangstel om ook deel te hê aan die Koninkryk nie. Dit sal hulle eerder afstoot as aantrek. Iemand wat egter aktief die Evangelie uitleef en liefde en blydskap uitstraal, sal ongelowiges aantrek soos ‘n magneet en hulle ‘n honger gee vir hierdie “iets” wat die gelowige het.

Dit is egter nie net vir ander mense wat jy jou geloof aktief moet uitleef nie, dit keer ook dat die duiwel ‘n houvas op jou eie lewe kry! Iemand wat ‘n afgewaterde geloof leef, is teelaarde vir die duiwel se werksaamhede, maar aktiewe Christenskap beduiwel die duiwel se werk totaal! 

Gebed:

Here, kweek in my die honger en ywer om vandag aktief vir U te leef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Volk Kom tot Inkeer
25 August, 2026
Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026