Jakob trek na Egipte

31 January, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jakob trek na Egipte

Genesis 46

VIDEO * OUDIO

Jakob (oftewel Israel) is so opgewonde soos ‘n klein seuntjie op pad Margate toe. “Josef leef!” Hy kan net nie ophou dans en sing nie. “My seun, Josef leef sowaar. En hy heers oor die hele Egipte! Hoe is dit óóit moontlik?”

Na die traumatiese herontmoeting van Josef en sy broers, word hulle teruggestuur na Jakob om hom die nuus mee te deel dat Josef leef. Oor en oor moet hulle aan hom verduidelik van Josef en sy drome, en hoe hy die Farao se droom uitgelê het. “En vertel my weer ’n slag van daardie lelike poets wat Josef julle gebak het.” En hulle moet vertel van hoe hulle laag voor Josef moes buig, en van sy strak gesig wat absoluut niks verraai het nie. En dan kraai die ou man van die lag, en die trane loop oor sy wange van pure lekkerkry. “Hy het julle darem lekker gevang né?” En dan onthou Jakob van die drome wat Josef gehad het voor hy verdwyn het, en die ander een toe die son, maan en sterre voor hom moes buig. “Nou maak alles sin!” besef Jakob. “God het twintig jaar gelede al vir Josef laat verstaan dat almal, selfs sy eie familie voor hom sou buig! Nou word alles duidelik!”

Op Jakob se werf is daar ‘n baie groot gewerskaf, want hulle moes gereedmaak vir die gróót trek na Egipte, waar hulle vir die volgende vyf jaar gaan bly totdat die droogte verby is. Min het hulle egter geweet dat daardie vyf jaar uiteindelik ‘n volle vierhonderd jaar sou word!

Om Jakob en sy gesinnetjie te laat trek, is nou nie juis ‘n geringe takie nie. Sy kinders en kleinkinders en díé se kinders tel al ‘n volle sewentig, en dan is daar nog al hulle vrouens en ‘n magdom slawe. As almal bymekaar getel word, is daar ‘n paar honderd van hulle. Maar dis ook nie waar die logistieke probleme ophou nie, want hulle veekuddes loop die hele Kanaän vol. Daar is letterlik derduisende skape, bokke en beeste, nou wel almal uitgeteer van die droogte, maar hulle is steeds daar.

Dan, een nag gebeur die wonderlike weer met Jakob: In ‘n visioen kom die Here na hom: “Ek is God, die God van jou vader. Moenie bang wees om af te trek na Egipte nie, want Ek sal daar van jou 'n groot nasie maak. Ek self sal saam met jou aftrek na Egipte.” Nou weet Jakob dat hy die Here se wil doen, en nou kan hy met ‘n geruste hart vertrek. Min het Jakob geweet hoe geweldig waar die Here se woord daardie nag aan hom was. Die Here het belowe om Jakob ‘n groot nasie te maak in Egipte. Jakob se sewentig nasate sou aangroei tot meer as drie miljoen mense teen die tyd dat hulle uiteindelik weer Egipte sou verlaat.

Jakob was sy hele lewe lank gewoond om te voet te gaan waar hy wou kom. Maar hierdie slag ry hulle in styl. Josef het spesiaal gereël dat daar waens gestuur word om die vrouens en kinders te vervoer. Juda word vooruit gestuur om Josef te laat weet dat die groot trek begin het. Jakob is op pad! Wanneer Josef hierdie boodskap kry, besluit hy dat sy pa darem ‘n bietjie beter behandel moet word as om op ‘n gewone ou wa te ry. “Span my persoonlike wa in!” Nou word daar nie in die Bybel vir ons vertel hoe sy wa gelyk het nie, maar ek kan myself voorstel dat die tweede in bevel in Egipte darem ‘n baie grênd wa moes gehad het. Dit moes ten minste ‘n Rolls Royce gewees het, met lugreëling en sagte sitplekke en al die luukshede wat ‘n koninklike sou betaam!

As Josef se blink wa voor Jakob se tent stilhou, kan Jakob dit eers nie glo nie. Almal vergaap hulle aan al die blink en goud en luukse. Dan tree Josef te voorskyn. Die klomp snak na hulle asems: ’n Egiptiese prins! Hy hardloop na sy pa toe en omhels hom. En die trane loop, want die blydskap is baie, baie groot. Vir twintig jaar was sy liefling-seun dood, en hier staan hy nou in lewende lywe voor hom. “Nou is ek tevrede,” snik Jakob, “nou kan ek maar sterf, my seun is terug.”

En so vertrek Jakob en sy gevolg na Egipte. Jakob ry saam met Josef in sy luukse wa, en vir die eerste keer in sy lang, lang lewe sak hy weg in die donsige kussings van ‘n koninklike wa. “God is goed,” jubel dit in hom. “God is groot, en Hy is genadig en almagtig!”

Alles het nou ‘n volle sirkel gekom - wel byna! Abraham se nasaat was ‘n groot en magtige heerser. Sy nageslag was besig om met astronomiese getalle te groei. Sy kleinseun was skatryk. Daar was nog net een ding wat moes gebeur: Sy nageslag moes die land Kanaän in besit neem. Maar daarvoor sou hulle nog vierhonderd jaar moes wag, want hier in Egipte moes hierdie gesin eers groei tot ‘n groot volk. En hier kry hulle uiteindelik die groot leier, Moses wat hulle moes lei om die beloofde land in besit te neem namens God.

Regdeur die boek Genesis sien ons God se groot genade, selfs wanneer mense dikwels struikel. Na Genesis breek ‘n splinternuwe era aan. Sou God se genade steeds hou?

Gebed:

Here, hierdie wonderlike verhaal van Abraham, Isak en Jakob het my net weereens verryk. Dankie dat U Woord elke keer so vars en nuut is wanneer ek dit lees, en elke keer tot my hart spreek, selfs deur die ou verhale. En dankie dat ek U groot genade regdeur dit alles sien!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026