Jerusalem, Jerusalem!

6 October, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jerusalem, Jerusalem!

Lukas 13:31-35

VIDEO OUDIO

Alle Fariseërs is nie noodwendig “slegte” mense nie! Ons moenie die kind met die badwater uitgooi nie! Al ooit gewonder waar hierdie uitdrukking vandaan kom? ‘n Taalkenner verduidelik annerdag oor die radio dat daar in die ou tyd nou nie so gereeld gebad was as vandag nie. Teen bad-tyd was almal dan ook al góéd vuil, en natuurlik was lopende water ook nie iets wat hulle geken het nie. Daar was dus op dié dag water gehaal en warm gemaak, en dan het Pa eerste beurt gekry om in die sinkbad te bad. Daarna volg Ma, en dan die kinders, ámal in dieselfde water. Héél laaste kry baba beurt om te bad. Teen hierdie tyd lyk die water al soos ertjiesop, en jy moet móói kyk om vir Baba daarin raak te sien. Daarom moet jy versigtig wees om nie vir Baba mis te kyk en hom dalk saam met die bad vuil water uit te smyt nie! Nou-ja, so moet ons ook nie net die slegte in mense raaksien nie. Kyk dus maar mooi vir iets goed in selfs die slegste mens!

‘n Groepie Fariseërs kom waarsku Jesus om weg te bly uit Jerusalem. Sy lewe was in gevaar want Herodus wou Hom doodmaak! Hulle het egter gladnie verstaan waaroor dit gegaan het nie want Hy móés na Jerusalem om God se wil uit te voer. Jesus het hulle geantwoord op ‘n profetiese wyse wat vir die oningeligte totaal Grieks is. Maar wat presies het Jesus bedoel met alles wat Hy gesê het?

Hy begin deur te verwys na “vandag en môre en oormôre (die derde dag)”. Hiermee het Hy waarskynlik nie letterlik gedink in terme van drie dae nie, maar Jesus wou klem lê op die feit dat die tyd baie min geraak het, en dat die groot dag van Sy teregstelling binnekort sou aanbreek. Onthou, dit was ‘n profesie en in profesieë word dikwels simbolies gepraat.

Dan sê Jesus dat Hy eers Sy werk moes klaarmaak. Hy moes dus eers Sy doel bereik. Wat was Sy doel? Om na Jerusalem te gaan sodat Hy uiteindelik gekruisig kon word en versoening bewerkstellig vir die mensdom se sondes.

Die vraag is, waarom moes dit nou juis Jerusalem wees? Kon Jesus nie maar op enige ander plek gekruisig word nie? Sou dit werklik saakmaak? Waarom was daar die verskriklike dringendheid om na Jerusalem te gaan?

Jerusalem was vir die volk van God ‘n plek van kardinale belang. Hierdie stad was sedert Dawid se tyd die spilpunt waarom die ganse Joodse volk se bestaan gedraai het. Dit is hier waar die Verbondsark, die sogenaamde “voetstuk” van die Here in Dawid se tyd sy finale rusplek gekry het. In Jerusalem het Dawid se droom oor ‘n Tempel vir die Here uiteindelik in sy seun Salomo beslag gekry. Jerusalem was beskou as die laaste vesting van God se volk. Na die bou van die tempel, word dit ook die plek van aanbidding. Pelgrims het met elke groot fees in hulle duisende opgetrek na Jerusalem om te kom feesvier. Maar dit is ook in Jerusalem waar hulle aan die Here offerandes gebring het.

Inderdaad het Jerusalem ook maar slegte tye beleef. Selfs al was die stad bekend as ‘n vesting van formaat, het dit nie elke keer die vyand gestuit nie, en was dit per geleentheid verwoes sodat selfs die indrukwekkende mure met die grond gelykgemaak was. Maar die mure was herbou na die ballingskap, en Jerusalem was weer in ere herstel.

Jerusalem het egter ook deur die jare ‘n slegte reputasie opgebou. Dikwels was die Here verwerp en was ander gode aanbid. Daarom huil Jesus: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en dié stenig wat na jou gestuur is!”

Op verskeie plekke in die Ou Testament lees ons van profete wat die Woord van God verkondig het, en wat verwerp en selfs doodgemaak was oor die boodskap wat hulle moes bring. Selfs die groot profeet Elia moes uit Jerusalem vlug vir sy lewe. Ná Pinkster sou dit selfs nog baie erger raak, en gelowiges moes vlug vir hulle lewens.

Soos ‘n hartseer ouer wat met sy kinders praat, kom Jesus en verwyt die stad. Hy wou so graag dat hulle by Hom skuil, maar hulle wou nie. Daar het ‘n bitter swaar straf op die stad gewag, maar daar was steeds tyd en geleentheid vir bekering. Sy genade is só geweldig groot, dat Hy hulle steeds uitgenooi het ten spyte van al hulle misdade teen Hom. Maar hulle moes weet dat die tyd van afrekening nou baie naby gekom het!

Inderdaad het genadetyd uitgeloop! ‘n Skamele veertig jaar later was die kroon van die volk, die tempel met die grond gelykgemaak. Om hierdie bitter pil erger te maak, was ‘n Moslem moskee gebou op die plek van die Jode se aanbidding, ‘n moskee wat tot vandag toe steeds daar staan as monument van die Jode se verwerping van die Messias.

Ten spyte van alles, reik die Here vandag nog steeds Sy hand van genade uit. Die blye nuus is dat talle Jode vandag tot bekering kom en die Waarheid begin raaksien. Ons durf nooit ophou bid vir die gevalle volk van God nie. Hulle het Jesus nét so nodig soos ons.

Gebed:

Dankie Here, vir U groot genade - dat U selfs vir my gered het en die ewige lewe gegee het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026
Om Kinders Groot te Maak
17 August, 2026