Is Sakramente Genoeg?

5 August, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Is Sakramente Genoeg?

1 Korintiërs 10:1-10

Sommige van die Korintiërs was onder die indruk dat sekere simboliese handelinge hulle sou red. Vandag is daar steeds mense wat glo dat dit die geval is. So het hulle byvoorbeeld geglo dat as jy gedoop is en die nagmaal gebruik, dan is alles reg. Paulus het ‘n groot verrassing vir hulle gehad: Inderdaad is hierdie baie belangrike simbole of sakramente wat ons nooit durf ignoreer nie, maar hulle kan nie vir jou redding bring nie! Paulus wil hierdie gedagte baie duidelik in hulle gedagtes inskerp, daarom gebruik hy ‘n voorbeeld uit die Ou Testament wat almal baie goed ken: die Israeliete se uittog uit Egipte.

Nadat die Here die Farao op sy seerste plek getref het, gee hy die bevel dat Israel maar kon trek. Vir hóm het hulle net moeilikheid beteken, en as hy van die gebroedsel kon ontslae raak, sou hy dalk ‘n gelukkiger man wees. Moses laat nie gras onder sy voete groei nie, en binne rekordtyd val ‘n paar miljoen mense in die pad (nie almal stem met die getalle saam nie). Dit moes ‘n logistieke omvang gehad het wat enige generaal nagmerries sou laat kry. Maar toe die Farao die groot stofwolk so agterna kyk, begin hy weer mooi dink, en hy begin besef dat hy eintlik met ‘n slap riem gevang is. Hy was woedend, en toe sit hy die Israeliete agterna in die strydwaens van sy gedugte weermag.

Vir hierdie brose volkie wat maar enkele dae oud was, was dit baie slegte nuus! Hulle was géénsins opgewasse om hulleself teen énige vyand te verdedig nie. Hulle het sékerlik geen wapens gehad nie. Hulle was waarlik 'n sagte teiken!

Maar die Here het ander planne gehad. Hy het vir die volk die rigting aangedui wat hulle moes trek deur bedags ‘n wolkmassa voor hulle te laat uitgaan. En snags was daar ‘n groot vuurbal in die lug voor hulle. Ek kan my voorstel hoe dit moes lyk - ‘n asemrowende gesig! Wat meer is: God was persoonlik in hierdie wolkkolom en vuurbal teenwoordig. In Eksodus 14:19, asook verskeie ander gedeeltes word daar gepraat van die Engel van God wat in die wolk- en vuurkolom was. Die Engel verwys na die tweede Persoon van die Goddelike Drie-eenheid, die Seun, Jesus.

Toe Farao se magte skielik agter die volk opduik, kerm hierdie mense van angs. Toe kom die Here se volgende groot wonderwerk: Hy laat die wolkmassa inskuif tussen die Israeliete (wat op hierdie stadium soos rotte teen die Rietsee vasgekeer was) en die Egiptenare. Al wat die Farao se soldate kon sien, was die ondeurdringbare, pikswart wolk-gordyn voor hulle. Aan die Israeliete se kant was die wolk egter helder verlig, en word die verhoog geskep vir nóg ‘n asemrowende wonderwerk. Moses kalmeer die histeriese mense, en dan strek hy sy hand uit oor die see volgens die Here se bevel. Skielik steek daar ‘n oostewind op wat die berugte Kaap se Sed’oos na ‘n vulletjie laat lyk. Voor die verbaasde Israeliete se ongelowige oë maak daar ‘n wye pad oop deur die see, sodat hulle droogvoets deur kan gaan. Die res - van hoe die Here die Egiptenare verwar het, en hoedat die hele lot versuip het toe hulle die Israeliete deur die see wou agtervolg, is geskiedenis.

Vir die Israeliete was hierdie ‘n ongelooflike ervaring. Hulle het begin besef dat die Here waarlik God is. Maar die geskiedenis het ons ook geleer hoe gou hulle al hierdie dinge, asook die talle ander wonderwerke daarna, sou vergeet en die Here verwerp. Ons weet ook dat bitter min van hierdie mense ooit die Beloofde Land gesien het, juis oor hulle ongeloof.

Paulus verduidelik nou vir die Korintiërs dat die Israeliete absoluut alles gehad het om hulle aan God te herinner, maar dat hulle een ding kortgekom het: geloof! Hulle het God uitgetart met hulle afgodsdiens. Die eerste het alreeds gebeur, slegs enkele weke na die uittog, terwyl die Here besig was om vir Moses die wet te gee op die berg Sinai. Die volk het rondom ‘n goue kalf gedans aan die voet van die berg!

Paulus verduidelik dat selfs ons mooiste rituele, handelinge en sakramente ons nooit in die hemel kan bring nie. Slegs geloof in Jesus Christus kan dit vir ons doen.

Hy waarsku verder, dat ‘n gelowige nie maar kan lewe soos hy wil nie. Baie van die Israeliete het wél geglo nadat hulle die wonderwerke gesien het, maar later het hulle God uitgetart met afgodery, onsedelikheid (letterlik rondslapery), gedurige gemor en gekla en nog baie ander dinge.

Die vraag is: hoe moet ek my geloof uitleef? Is daar dalk ‘n gedurige ongelukkigheid oor hoe God my sake hanteer? Is daar moontlik ‘n afgodjie in my lewe, iets wat vir my belangriker is as God? Dalk sport, dobbel, drank of vriende? Of is daar dalk ‘n onsedelikheid wat my van Hom af wegdryf? Pasop dat jy nie dalk jou “kaartjie” hemel toe verloor nie!

Draai terug na God! Voordat dit dalk soos vir die Israeliete van ouds hééltemal te laat is!

Gebed:

Here, ek wil vanoggend my sondes voor U voete lê. Vergewe my, en help my om U voluit te aanbid.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Die Ark is Terug
24 August, 2026
‘n Warm Patat
21 August, 2026
Die Ark is Gebuit!
20 August, 2026
Luister en Doen
19 August, 2026
Wanneer die Here Praat
18 August, 2026